
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Kom vier die grootste Gelofteherdenking saam met ons
Die slag van Bloedrivier is een van die Afrikaners se grootste oorwinnings in die geskiedenis. Andries Pretorius en ongeveer 464 Voortrekkers het voor ʼn Zoeloe-oormag van 10 000 krygers te staan gekom. Die Voortrekkers het op 16 Desember 1838 ʼn verbond met God gesluit dat indien hulle daarin sou slaag om die Zoeloes te verslaan, hulle en hul nageslag dié dag jaarliks as ʼn godsdienstige dag sal herdenk.
Die Gelofte is Afrikaners se erns en dit word nog getrou gehou. Die grootse Geloftefeesherdenking sal vanjaar van 8 tot 16 Desember 2023 by die Voortrekkermonument plaasvind wanneer ons nie net die Gelofte herdenk nie, maar ook ʼn deel van ons geskiedenis en kultuur vier. Die program eindig saans eers om 22:00, en diegene wat nog deur die dag moet werk, kan dus ook die vierings meemaak.
“Dit is die beste Gelofteweekprogram wat tot nog toe saamgestel is en dit sal in die smaak van jonk en oud val. Ons nooi mense van naby en ver om hierdie week saam met ons te kom geniet,” sê Henk Maree, bedryfshoof van die Voortrekkermonument.
Die week beloof om vol kuns, kultuur en vermaak te wees met toneelstukke, klassieke opvoerings soos Kerssang by kerslig en optredes deur bekende kunstenaars soos Bernice West, Elandré, Jay du Plessis, Liezel Pieters, Ricus Nel en Juanita du Plessis. Daar sal ook aktiwiteite vir kinders wees soos boeresport, handwerkaktiwiteite, ʼn poppekasvertoning en nog vele meer. Vir die gesin is daar die Kersmark om na uit te sien tesame met meer as 200 stalletjies.
Die Gelofte gaan ook elke aand om 19:00 (teen sononder) in die Lewende Laer afgelê word. Dit is beslis ʼn unieke geleentheid om by te woon. Die Voortrekkermonument bied spesiale nagtoere tydens Gelofteweek aan. Daar is net 35 plekke per toer beskikbaar. Maak dus seker dat jy jou plek betyds bespreek!
ʼn Program is vir elke dag saamgestel en daar gaan nog talle ander aktiwiteite wees om aan deel te neem. Hou die Voortrekkermonument en die FAK se sosiale media dop vir meer inligting hieroor.
“Vanjaar is ʼn spesiale Geloftejaar, want dit is die 185ste gedenkjaar van die Groot Trek en die Gelofte. Ons vier die Gelofte, nie uit kritiek nie, maar vanuit ons Christelike kultuur,” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument.
Die Voortrekkermonument het dit goedgedink om die name van die mense wat hierdie dag bywoon in die argief te verewig. Hierdie persone se name sal ook in ʼn tydkapsule verskyn wat met die Groot Trek se 200ste herdenkingsjaar geopen sal word. Ons wil mense aanmoedig om elkeen van hul gesinslede se name te registreer.
“Ons hoop om die amfiteater tydens vanjaar se Geloftedag tot sy volle kapasiteit van 44 000 mense te vul,” sê Langner.
Registreer jou en jou gesin se plek vir Geloftedag, en klik hier om jou kaartjie vir Gelofteweek te koop: https://vtm.org.za/gelofteweek-2023/.