Foto Krediet: Facebook | Tilly Norwood
Gekopieër
Tilly Norwood – bedreig hierdie beeldskone ‘aktrise’ ander se werk?
Deur Kyla-Ann du Toit
Tilly Norwood is “perfek” in voorkoms, “onbeperk” in werkvermoë en “uiters gewild” op sosiale media. Hierdie jong brunette verskyn toenemend op internasionale skerms, en sy laat die tonge behoorlik klap.
Tilly Norwood bestaan egter nie regtig nie. Sy is nie ʼn mens nie, maar ʼn volledig digitale en sintetiese karakter wat deur kunsmatige intelligensie (KI) geskep is om die realistiese emosies, spraak en bewegings van ʼn mens na te boots.
KI steel nie nét die kollig nie
Volgens berigte is Norwood, die wêreld se eerste KI-“aktrise”, onlangs in Londen bekendgestel, en sy het binne enkele ure wêreldwye gesprekke oor die toekoms van werk in die vermaaklikheidsbedryf aangevuur.
Die Amerikaanse vakbond, SAG-AFTRA (Screen Actors Guild – American Federation of Television and Radio Artists), het reeds in ʼn onlangse verklaring teen die gebruik van hierdie KI-skepping uitgevaar.
“SAG-AFTRA glo dat kreatiwiteit mensgesentreerd is en móét bly. Tilly Norwood is nie ʼn aktrise nie. Dit is ʼn karakter wat deur ʼn rekenaarprogram en talle professionele kunstenaars gegenereer en opgelei is.”
Volgens Johan Roos, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk, is dit verstaanbaar waarom SAG-AFTRA so sterk reageer op die gebruik van KI in die vermaaklikheidsbedryf.
“Solidariteit sou presies dieselfde vraag vra: Wat gebeur as mense met werklike vaardighede en emosies deur digitale karakters vervang word?” Hy meen KI is nie ʼn vyand nie, maar ʼn hulpmiddel.
“Soos die rekenaar en die internet destyds die kunsbedryf verander het, dwing dit ons nou om kreatiwiteit en menslikheid opnuut te definieer. Vanuit ons perspektief is dit belangrik om die balans tussen beskerming en aanpassing te vind. Ons taak is om mense teen vervanging te beskerm, maar ook om hulle te bemagtig om dit as ʼn hulpmiddel te gebruik.”
Die nuwe bedreiging: ‘kreatiewe’ outomatisering
Waar KI vroeër hoofsaaklik fabrieke en administrasie geraak het, blyk dit nou ook kreatiewewerk te bedreig – juis die poste wat vir lank as “veilig” beskou is. In plaas van robotarms op monteerlyne gebruik ondernemings nou algoritmes wat stemme, gesigte en selfs storielyne kan produseer.
Hierdie KI-“akteur” vra geen betaling, siekteverlof of kontrakfooie nie en kan 24 uur per dag presteer. Vir Suid-Afrikaanse kreatiewes en werknemers in die vermaaklikheidsbedryf skep dit dus ʼn nuwe vraagstuk: Wat gebeur as jou kliënt, handelsmerk of werkgewer eerder ʼn KI-model gebruik om die werk te doen?
Roos meen egter dat geen algoritme die egtheid van die menslikheid agter ware kuns kan vervang of namaak nie. “Dit is juis daardie menslikheid wat ons by Solidariteit wil beskerm. Slegs ware kreatiewe mense sal in staat wees om KI ten volle te benut – nie as ʼn plaasvervanger vir hul talent nie, maar as ʼn uitbreiding daarvan.”
ʼn Nuwe werklandskap
Die KI-“aktrise”-voorval wys hoe vinnig die grense tussen tegnologie en arbeid vervaag.
In ʼn era waar selfs stemopnames, advertensies en video’s deur algoritmes en robotte vervaardig kan word, sal werkers se beskerming en vaardigheidsontwikkeling die bepalende faktore wees vir wie oorleef, en wie nie.
Tilly Norwood is dalk net ʼn gesig op ʼn skerm, maar sy bring ʼn belangrike gesprek na vore: Hoe lyk die werklandskap van die toekoms? Solidariteit meen dié wat hul menslikheid met tegniese insig, ʼn honger na kennis deur voortgesette leer, asook toewyding en die regte gesindheid kan kombineer, sal nie net relevant bly nie, maar noodsaaklik wees.
Dié wat wíl werk, moet kán werk, en Solidariteit veg daagliks vir sy lede om dit te kan doen.