Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
KOMPAS: Jou toekoms begin hier
Deur Hannie Viljoen
Wat gebeur wanneer ʼn jong mens wat al té veel kere net moes oorleef uiteindelik iemand ontmoet wat sê: “Kom, vat ons hande vir jou toekoms.”
KOMPAS is daardie hand.
KOMPAS is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en Solidariteit se Maatskaplikewerkersnetwerk wat saam met vennote soos Akademia en Sol-Tech vir kinders in kinderhuise, pleegsorg en behoeftige gemeenskappe meer as net raad bied. Kompas bied rigting.
Van Februarie tot Oktober stap ons doelgerig ʼn pad met graad 8- tot 12-leerders. Ons bied praktiese toerusting met temas soos:
- • selfkennis en identiteit;
- • loopbaanrigting en studiegeleenthede;
- • finansiële wysheid;
- • emosionele veerkragtigheid;
- • kommunikasie- en onderhoudsvaardighede; en
- • gemeenskapsdiens en leierskap.
Hier ontdek jongmense nie net wat hulle kan word nie, maar wie hulle reeds is.
KOMPAS glo dat omstandighede nie die laaste woord het nie. Potensiaal is nie afhanklik van jou poskode of gesinsagtergrond nie. Elke jongmens het ʼn roeping wat ontdek en ontwikkel kan word. Wat hierdie program besonders maak, is die geïntegreerde ondersteuning. Jongmense word nie net bewus gemaak van moontlikhede nie – hulle word in kontak gebring met instellings, netwerke en praktiese geleenthede.
Aan die einde van die jaar staan daar nie net leerders met sertifikate nie – daar staan jong volwassenes met ʼn visie van waarheen hulle op pad is. En soms is al wat jongmense nodig het, ʼn KOMPAS en ʼn gemeenskap wat saam met hulle stap.
Want ʼn toekoms gebeur nie vanself nie.
Dit begin met rigting.
Dit begin met hoop.
Dit begin hier.
KOMPAS: Jou toekoms begin hier.