
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Kommer oor Afrikaanse skool in Wes-Kaap se beweerde besluit oor Engels
Solidariteit verneem met kommer van ’n laerskool in die Wes-Kaap wie se skynbaar eensydige besluit om Engels as onderrigtaal by die skool in te voer, ouers diep bekommerd het.
Ofskoon die Laerskool Mikro in Kuilsrivier glo die enigste enkelmedium- Afrikaanse skool in die area is, is daar volgens berigte reeds besluit om Engels as onderrigtaal op gr. R-vlak in te stel.
Hierdie einste skool het in 2005 ’n hofsaak gewen om die Wes-Kaapse Departement van Onderwys (WKOD) se poging om Engels as onderrigtaal daar in te voer te keer.
Johnell Prinsloo, onderwysnavorser verbonde aan die Solidariteit Navorsinginstituut (SNI), sê sy hoop die teendeel is waar, maar dit kom voor asof die behoeftes van die plaaslike gemeenskap nie in ag geneem word nie.
“Die beheerliggaam van Laerskool Mikro ontken volgens die berigte dat enige amptelike besluit oor die verandering in die taalbeleid geneem is, maar die WKOD verskil van hulle en sê die Engelse plan het rééds die groen lig gekry.
“Om verder te hoor die verengelsing word beplan omdat die persepsie bestaan dat die Bela-wetgewing dit buitendien gaan afdwing, is beslis nie ’n aanvaarbare verskoning nie.
“Buiten dat die Bela-wetsontwerp nog nie deur die president onderteken is nie, moet hier eers deeglik en regverdig met die ouers en belangegroepe gekonsulteer word,” sê Prinsloo met verwysing na die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela).
Intussen het Solidariteit se Onderwysernetwerk aangedui hy sal die saak met belangstelling dophou en hy gaan nie huiwer om in te tree indien dit lyk of dit nodig is nie.