
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Kinderhuise, weerloses hoor: “Jul is te wit vir welsyn.”
Solidariteit veroordeel die rasdreigemente van die waarnemende departementshoof van die Gautengse departement vir maatskaplike ontwikkeling, Bongani Ngomane, waar hy “té wit welsynsorganisasies” met die weerhouding van subsidies dreig.
Ngomane het hierdie uitlatings gedurende ʼn vergadering van die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling (DMO) Maandag in Johannesburg gemaak, waar verskeie welsynsorganisasies teenwoordig was.
Lede verbonde aan Solidariteit se maatskaplikewerkersnetwerk was teenwoordig by die vergadering en het hierdie diskriminerende uitlatings by navraag bevestig en Solidariteit ook van ʼn klankgreep voorsien.
Hierdie lede en ander persone verbonde aan welsynsorganisasies wat die vergadering bygewoon het, is nou diep bekommerd oor hoe die weerhouding van fondse op grond van velkleur veral weeskinders en kwesbares kan raak.
In sy spreekbeurt het Ngomane gesê sommige organisasies “bevorder die nalatenskap van apartheid omdat hulle bestuur uitsluitlik wit is, of die begunstigdes van hulle welsynswerk slegs wit is.”
Ngomane het verder gesê: “Selfs die name van sommige organisasies gee aanstoot en bevorder die nalatenskap van apartheid.” Hy was glo geskok om uit te vind dat sy departement hulle wél in die verlede gesubsidieer het.
Dít beteken volgens hom nie dat dit in die toekoms so sal wees nie.
Bianca Smit, netwerkkoördineerder van Solidariteit se maatskaplikewerkersnetwerk, sê hierdie uitlatings is skokkend, maar nie noodwendig ʼn verrassing nie.
“Tog kan ons nie stilbly terwyl ras weereens as ʼn politieke instrument gebruik word om ʼn ideologie te bevorder nie, veral nie wanneer die regering in dieselfde asem aanvoer hulle is ʼn demokratiese, nie-rassige regering nie.
“Hierdie aanspraak op nie-rassigheid is duidelik vals, want ras is klaarblyklik ál wat hulle sien. Ons praat hier van amptenare wat selfs sal toesien dat kinderhuise ten gronde gaan net om hulle rasse-agenda te bevorder en hulle eie wanbestuur te verberg,” sê Smit.
Hierdie uitlatings van hooggeplaastes kom te midde van intense gesprekke oor die welsynsubsidies in Gauteng en kommer oor regeringsfinansiering daarvan na verlede jaar se dreigemente van ʼn 66%-besnoeiing op hierdie einste subsidies.
Talle organisasies is skepties of die subsidies, soos beloof, teen 24 Mei aan hulle oorbetaal gaan word en vrees ondergang indien dit nie gebeur nie.
Dreigemente oor die rassesamestelling van die organisasies saai nou verder paniek oor die moontlikheid dat van die mees weerloses binnekort sonder ʼn heenkome gelaat kan word.
Helgard Cronjé, adjunkhoofsekretaris van die openbare bedryf by Solidariteit, het ook hierdie toedrag van sake betreur, maar sê dit behoort as ʼn wekroep vir talle welsynsorganisasies te dien.
“Dit is tyd dat organisasies besef die staat is lankal nie meer hulle vriend nie. Hulle kan eenvoudig nie meer net van die staat afhanklik wees nie en sal gou self planne moet begin maak vir alternatiewe befondsing.
“Hierdie is ʼn krisis wat ʼn lang aanloop gehad het, maar dit is nou tyd om die maatskaplike sektor meer selfstandig te maak en op die langer termyn los van die staat te kry,” sê Cronjé.
Volgens hom het die tyd vir ʼn groter krisisberaad oor welsyn nou aangebreek. Solidariteit is wel deurlopend in gesprekke met die DMO om die toestand van welsynsorg in Gauteng op die korter termyn ten goede te probeer beïnvloed.