
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Kom vier Ambagdag 2025 saam met Solidariteit en Sol-Tech
Op 15 Maart word ambagslui se toewyding en vakmanskap by Ambagdag 2025 gevier. Met ʼn dag vol aksie, kompetisies en erkenning vir vakmanskap, bring Ambagdag 2025 ambagslui bymekaar om hul trots en passie te vier – ʼn dag wat jy nie wil misloop nie! Lees hier meer oor wat jy kan verwag.
Deur Kyla-Ann du Toit
“Ambag in my are” is meer as net die Solidariteit Ambagnetwerk se slagspreuk – dit is die hartklop van Ambagdag, waar ambagte en ambagslui met trots gevier word. Op Saterdag 15 Maart 2025 word Solidariteit en Sol-Tech se derde Ambagdag gevier, en dié dag beloof om vol opwindende aktiwiteite en inspirasie vir ambagslui te wees.
Dié dag is elke jaar ʼn hoogtepunt vir ambagslui en vanjaar gaan dit nóg groter en beter wees!
Ambagdag is ʼn geleentheid om erkenning te gee aan ambagslui vir hul passie, toewyding en harde werk in die ambagbedryf. Dit is ook ʼn platform waar ambagslui hul vaardighede, kennis en stories met mekaar kan deel, en is ʼn geleentheid vir jong mense om by kundiges in die beroep te leer.
“Ons is hier om die erkenning en eer aan ambagslui te gee wat hulle verdien,” sê Dirk Smit, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Ambagnetwerk. “Dit is só belangrik om aan hulle die erkenning te gee wat hulle verdien,” sê Smit.
Die dag se program gaan propvol opwindende aktiwiteite en gebeurtenisse wees. Jy kan uitsien na:
- • beoordeling van die topvyf-finaliste in die Solidariteit Ambagnetwerk se #JouYster-kompetisie, asook die aankondiging van die #JouYster-wenner;
- • die #JongYster-ambagresies;
- • ʼn spesiale reünie vir Sol-Tech-alumni;
- • Sol-Tech-kampustoere
- • prysuitdeling;
- • braaivleisvure en lekker Afrikaanse musiek; en
- • nog vele meer!
Daar sal ook talle uitstallers wees wat tot die dag se opwinding sal bydra, en lojale lede van die Solidariteit Ambagnetwerk sal op hierdie dag persoonlik bedank word vir hul deurlopende ondersteuning. Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gaan persoonlik aan elke lojale lid ʼn sertifikaat oorhandig en die nodige erkenning aan hulle gee.
“Ambagdag is ʼn geleentheid waar ambagslui alles wat tegnies is kan geniet en waar hulle aan tegniese kompetisies en uitstallings kan deelneem. Dit is ook die dag waar die #JouYster-wenner vir 2025 aangewys sal word,” sê Stef Pretorius, netwerkkoördineerder van die Solidariteit Ambagnetwerk. “Hierdie gesogte titel word toegeken aan die top-ambagsman/-vrou uit ʼn oorweldigende aantal nominasies. Dit is al die sesde jaar dat hierdie toekenning gedoen word.”
Die ambagte bou die wêreld – en Ambagdag vier dié bouers! Met ʼn dag vol aksie, kompetisies en erkenning vir vakmanskap, bring Ambagdag 2025 ambagslui bymekaar om hul trots en passie te vier.
“Vanjaar se Ambagdag, wat ons op Saterdag 15 Maart vier, gaan dié plek wees om te wees – ʼn dag wat jy nie wil misloop nie! Ons wil ambagslui bedank vir hul harde werk en vir alles wat hulle tot die samelewing bydra,” sê Smit.
Moenie hierdie viering misloop nie! Klik hier om jou plek vir vanjaar se Ambagdag te bespreek.
Hou Solidariteit se sosialemediablaaie dop vir meer inligting oor Ambagdag 2025.