loading
avatar
Artikels
2 dae gelede
ki-gaan-nie-jou-werk-oorneem-nie-maar-iemand-wat-ki-gebruik-dalk-wel

Foto Krediet: Pexels

KI gaan nie jou werk oorneem nie, maar iemand wat KI gebruik dalk wel

Deur Reon Janse van Rensburg

Die grootste bedreiging vir jou loopbaan is waarskynlik nie kunsmatige intelligensie (KI) nie. Dit is die dag waarop jy besluit jy is volleerd en dat nuwe vaardighede nie meer van nut is nie.

Die debat oor KI word dikwels as ʼn keuse tussen twee uiterstes gevoer: óf tegnologie miljoene mense sonder werk gaan laat, en óf dit min dinge gaan verander.

Werk verdwyn nie – dit verander

Die jongste internasionale navorsing toon egter dat die waarheid veel meer genuanseerd is. Volgens die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) se Future of Jobs Report 2025 gaan sowat 22% van alle poste teen 2030 verander, terwyl ongeveer 92 miljoen poste wêreldwyd kan verdwyn. Daar word egter verwag dat 170 miljoen nuwe poste geskep sal word, wat ʼn netto groei van 78 miljoen werksgeleenthede tot gevolg sal hê. Die boodskap is duidelik: werk verdwyn nie, maar werk en loopbane is wel besig om te verander.

Die werklike uitdaging lê egter elders. Werkgewers verwag dat 39% van werknemers se kernvaardighede binne die volgende vyf jaar gaan verander, terwyl byna twee derdes van ondernemings reeds vaardigheidstekorte as hul grootste struikelblok identifiseer.

Dit is presies waarom die vraag nie is of KI jou werk gaan vervang nie, maar eerder of jy bereid is om saam met die tegnologie wat vandag beskikbaar is te ontwikkel.

Mense wat aanhou leer, bly ʼn stap voor die res

Die LinkedIn Workplace Learning Report 2025 bevestig dieselfde tendens. Organisasies wat in voortgesette leer en ontwikkeling belê, is beter toegerus om verandering te bestuur, talent te behou en nuwe tegnologie suksesvol te implementeer. In ʼn arbeidsmark waar verandering die nuwe normaal geword het, is aanpasbaarheid nie meer ʼn bonus nie – dit is ʼn noodsaaklike deel van jou beroepsgereedskap.

Hoe slimmer KI raak, hoe belangriker word menslike vaardighede. ʼn Rekenaar kan data ontleed, verslae opsom en roetinewerk binne sekondes afhandel. Dit kan egter nie vertroue bou, met empatie lei, verantwoordelikheid neem vir moeilike besluite of kreatiewe oplossings vir komplekse probleme ontwikkel nie. Juis daarom bly kritiese denke, kommunikasie, probleemoplossing en kreatiwiteit van die waardevolste vaardighede in die moderne werkplek.

Vir Suid-Afrikaanse werknemers is die boodskap eenvoudig: werksekerheid gaan al hoe minder afhang van wat jy reeds weet en al hoe meer van wat jy bereid is om volgende te leer.

Berei vandag reeds voor vir môre

Solidariteit help lede om juis daarvoor voor te berei. Die kursus “Kunsmatige intelligensie in die werkplek” op Solidariteit-aanlyn sal jou help omʼn beter begrip te hê van wat KI is en hoe dit reeds jou werksomgewing beïnvloed. Dit sal jou ook toerus om hierdie kennis strategies en verantwoordelik in jou daaglikse werk in te span.

Danksy meer as150 aanlyn kursusse help Solidariteit jou om aan die voorpunt van jou loopbaan te bly. Werknemers kry die geleentheid om hul vaardighede op te skerp en tegnologie verantwoordelik tot hul voordeel te gebruik en só ʼn toekoms te verseker waar jy nie net probeer bybly nie, maar werklik uitblink.

Hierdie kursusse is gratis beskikbaar vir Solidariteit-lede. Nielede kan ook daarvoor inskryf en die kursusse teen ʼn fooi voltooi.

Verseker jou eie loopbaansukses

KI gaan waarskynlik nie jou werk oorneem nie, maar werknemers wat aanhou leer, gaan byna altyd ʼn voorsprong hê bo dié wat dink hulle weet reeds genoeg.

Voortgesette leer is dus een van die beste beleggings wat jy in jou loopbaan kan maak. Dit help jou om nuwe tegnologie met selfvertroue te gebruik, jou vaardighede voortdurend te versterk en relevant te bly in ʼn vinnig veranderende arbeidsmark.

Skep vandag nog jou gratis profiel op Solidariteit-aanlyn en kry toegang tot kursusse wat jou help om nie net by te bly nie, maar werklik in jou loopbaan uit te blink.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel