Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Solidariteit se gratis hulpmiddels versterk jou werksoekreis
Deur Kyla-Ann du Toit
Werksoek kan maklik ʼn mens moedeloos laat voel, veral wanneer jy nie weet waar om te begin nie of as jou pogings telkens in ʼn doodloopstraat opeindig. Jy hoef egter nie alleen te voel nie! Solidariteit bied vir jou ʼn volledige stel gratis hulpmiddels aan wat jou sal help om nie net jou CV te verbeter nie, maar ook om met selfvertroue aansoek te doen en onderhoude aan te pak.
Ons doel is eenvoudig: om jou as werksoeker te bemagtig met die regte gereedskap, sodat jy sterker, slimmer en meer suksesvol aansoek kan doen vir geleenthede wat by jou pas en om ʼn suksesvolle loopbaan te verseker.
Bou ʼn wen-CV en berei voor vir jou volgende onderhoud
Danksy Solidariteit se CV-gids sal jy leer hoe om jou sterkpunte korrek en professioneel in jou CV uit te lig. Die gids help jou om te verstaan hoe werkgewers CV’s lees, watter struktuur die beste werk en watter foute om te vermy. Jy sal ook leer hoe om jou ondervinding en vaardighede op ʼn manier aan te bied wat jou onmiddellik bo ander kandidate sal laat uitstaan.
Die Onderhoudgids is net so nuttig. Dit berei jou voor vir die mees algemene onderhoudvrae, gee vir jou wenke oor hoe om professioneel in ʼn onderhoud oor te kom en help jou om jou antwoorde met selfvertroue te formuleer.
Alles op een plek en alles gratis
Solidariteit se werkfasiliteringsplatform is ʼn waardevolle hulpmiddel wat daagliks met nuwe werksgeleenthede opgedateer word. Jy kan poste filter volgens ligging, sektor en tipe werk, en dan direk en sonder enige bykomende koste daarvoor aansoek doen.
Elke funksie op hierdie platform is heeltemal gratis vir werksoekers. Of jy nou ʼn vakleerling, ʼn gekwalifiseerde ambagsman of ʼn administratiewe werker is; daar is ʼn pos vir almal.
ʼn Gemeenskap wat saamstaan
Benewens die platform en gidse is daar ook aktiewe WhatsApp- en Facebook-groepe waar werksoekers met mekaar kan netwerk, vrae kan vra en eerste kan hoor van nuwe poste. Op hierdie groepe word daar daagliks wenke, motiveringsvideo’s en artikels gedeel wat jou goed toerus en bemoedig vir die werksoekproses. Jy stap nie hierdie pad alleen nie! Daar is ander soos jy – ʼn hele gemeenskap wat saam met jou staan.
Om voordeel te trek uit hierdie volledige pakket, hoef jy net ʼn gratis profiel op Solidariteit se werkfasiliteringsplatform te skep. Sodra jy geregistreer is, het jy toegang tot al hierdie hulpbronne – sonder enige kostes of ingewikkelde prosesse.
Of jy nou pas begin werk soek of al vir ʼn rukkie werkloos is, hierdie hulpbronne is ontwerp om jou kanse op sukses te verbeter. Moenie wag vir ʼn geleentheid om aan jou deur te klop nie. Met Solidariteit aan jou sy kan jy dit sommer self kry.
Registreer vandag jou gratis profiel op Solidariteit en gee jou loopbaan die hupstoot wat dit nodig het!