loading
Artikels
7 maande gelede
krag-wysigingswet-implikasies-verbruiker

Foto Krediet: Verskaf

Krag-wysigingswet: Wat beteken dit vir die verbruiker?

Deur Nico Strydom

Die Wysigingswet op Elektrisiteitsregulering maak voorsiening vir ingrypende hervormings van Suid-Afrika se elektrisiteitsbedryf, insluitend die vestiging van ʼn mededingende kragvoorsieningsmark.

Pres. Cyril Ramaphosa het dié wysigingswet verlede Vrydag onderteken en volgens hom sal dié wet die weg baan vir groter mededinging, verlaagde energiekoste en meer investering in nuwe opwekkingskapasiteit om energiesekerheid te bereik.

Die wysigingswet maak onder meer voorsiening vir die stigting van ʼn onafhanklike transmissiemaatskappy en ʼn opemark-platform vir mededingende groothandel- of kleinhandelaankope en -verkoop van elektrisiteit.

“Kortom maak dié wet voorsiening vir ʼn kragmark, amper soos ʼn boeremark. Kragprodusente kan hulle “produk” op dié mark verkoop en “verbruikers” kan op groot- en kleinskaal koop,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. “Oor die langer termyn behoort dit ook ʼn positiewe invloed op die prys van elektrisiteit te hê. Die toekenning van lisensies om elektrisiteit te kan opwek, word ook versnel.”

Die ondertekening van die wysigingswet kom te midde van Eskom se tariefaansoek by die Nasionale Energiereguleerder (Nersa). Huishoudings kan reuseverhogings van tot 44% in die 2026-’26-boekjaar verwag indien Nersa die versoek toestaan. “Dít kan geen Suid-Afrikaner bekostig nie. Die verbreking van die monopolie en mededinging om krag te verskaf, is die enigste manier om prysskokke oor die langer termyn te tem,” meen Hermann.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het gesê hy sal aan die openbare raadplegingsproses deelneem om die implementering van ʼn irrasionele kragtariefverhoging te verhoed en is ook gereed om regstappe te doen indien Nersa sou besluit om Eskom se aansoek om ʼn buitensporige tariefverhoging in te stel, goed te keur.

Volgens Hermann gaan die energiemengsel in Suid-Afrika oor die volgende tien jaar drasties verander. “Die raamwerk is daar, maar dit is nog ver van die praktyk. Die Wysigingswet op Elektrisiteitsregulering is ʼn stap vorentoe, maar dit is nog nie naastenby ʼn werklikheid nie. Ons regering het ongelukkig ʼn swak geskiedenis wanneer dit by implementering kom. Die land se kragbedeling is wel in ʼn beter posisie as ʼn week gelede.”

Volgens Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), bestaan die hoop dat verbruikers binne die volgende dekade hul elektrisiteitsverskaffer sal kan kies soos wat hulle tans tussen selfoondiensverskaffers kan kies.

“Ons sien nou vir die eerste keer ʼn gestruktureerde beweging deur die regering weg van die alewige regeringsmonopolieë in die energiesektor. Dit baan die weg vir die privaat en gemeenskapsektor om ons energiekrisis te takel.

“Hiermee steek die regering as’t ware sy voet in die water van vrye markte eerder as dié van staatsmonopolieë.”

Volgens Mulder is die wetgewing ʼn tree in die regte rigting, maar Suid-Afrikaners moet waaksaam bly. Ons moet seker maak hierdie toets van die vryemarkwaters verander nie in ʼn regering wat koue voete kry nie, en ons moet seker maak dat dit sal lei tot ʼn omvormde en dinamiese privaat elektrisiteitsmark wat wérk.”

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel