Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Ken jou regte: Verpligte verlof oor Desember
Deur Robin-Lee Maré
Die Desembervakansie kom al hoe nader, en jy het reeds die deposito betaal vir ʼn pragtige woonstel met ʼn see-uitsig in Mosselbaai vir twee weke. Jou tasse is reeds gepak en jy is gereed om te gaan, toe jou bestuurder laat weet dat jy slegs ses dae se beskikbare verlof in Desember oor het, al sluit die organisasie vir drie weke. Wat nou gemaak?
In Suid-Afrika kan die vraag oor verpligte verlof in Desember afhang van verskeie faktore, soos die bedryf, werkplekbeleid en spesifieke werksooreenkomste. Hier is hoe dit gewoonlik werk:
Werkgewer se diskresie en beleide: Werkgewers kan vereis dat werknemers gedurende Desember verlof neem, veral as die werkplek vir die feestyd gesluit word. Dit is egter gewoonlik in die werknemer se dienskontrak of die werkplek se verlofbeleid uiteengesit.
Kollektiewe ooreenkomste: In sekere sektore (bv. die konstruksiebedryf) kan daar kollektiewe ooreenkomste wees wat bepaal dat werknemers verpligte verlof moet neem gedurende spesifieke tye van die jaar, insluitend Desember. Dit sal dan ook in ooreenstemming wees met die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (BCEA).
Wet op Basiese Diensvoorwaardes (BCEA): Die BCEA bepaal dat werknemers jaarlikse verlof moet kry, maar werkgewers word toegelaat om saam met werknemers te beplan wanneer hierdie verlof geneem kan word. Ingevolge die wet moet die werkgewer en werknemer ooreenkom oor die datums. Indien die werkplek toemaak, kan die werkgewer daarop aandring dat die werknemer verlof neem, mits dit in ooreenstemming met die werkplek se beleid en wetlike vereistes is.
Verlofbalans en uitbetalings: Werknemers moet voldoende verlofdae beskikbaar hê vir die tydperk wat hulle verlof moet neem. As werknemers nie genoeg dae oor het nie, mag dit aftrekkings uit hul salaris beteken, of hulle kan versoek om onbetaalde verlof te neem, afhangend van die werkgewer se beleid.
As jy nie genoeg verlofdae beskikbaar het vir Desember nie, is dit ʼn goeie idee om met jou baas te praat oor ʼn moontlike kompromie wat beide jou en die organisasie se belange dien. Dit kan dalk beteken dat julle ʼn ooreenkoms oor gedeeltelike verlof of selfs ʼn reëling oor onbetaalde verlof tref.
Indien jy steeds onseker is oor jou regte in die werkplek, staan Solidariteit gereed om jou te ondersteun. Solidariteit hanteer jaarliks derduisende arbeidsregtelike sake.
Jy hóéf nie jou loopbaanreis alleen aan te pak nie.
As lid kan jy gratis op ons kundigheid staatmaak om jou te adviseer oor die toepaslike wetlike vereistes en reëls rakende verpligte verlof sodat jy met selfvertroue jou vakansieplanne kan aanpak.
Klik hier om ʼn Solidariteit-lid te word.