Fotokrediet: Okay Deer
Gekopieër
Skermtyd vs. skermimpak: Wat gebeur eintlik op jou tiener se foon?
Deur Mari Ferreira
“Hoeveel ure was jy vandag op jou foon?”
Dit is ʼn vraag wat baie ouers gereeld vra. Maar sê die aantal ure werklik vir ons wat aangaan?
Selfoon- en skermgebruik is ʼn werklikheid in elke tiener se wêreld en dikwels ook ʼn bron van spanning tussen ouers en tieners. Miskien moet ons daarom nie net vra hoeveel tyd ʼn tiener voor ʼn skerm deurbring nie, maar ook wat hulle daar doen en hoe dit hulle beïnvloed.
Solidariteit se Skoliere-aanbod glo daarin om jong mense toe te rus om ingeligte en verantwoordelike besluite te neem. Daarom het ek met Johan Laten, stigter van Reboot Your Resilience, gesels oor die belangrike onderskeid tussen skermtyd en skermimpak. Johan se fokus op veerkragtigheid en gesonde digitale gewoontes bied ʼn waardevolle perspektief op tieners se verhouding met tegnologie.
Dit gaan oor meer as ure
ʼn Tiener kan twee ure lank op ʼn foon wees en iets leer, met ʼn vriend gesels, musiek luister of ontspan. Vir ʼn ander tiener kan dieselfde twee ure egter lei tot vergelyking, negatiewe opmerkings, sosiale druk en eindelose blaai deur inhoud.
Skermtyd vertel dus nie die hele verhaal nie.
Vra eerder:
Waarvoor gebruik jy jou selfoon die meeste?
Wat daarvan is vir jou nuttig of geniet jy die meeste?
Is daar enige inhoud wat jou ná die tyd slegter laat voel?
Die belangrikste is om saam met jou tiener te begin besef watter impak hul digitale wêreld op hul welstand het.
Oorweeg die impak
Kyk saam met jou tiener na die groter prentjie. Is daar steeds genoeg tyd vir slaap, skoolwerk, familie, vriende, fisieke aktiwiteite en ontspanning? Of begin die foon tyd en aandag wegneem van dinge wat werklik saak maak?
Dit gaan ook oor selfbeheersing. Kan jou tiener die foon neersit wanneer dit nodig is? Kan hulle hulself daarvan weerhou om voortdurend kennisgewings en nuwe inhoud na te gaan? Die doel is nie om elke minuut te beheer nie, maar om ʼn jong mens te help om toenemend self verantwoordelikheid vir hul digitale gewoontes te neem.
Die “voor-en-ná”-toets
Een eenvoudige manier om skermimpak te verstaan, is om te let op hoe jou tiener voel voor en ná hulle sekere digitale inhoud gebruik. Voel hulle beter, rustiger en meer verbind, of voel hulle angstig, minderwaardig, geïrriteerd of uitgeput?
Sosiale media en ander digitale platforms is nie noodwendig goed of sleg nie. Die belangrike vraag is eerder: “Wat doen hierdie inhoud aan my?” Wanneer ʼn tiener leer om dié verband self raak te sien, begin hulle om meer bewuste besluite te neem oor wat hulle kyk, volg en lees.
Die groter gesprek
Miskien moet ons dus die gesprek oor tieners en selfone verander. In plaas daarvan om slegs te vra: “Hoeveel tyd het jy op jou foon deurgebring?”, kan ons begin vra: “Hoe het jou foongebruik jou vandag laat voel?”
Want uiteindelik is die doel nie om ʼn tiener se digitale wêreld so klein as moontlik te maak nie. Dit is om hulle toe te rus om daardie wêreld wys en tot hul eie voordeel te navigeer. Daarom is dit belangrik dat ouers nie net weet wát hul kinders aanlyn doen nie, maar ook ʼn verhouding skep waarin kinders gemaklik genoeg voel om te praat wanneer iets verkeerd voel.
Solidariteit se Skoliere-aanbod bied juisop 22 September 2026 ʼn gratis #Sosialemediawebinaar aan wat daarop gemik is om ouers te bemagtig met inligting oor die uitdagings en geleenthede van jong mense se digitale leefwêreld.
Lees hier meer oor die webinaar en om jou plek te bespreek.
Mari Ferreira is die netwerkorganiseerder van Solidariteit se Skoliere-aanbod.