loading
Artikels
4 maande gelede
ki-se-impak-op-werkskepping-en-vernietiging

Foto Krediet: OkayDeer

KI se impak op werkskepping en -vernietiging

Deur René Brown

Kunsmatige intelligensie (KI) het in ʼn mate ʼn term geword wat met angs belaai is. Dit beskik oor die vermoë om alles te doen wat mense kan doen en in sommige areas kan dit selfs beter as mense vaar.

Alhoewel dit sommige arbeid wat deur mense uitgevoer word kan uitskakel as gevolg van outomatisering wat deur KI moontlik gemaak word, is dit hoogs onwaarskynlik dat dit mense totaal irrelevant gaan laat in die werkplek. Volgens Forbes, gaan KI nie die einde van werk vir mense beteken nie, maar slegs beteken dat die werkmag van die toekoms ʼn nuwe stel vaardighede nodig sal hê om te floreer.

Die Wêreld Ekonomiese Forum het in 2020 bekend gemaak dat daar wel ʼn potensiaal is dat 85 miljoen werke teen 2025 deur KI vervang kan word, maar voordat jy in ʼn koue sweet uitslaan, is daar goeie nuus ook. Daar word terselfdertyd verwag dat KI soveel as 97 miljoen nuwe werke kan skep. Daar is ʼn stygende aanvraag na kundiges in die veld van KI. Na aanleiding van ʼn verslag deur LinkedIn in 2020, was daar ʼn jaarlikse styging van 74% in posplasings vir rolle soos datawetenskaplikes, masjienleer-ingenieurs en KI-navorsers.

Outomatisering wat herhalende- en roetine werk vir mense uitskakel, moet beskou word as ʼn positiewe verwikkeling. Dit stel meer tyd vry vir mense om te fokus op strategie, innovasie, leierskap en probleemoplossing. Dus sal daar altyd ʼn onvervangbare menslike faktor ter sprake wees in hierdie komplekse intellektuele take. Volgens Forbes bly menslike interaksie en persoonlike kliëntediens ʼn kritiese aspek in baie industrieë. Mense sal altyd nodig wees om persoonlike diens te verskaf en komplekse situasies te hanteer wat intuïsie en empatie verg.

Leierskap van organisasies het ʼn groot verantwoordelikheid om te bepaal en antisipeer hoe KI hulle industrie gaan beïnvloed, en hoe mededingers dit gaan implementeer. Hulle moet daarvolgens verseker dat werknemers oor die vaardighede beskik wat nodig is vir die toekoms. Die organisasies wat nie hierdie voorbereiding tref nie, gaan agtergelaat word in die era van KI.

Harvard Business Review beskryf hierdie aanpassing en opbou van vaardighede in KI as ʼn ‘strategiese noodsaaklikheid’. Leiers behoort veral fokus te plaas op vaardighede in Generatiewe Kunsmatige Intelligensie, wat die vermoë het om inhoud te skep en te genereer. Hierdie vorm van KI maak dit moontlik om arbeidsintensiewe take te vergemaklik en te verbeter, aangesien dit onder andere visuele-, klank- en tekstuele- inhoud kan skep.

Ons kan dus tot die gevolgtrekking kom dat dit nie KI as sulks is wat die potensiaal het om werkvernietiging te veroorsaak nie, maar eerder ʼn gebrek aan KI-vaardighede wat daardie uitwerking kan hê. Nóú is die tyd vir leierskap van organisasies en werknemers om hulself toe te rus met die vaardighede wat nodig gaan wees om te floreer in die era van kunsmatige intelligensie.

Bly op hoogte van die jongste tendense en nuusgebeure binne jou beroep en hoe KI jou kan help om in jou beroep uit te blink. Skakel in by jou Solidariteit-beroepsnetwerk en word bemagtig in ons vinnig-veranderende wêreld van tegnologie. Sluit vandag nog aan by Solidariteit en raak deel van jou grootste aanlyn werkgemeenskap.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel