
Foto Krediet: Michelle Leman
Gekopieër
Ken jy die gevaartekens van borskanker?
Deur Maryna Eksteen
Almal van ons ken iemand of weet van iemand in ons binnekring wat borskanker gekry het. Naas melanoomkanker is borskanker die tweede mees algemene kanker wat by vroue voorkom. Mans kan ook borskanker kry, maar die kanse is ongeveer 100 keer minder as in die geval van vroue.
Volgens Die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) loop een uit elke 27 vroue die risiko om borskanker te kry. ʼn Verdere studie van Kansa toon dat ongeveer 19,4 miljoen vroue van 15 jaar en ouer die risiko loop om met borskanker gediagnoseer te word. In 2013 het sterftes as gevolg van borskanker en kankers van die vroulike geslagsorganeonderskeidelik 0,7% en 1% van alle sterftes in Suid-Afrika uitgemaak.
Gevaartekens van kanker
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sal die meeste mense geen simptome ervaar wanneer kanker nog in sy vroeë stadiums is nie, wat die kritieke noodsaaklikheid van vroeë opsporing beklemtoon. Borskanker kan met verskeie simptome gepaardgaan, veral namate dit vorder. Potensiële simptome van borskanker sluit in:
- ʼn borsknop of verdikking, dikwels sonder pyn
- verandering in grootte, vorm of voorkoms van die bors
- kuiltjies, rooiheid, pitting of ander veranderinge in die vel
- verandering in die voorkoms van die tepels of die vel rondom die tepel (areola)
- abnormale of bloederige vloeistof uit die tepel
Die organiseerders van die Doktersnetwerk het by dr. Alwyn Carstens gaan inloer om ʼn bietjie meer inligting rondom borskanker te kry.
In dokter Carstens se boek Beauty and the Breast maak hy melding van die verskillende wyses waarop borskanker in vroue behandel kan word. Volgens hom was ʼn mastektomie in die verlede die enigste manier om borskanker te te behandel. Met die mediese professie wat deesdae so gevorderd is, kan pasiënte gerus voel dat daar deesdae opsies soos chemoterapie en bestraling beskikbaar is.
Dr. Carstens noem verder in sy boek dat net ongeveer 4% van borskankergevalle geneties is, terwyl 96% deur ander risikofaktore veroorsaak word. Alhoewel borskanker nie voorkom kan word nie kan die risiko daarvan bestuur word. ʼn Gesonde leefstyl kan help om die risiko van borskanker te verlaag.
Verlaag die risiko van borskanker
Hier volg so ʼn paar van dr. Carstens se wenke om die risiko van borskanker te verlaag:
- Eet meestal plantgebaseerde kosse.
- Beperk jou inname van proteïene wat van diere afkomstig is.
- Beperk of vermy alkohol.
- Sny rook heeltemal uit.
Indien jy meer oor die Solidariteit Doktersnetwerk, Verpleegnetwerk of Aptekersnetwerk wil lees, klik hier of sluit vandag nog by Solidariteit aan. #RaakTuis by Solidariteit waar jy jou volle potensiaal in Afrikaans kan bereik.