loading
Blogs
5 maande gelede
kindertjies-hou-beroepedag-by-curro

Foto Krediet: Okay Deer

Rasseherrie by Curro só onnodig

Blog deur dr. Dirk Hermann

Party is kopers en ander is die kassier. Party is ʼn dokter of ʼn advokaat, ander is ʼn veearts en nog een ʼn tandarts. Party is wit en party is swart, maar almal is kindertjies.

Op ʼn spesifieke tydstip word ʼn foto geneem. Op daardie tydstip is die een kindjie ʼn kassier en toevallig swart, en ʼn ander een is die koper en toevallig wit. Dit is bloot die werklikheid van ʼn enkele oomblik. Op ʼn ander tydstip sal die advokaat dalk swart wees en die dokter wit. Daar sal heel moontlik nog ʼn kassier wees en hierdie keer wit. Daar is nie sprake van raskassies vir die kindertjies nie.

Geen mens sal mos dit doen nie. Geen juffrou sal ʼn kind agter ʼn kasregister sit omdat hy/sy swart is nie. Die persoon wat die plasing gemaak het, is so min rasbewus dat hy/sy dit geplaas het.

Rasbeheptes sien toe kleur. Dit is ʼn siek wêreldbeskouing wat rassisme in ʼn kleuterskoolklassie kry. Jy vra nie vir sulke mense om verskoning nie. Hulle maak van die arme kindertjies ras-objekte. Onskuldige kindertjies word gebruik vir rassepolitiek. Hierdie was nie ʼn ras-insident nie. Rasbeheptes het dit ʼn ras-insident gemaak. Dit is nie Curro, die onderwysers of die kinders wat rasstereotipering gepleeg het nie. Dit was die rasstryders op sosiale media.

Die reaksie op sosiale media was kunsmatige woede. Daar was nie ʼn groot reaksie nie.

Curro het toe om verskoning gevra. Die Departement van Onderwys het nie eers van hierdie insident geweet nie en is eers ná die Curro-verklaring daarvan bewus gemaak. Hulle skrik só dat hulle sommer self bieg. Curro is tog só jammer vir die aanstootlike stereotipering. Curro probeer om die rasstryders te bestuur deur soos ʼn hondjie om te rol en om verskoning te vra en op die mat te piepie.

My maggies, Curro, dit was nie ʼn ras-insident nie! Deur julle jammerlike houding het julle dit ʼn ras-insident gemaak waaraan julle skuldig is. Julle het die raskrokodil gevoer wat net méér rashonger raak.

Die rasstryders retireer nie as daar om verskoning gevra word nie. Daar is nie vergifnis nie. Hulle sien dit as skulderkenning en swakheid en val aan om die situasie te laat eskaleer.

Die Departement van Onderwys gaan dus verder en die grondwetlikheid van Curro se waardestelsel moet nou ondersoek word. Daar moet gekyk word of hulle menseregte en rassegelykheid verstaan. Dít is wat gebeur as jy wil paai deur ʼn verskoning en skulderkenning waaraan jy nie skuldig is nie. Die rasstryders is nie paaibaar nie.

Die departement reageer heftig, skaars twee weke nadat die Lid van die Uitvoerende Raad (LUR) vir Onderwys in Noordwes deur die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) gedwing is om vir Elana Barkhuizen om verskoning te vra ná ʼn vorige heftige rasreaksie. Sy het ook ʼn foto van ʼn spesifieke oomblik geneem. Die hof het egter in haar guns beslis en die SAMRK het gesê haar menseregte is geskend. Hulle leer niks nie en Curro rol om.

Al waarvoor daar nou gewag word, is ʼn arme onderwyseres wat net goed bedoel het, se kop wat met ʼn rasbyl afgekap word.

Moenie dit doen nie! Ons wag vir julle.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel