Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Klein oomblikke met groot impak vir ʼn suksesvolle 2025
Ons verkeer dikwels onder die indruk dat kinders se lewens deur groot gebeure beïnvloed word. Die realiteit, soos wat die skrywer van hierdie blog vertel, is egter heeltemal anders as wat ʼn mens sou verwag. Lees hierdie blog vir ʼn boodskap van hoop vir ouers en onderwysers oor hoe jy hierdie jaar met klein oomblikke ʼn blywende impak op jou kind of leerders in die klas kan maak.
Deur Anlia Archer
Die aand voordat die skool begin lê ek saam met my 7 jarige, amper 8 soos wat sy my gereeld en aanhoudend herinner, op haar bed en gesels. Vanjaar pak ons graad 2 aan, en ons is gerat.
Ons bid vir die nuwe jaar, die nuwe klas, die nuwe juffrou, die nuwe maatjies, die nuwe uitdagings, die nuwe mylpale wat ons gaan vier en sy gooi so skelmpies en hoopvol ʼn “en-die-nuwe-hondjie-wat-ons-een-van-die-dae-gaan-kry” in. Dit is rustig en lekker.
Dit is wêrelde verwyder van die storm wat die vorige aand losgebars het toe ons op soek was na ʼn simpel stoelsak. Die aand voordat ons die skryfbehoeftes vir die jaar by die skool moes gaan aflaai is dié sak skoonveld. My “spring cleaning” van Desember is daarmee heen, want ons het behoorlik die huis op sy kop gekeer op soek na die ding. Hy was gewas, gereed en netjies. Alles was gemerk en êrens, terwyl ons aandag by iets anders was, het die ding potjies gegroei en weggehardloop.
Ek was boos. Waar in my huis is hierdie donker gat waarin goed so gerieflik verdwyn by tye? Gelukkig het ʼn mamma-vriendin ʼn ekstra een gehad om ons uit die knyp te help totdat ons tyd het om ʼn nuwe een te gaan koop. Ek besef maar net weer die ou Engelse gesegde van “It takes a village” is só waar en ek is baie dankbaar vir myne!
Maar nietemin, ons gesels oor die vakansie en ek vra vir haar wat haar hoogtepunte van die vakansie was. Eintlik wil ek net probeer uitvis of daar enige volksvreemde idees en stories by die juffrou gaan uitkom…
Ons het hierdie vakansie ʼn bietjie by die huis gebly, maar ons het regtig probeer om ʼn paar lekker dinge te doen so tussendeur al die skoonmaak en regpak. Ons het ondermeer die fantastiese Disney-vertoning by Monte Casino gaan kyk en vreeslik baie (en lekker) “speel-afsprake” saam met ander tuisblymaatjies gehad. Op die dae wat die weer dit hier in Gauteng toegelaat het, het ons sommer tot laat in die aand geswem. Ons het na Lawley Straat se asemrowende liggies gaan kyk. Ons het die betowering van Kersfees lewendig gehou met ons eerste “Elf on the shelf”-poging – hoewel sy baie goed weet waarom ons Kersfees vier, is dit tog vir my lekker om dit weer deur ʼn kind se oë te kan sien en beleef. Kersvader het kompleet met sneeu en waterstewels deur die kaggel geklim om ʼn presentjie of twee te kom aflaai. Ons het werklik probeer om die vakansie so lekker as moontlik te maak. Ek het daarom natuurlik verwag dat die hoogtepunte al hierdie, of minstens een daarvan, sou insluit, maar helaas verras hierdie gesiggie van ons my met haar antwoorde.
Haar hoogtepunte van die vakansie? Die Krismis-bed wat ons voor die TV gemaak het en die springmielies wat ons in die bed gelê en eet het terwyl ons fliek gekyk het. Die baie Uno en Bingo wat ons gespeel het en hoe lekker ons gelag het as een van die grootmense verloor. Die oorslaap by Ouma saam met haar gunstelingmens – haar niggie! En die Oujaarsdiens toe ons by die kerk was en die (onwettige) klappers wat ons om middernag van die kerk se stoep af dopgehou het. Sy herinner my aan die olifant-grote tortelduif wat ons in die huis rondgejaag het. Nee, ek het nie verkeerd geskryf nie. Ek het ʼn absolute fobie oor voëls en het soos ʼn besetene gegil elke keer wat die ding op my afpyl. Uit suiwer simpatie het sy maar saam geskreeu en rondgehardloop. Sy lê en lag oor die massiewe reënspinnekop waaraan ek per ongeluk gevat het toe ek haar gordyn toegetrek het. Toevallig was dit ook ʼn olifant-grootte. (Ek is nie sommer een wat oordryf nie … nooit nie!) En sy vertel trots hoe sterk en braaf Pappa is omdat hy ons “gered” het toe hy die spinnekop verwyder het. Nou ja. As ek dít besef het, sou ons eintlik ʼn paar rand kon spaar die vakansie.
Helaas, die skooljaar het begin en ons stap nou hierdie paadjie vol nuwe avonture, uitdagings en oorwinnings. Terwyl ek luister na die eenvoud van my dogter se vakansiehoogtepunte, besef ek weer hoe belangrik die klein, alledaagse goedjies is. Dit is nie die duur uitstappies of die intense beplanning wat blywende indrukke maak nie, maar eerder die lag, liefde en net eenvoudig saamwees.
Aan al die onderwysers wat hierdie jaar met passie en toewyding aanpak: Onthou, dit is nie altyd die groot lesse of ingewikkelde projekte wat ʼn kind se hart aanraak nie. Dit is die klein oomblikke van geduld, ʼn bemoedigende glimlag en die opregte belangstelling in elke kind wat hulle toelaat om te floreer. Jy het die mag om ʼn lig te wees in die jong mense wat jou pad kruis se lewens – om hoop, selfvertroue en ʼn liefde vir leer te kweek. Jou impak is groter as wat jy dalk besef, en selfs op die dae wanneer dit voel asof niks werk nie, of jy jouself dalk simpel soek na ʼn stoelsak, wéét dat jou moeite waarde dra.
Aan al die ouers wat die nuwe jaar met ʼn kombinasie van opgewondenheid en bekommernis aanpak: Jy doen meer as genoeg. Jy is reeds die held in jou kind se storie. Dit gaan nie altyd oor die perfekte kosblik, ʼn netjiese gemerkte stoelsak of die foutlose huiswerk nie – dit gaan oor jou teenwoordigheid, jou luisterende oor en die gebede wat jy agter toe deure vir hulle bid. Vertrou dat jou kind hulle pad sal vind, en wees daar om te vier, aan te moedig en vas te hou wanneer dit nodig is.
Laat ons hierdie jaar met entoesiasme aanpak, met ons oë gefokus op wat regtig saak maak: die eenvoudige dinge wat kosbare herinneringe skep. Die onbekende van die nuwe jaar kan intimiderend wees, maar dit is ook propvol geleenthede – om te groei en om te leer. Saam, as onderwysers en ouers, kan ons van hierdie reis iets besonders maak. Mag ons mekaar daaraan herinner om die eenvoudige dinge te koester en om elke klein mylpaal met trots te vier. Kom ons maak van 2025 ʼn besonderse jaar waar ons as die “grootmens-gemeenskap” hande vat om kosbare herinneringe vir ons kinders te skep.