loading
avatar
Blogs
12 uur gelede
meer-as-net-skermtyd-hoe-help-jy-jou-tiener-om-tegnologie-beter-te-bestuur

Fotokrediet: Okay Deer

Meer as net skermtyd: Hoe help jy jou tiener om tegnologie beter te bestuur?

Deur Mari Ferreira

In ons vorige blog het ons gekyk na die verskil tussen skermtyd en skermimpak. Volgens Johan Laten, stigter van Reboot Your Resilience, gaan dit nie net oor hoeveel ure ʼn tiener op ʼn foon bestee nie, maar oor wat hulle daarop doen en hoe dit hul welstand beïnvloed. Watter praktiese stappe kan ouers en tieners neem om selfoongebruik beter te bestuur?

Die antwoord is nie noodwendig om die foon weg te neem nie. Dit gaan eerder daaroor om jong mense te help om beheer oor hul tegnologie te neem, eerder as om toe te laat dat tegnologie hul tyd en aandag beheer.

Algoritmes is ontwerp om jou aandag te hou

Verantwoordelike selfoongebruik gaan nie net oor selfdissipline nie. Moderne digitale platforms gebruik algoritmes om inhoud te kies wat waarskynlik jou aandag sal trek. Nuwe inhoud, persoonlike aanbevelings en kennisgewings maak dit maklik om aan te hou blaai, selfs wanneer jy aanvanklik net vir ʼn paar minute wou kyk.

Klein verstellings aan ʼn foon kan daarom help om onnodige afleiding te verminder:

  • Skakel onnodige kennisgewings af.
  • Gebruik die “Moenie steur nie”-modus wanneer jy gaan slaap of huiswerk doen.
  • Verwyder toepassings wat maklik jou aandag trek van die tuisskerm.
  • Sit die foon weg wanneer jy doelbewus op iets anders wil fokus.

Die doel is nie om tegnologie te vermy nie, maar om meer bewuste besluite te neem oor waarop jy jou aandag vestig.

Leer om inhoud te bevraagteken

Sosiale media wys dikwels net ʼn klein gedeelte van iemand se lewe. Tog vergelyk tieners maklik hul gewone dag met iemand anders se beste oomblikke.

Help jou tiener daarom om vrae te vra soos:“Wys hierdie plasing die hele prentjie?”of“Hoe laat hierdie inhoud my oor myself voel?”

Wanneer sekere inhoud ʼn tiener herhaaldelik minderwaardig, angstig of ongelukkig laat voel, is dit ʼn goeie geleentheid om daaroor te praat. Die oplossing kan so eenvoudig wees soos om op te hou om ʼn rekening te volg, sekere inhoud te vermy of minder tyd op ʼn spesifieke platform deur te bring. Die belangrikste is nie net om vir tieners te sê wat om te vermy nie, maar om hulle te leer hoe om self te herken wat nie goed vir hulle is nie.

Slaap is nie onderhandelbaar nie

Slaap is een van die eerste dinge wat aandag verdien wanneer ons oor skermgebruik praat. As ʼn foon tot laat in die aand gebruik word, kan dit maklik ʼn tiener se slaaproetine ontwrig. Oorweeg daarom eerder ʼn roetine vir wanneer skerms afgeskakel word, in plaas van bloot ʼn “jy mag nie”-reël. Die selfoon kan byvoorbeeld buite bereik laai en onnodige kennisgewings kan saans afgeskakel word. Die doel is eenvoudig: die selfoon moet nie bepaal hoeveel slaap ʼn tiener kry nie.

Kyk na die groter prentjie

Skermtyd bestaan nie in isolasie nie. Dit is deel van ʼn tiener se hele week.

Kyk saam naslaap, skool, huiswerk, skermtyd, fisieke aktiwiteite, vriende, familie en ontspanning.

Vra dan:

  • • Waaraan bestee ek tans die meeste tyd?
  • • Wat kry die minste aandag?
  • • Watter een verandering kan ek volgende week maak?

Moenie probeer om alles tegelyk te verander nie. Een klein verandering wat volgehou word, is dikwels meer waardevol as tien nuwe reëls wat ná ʼn week vergeet word.

Ouers hoef nie alles te beheer nie

Dit is maklik vir ʼn gesprek oor selfone om in ʼn konfrontasie te ontaard.

“Sit jou foon neer.”

“Hoe lank was jy nou alweer op TikTok?”

“Jy is heeltyd op daardie ding!”

Voordat jy die foon wegneem, probeer om eers belangstelling te toon. Vra eerder:

  • • “Waarna kyk jy?”
  • • “Hoekom hou jy van hierdie platform?”
  • • “Wat maak jy gewoonlik wanneer jy daar is?”
  • • “Hoe laat dit jou voel?”

Oop gesprekke gee ouers ʼn kans om hul tiener se digitale wêreld beter te verstaan – en gee tieners die geleentheid om te leer om hul eie gedrag en keuses te ondersoek.

Die uiteindelike doel is nie perfekte skermtyd nie; dit is selfbeheersing. Tegnologie gaan deel wees van jong mense se wêreld. Ons taak is nie om hulle daarvan weg te hou nie, maar om hulle toe te rus om dit verantwoordelik, bewustelik en tot hul eie voordeel te gebruik.

Meer as ʼn gesprek oor selfone

Solidariteit se Skoliere-aanbod glo jong mense het meer nodig as net antwoorde. Hulle het die selfkennis, vaardighede en selfvertroue nodig om goeie besluite te kan neem.

Daarom fokus Solidariteit se Skoliere-aanbod nie net op vakkeuses en loopbaanontwikkeling nie, maar ook op leierskapsontwikkeling, My Hoërskoolpad, My Boublokke en soveel meer.

Want of dit nou gaan oor ʼn selfoon, ʼn vakkeuse, ʼn studierigting of ʼn toekomstige loopbaan – die groter doel bly dieselfde: Om jong mense toe te rus om vandag se keuses met groter selfvertroue te maak, sodat hulle die wêreld van môre met groter sekerheid kan betree.


Mari Ferreira is die netwerkorganiseerder van Solidariteit se Skoliere-aanbod.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel