
Foto Krediet: OKayDeer
Gekopieër
Kommunikasie: 2024 se belangrikste vaardigheid
Deur Essie Bester
Kommunikasie is die belangrikste vaardigheid om in hierdie moderne era suksesvol te wees. Volgens LinkedIn se Most-In-Demand-Skills 2024-verslag, neem kommunikasievaardighede die topposissie in vir die tweede jaar in ʼn ry.
Jong werkendes wat pas hul loopbaanpad betree het, besef nie altyd hoe uiters belangrik professionele kommunikasie is nie.
Kommunikasie is dus die topvaardigheid wat jy moet kan bemeester om in die werkplek uit te staan. Om ʼn goeie kommunikeerder te wees behels die vermoë om na ʼn ander persoon te luister en bedagsaam te reageer. Van die ander aspekte sluit in om lyftaal te kan lees en om bedag te wees op tydsberekening.
Daar is verskeie tipes kommunikasie in die werkplek en elkeen speel ʼn unieke rol in die bou van effektiewe verhoudinge en begrip tussen kollegas en spanlede.
Verbale kommunikasie:
Die gebruik van gesproke woorde om jou gedagtes en emosies te deel is ʼn breë kategorie en sluit dinge in soos alledaagse gesprekke, telefoonoproepe, vergaderings, voorleggings en videokonferensies wat al hoe meer algemeen raak in die digitale era.
Verbale kommunikasievorme soos aanbiedings en vergaderings kan gebruik word om duidelike inligting te verskaf, persoonlike verbindings te bou en onmiddellike terugvoer te verkry. Aan die ander kant kan dit ruimte laat vir misverstande of gebrek aan duidelikheid, wat dikwels kan plaasvind as gevolg van taalhindernisse en inligtingoorlading. Daarom is dit belangrik om te leer hoe om doeltreffend verbaal te kommunikeer.
Geskrewe kommunikasie:
Dit dek alle soorte boodskappe deur die geskrewe woord te gebruik naamlik briewe, verslae, e-posse, artikels, interne nuusbriewe, teks en selfs jou CV.
Dit is een van die meer genuanseerde tipes kommunikasie om te bemeester, aangesien dit die ingewikkeldhede van grammatika, woordeskat en toonbeeld behels.
Nie-verbale kommunikasie:
Dis hoe jy inligting, gedagtes en emosies oordra sonder om te praat. Basies beteken dit lyftaal, naamlik gesigsuitdrukkings, gebare, stemtoon, oogkontak, postuur, aanraking en ander nie-verbale seine.
Nie-verbale leidrade moet voortbou op wat jy probeer sê, maar kan oop wees vir interpretasie. Jou lyftaal kan weerspreek wat jy sê, of daar kan kulturele verskille wees in wat jy kommunikeer en dit kan wantroue veroorsaak.
Aktiewe luistervaardighede:
Dit behels om te luister na die inhoud, bedoeling en emosies van die persoon wat praat. Kommunikeer effektief deur dit wat jy hoor in jou eie woorde op te som en te herhaal om sodoende die begrip van alle partye te bevestig. Aktiewe luister help mense om oop te maak, misverstande te vermy, konflikte op te los en vertroue te bou.
Kontekstuele kommunikasie:
Kommunikeer effektief in verskillende kontekste, insluitend dié wat betrekking het op verskeie bevolkings, persone, situasies, omgewings of gedrag. Dit sluit kontekste soos professionele, kruiskulturele, aanlyn, akademiese en krisiskommunikasie in.
Kommunikasie word al hoe meer digitaal oorgedra. As professionele persone moet ons hierdie vaardighede dienooreenkomstig bly slyp en ontwikkel, sodat jy in pas kan bly met nuwe verwikkelinge in jou veld en veral tegnologiese ontwikkeling soos Kunsmatige Intelligensie (KI). Hierdie kundigheid kan jou help om nie net goed te werk nie, maar ook om jou volle potensiaal te behaal.
Solidariteit bied ’n omvattende kursus aan om jou te bemagtig om goed in jou werkplek te kan kommunikeer. In hierdie kursus sal jy leer wat kommunikasie is, jou luistervaardigehede sal opgeskerp word, jy sal leer hoe om tydens ’n aanbieding gemaklik voor mense te praat, asook wat vergaderingprosedures en formele briefwisseling behels en hoe om ’n CV op te stel. Verder sal jy ook leer hoe om per e-pos te kommunikeer en hoe om kritiek op ’n positiewe wyse te verwerk.
Hierdie kursus is ideaal vir enige iemand wat hul kommunikasievaardighede wil opskerp en kan vir jong werkendes ook touwys maak om effektief in die werkplek te kommunikeer.
Voltooi die Kommunikasie in jou werkplek-kursus aanlyn. #RaakTuis by Solidariteit en ontdek jou volle potensiaal. Lees hier meer oor hoe jy vir voortgesette leer kan inskryf.