loading
avatar
Artikels
2 jaar gelede
kunsmatige-intelligensie-en-die-menslike-element-in-die-werkplek

Foto Krediet: OkayDeer

Kunsmatige intelligensie en die menslike element in die werkplek

Deur Nico Strydom

Daar word verwag dat kunsmatige intelligensie (KI) groot vooruitgang en doeltreffendheid na die werkplek sal bring, maar sal dit die menslike element kan vervang?

KI sal ongetwyfeld outomatiese prosesse in die werkplek makliker, vinniger en doeltreffender kan maak en dit lei uiteraard tot die vraag oor of KI-werknemers gaan vervang.

KI hou ‘n baie werklike bedreiging vir werksgeleenthede in, sê Marcus Ellappan, bedryfsdirekteur by Bidvest International Logistics (BIL).

KI het die vermoë om groot hoeveelhede data te assimileer en verbasend akkurate inligting en insigte te verskaf sowel as om ʼn verskeidenheid take te verrig – wat tot dusver slegs deur mense gedoen kon word. KI kan dus ook vaardighede waaroor betaalde werkers beskik, uitvoer en ‘outomatiseer’ en in baie gevalle meer omvattend as wat die gemiddelde persoon dit sou kon doen.

Ellappan meen dit is egter net een deel daarvan aangesien menslike empatie volgens hom ‘n noodsaaklike deel sal bly van sake doen.

“Aandag aan detail, akkuraatheid en betekenisvolle sigbaarheid is maar enkele van die instaatstellers wat nodig is wanneer kliëntediens gedoen word. Daar is eenvoudig geen plaasvervanger vir persoonlike interaksie in die bou van verhoudings nie. Terwyl KI op logika en data gebaseer is, is die essensie van uitstekende kliëntediens ’n ‘gevoel’ wat tussen diensverskaffer en kliënt ontstaan wanneer daar na oplossings gesoek word.”

Rhett Oertel, wat aan die hoof staan van BIL se verkoopsafdeling, glo KI kan moontlik help met voorstelle vir probleme deur data of scenario’s te ontleed, maar dat dit uiteindelik mense is wat sal besluit.

“Vir die oomblik en voorsienbare toekoms sal die menslike vermoë om jouself in ‘n kliënt se posisie te plaas ‘n besigheid in staat stel om die impak wat elke besluit op die kliënt se bedryf het, te peil. Deur empatie te toon, kry jy ‘n beter begrip van kliënte se behoeftes en uitdagings. Logistiek en voorsieningskettings verloop nie altyd soos beplan nie, so ‘n mens moet gerusstelling kan bied, begrip toon en dan effektiewe oplossings vir hierdie probleme bied. Uiteindelik bou dit ook vertroue.”

Ellappan en Oertel wys daarop dat sleutelvaardighede nodig is om effektiewe kliëntverhoudings te optimaliseer. Dit sluit in proaktiewe kommunikasie; ‘n probleemoplossende ingesteldheid; responsiwiteit; kundigheid, empatie en begrip.

Terselfdertyd moedig Ellappan en Oertel besighede aan om nie outomatisering en KI-vermoëns te vrees nie, aangesien dit baie nuttig kan wees.

“Dit is belangrik om te onthou dat KI hier is om te bly en ons sal aanvullende vaardighede moet ontwikkel sodat ons die voordele van mense wat met KI werk kan maksimeer,” sê Oertel.

“Ons moenie bang wees om dit te toets en in scenario’s te gebruik nie. KI kan en sal ‘n impak op ons daaglikse werksomgewing hê, maar ek glo regtig dat ons dit kan gebruik om vinniger besluite te neem, verskillende scenario’s te toets, vinniger terugvoer te gee en uiteindelik die alledaagse dele van ‘n werk oor te neem, sodat ons meer kan fokus op die aktiwiteite wat regtig waarde toevoeg.”

Ellappan vergelyk die koms van KI met die bekendstelling van tasse met wieletjies. “Hierdie innovasie, hoewel subtiel, het gerief geskep deurdat dit die handmatige moeite om bagasie rond te dra verminder het. Net so, met digitale transformasie wat vandag ‘n sleutelfokusarea in besigheid word, moet ‘n mens tred hou met innovasie en tegnologie. “

Solidariteit het ʼn netwerk wat omsien na IT spesialiste. Indien jy meer wil lees oor die netwerk, klik hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel