
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Onderwyskrisis: Ruim begroting niks werd nie tensy verkwisting eindig
Suid-Afrika staan op die rand van ’n onderwyskrisis wat elke jaar ernstiger en meer ingewikkeld word. Alhoewel die begroting vir die Departement van Basiese Onderwys voortdurend onder kritiek deurloop, toon dit uiters selde enige resultate op voetsoolvlak. Lees meer hieronder.
Deur Heléne Mocke
Die rede? Nie noodwendig ’n tekort aan fondse nie, maar eerder ’n gebrek aan verantwoordelike finansiële bestuur en doeltreffende implementering.
Hierdie kwessie is nou verál relevant, aangesien ’n bykomende R19 miljard in die jongste begroting deur die nasionale tesourie aan basiese onderwys toegeken is.
Die geld word dus voorsien, maar die groter probleem is waar hierdie geld opeindig.
Een van die vele kwessies wat daarmee aangepak moet word, is die toenemende tekort aan gekwalifiseerde onderwysers. Skole sukkel om poste gevul te kry, ervare personeel verlaat die onderwysstelsel sonder dat plaasvervangers aangestel word, en die onderriggehalte ly daaronder. Benewens die mensehulpbronkrisis is daar ook ’n gebrek aan voldoende skole en kritieke onderrigtoerusting – van basiese leerhulpbronne tot tegnologie.
Hierdie probleme is egter nie bloot net die gevolg van begrotingsbesnoeiings nie. Inteendeel, dit weerspieël ’n stelsel waarin wanbesteding, korrupsie en swak administrasie die norm geword het en uiteindelik die ware oorsaak is.
Volgens Johnell Prinsloo, onderwysernavorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut, is dit juis hierdie wanbesteding wat die onderwysstelsel versmoor.
“Dit help nie om nóg fondse in die poel te gooi as bestaande middele nie doeltreffend aangewend word nie, want dan is dit geld in die water,” sê sy.
ʼn Provinsiale onderwysdepartement het byvoorbeeld onlangs meer as R2 miljoen vir slegs 22 skootrekenaars betaal – ’n astronomiese bedrag wat uiteraard vrae laat ontstaan oor die integriteit van tenderprosesse. In die Vrystaat is daar in die vorige boekjaar boonop meer as R400 miljoen aan onregmatige uitgawes aangeteken.
Hierdie skandalige syfers is die gevolg van ’n owerheid met gebrekkige beginsels.
“Die onderwysbegroting word nie as ’n belegging in die land se toekoms beskou nie, maar eerder as ’n bron vir selfverryking.
“Dit is hoekom geen nuwe skole gebou word nie, waarom geen poste geskep of gevul word nie, en waarom leerders met onvoldoende ondersteuning agtergelaat word,” sê Prinsloo.
Solidariteit veg tans teen die beplande afskaling van onderwysposte in die Wes-Kaap en waarsku dat dieselfde patroon landwyd aan die ontwikkel is. Die organisasie benadruk dat die huidige krisis nie slegs ’n finansiële aangeleentheid is nie, maar veel eerder ’n morele mislukking wat die land se kinders en onderwysers eerste en die hardste tref.
Volgens Prinsloo is die tyd vir verskonings lankal verby en benodig Suid-Afrika dringend bekwame bestuurders en eerlike amptenare wat ’n roepinggedrewe onderwyskorps kan ondersteun.
“Die land kan dit nie bekostig om sy grootste belegging – sy mense – op dié wyse te verloor nie. ’n Stelsel wat nie sy jongmense toerus nie, sal uiteindelik self in duie stort.
“Dit is nou tyd om verantwoordelikheid te aanvaar – en om daadwerklik op te tree,” sê Prinsloo.