loading
Blogs
11 maande gelede
kyk-daar-is-lig-op-die-horison-vir-onderwys

Foto Krediet: Solidariteit

‘Kyk, daar is lig op die horison vir onderwys’

Deur Johnell Prinsloo

Ek onthou die heel eerste kursus wat ek as onderwyseres bygewoon het. Dit was juis vir beginneronderwysers en rondom my het ʼn klomp kollegas, net so nat agter die ore as ek, gesit terwyl kenners en gesoute pedagoë ons toespreek en dinge leer.

Een van die dinge wat ek tot vandag toe onthou, was die woorde van die oudskoolhoof van Die Hoërskool Menlopark. Hy het ons geleer dat ons nooit ons kernbesigheid mag vergeet nie en altyd na die basiese moet terugkeer voordat ons groter en hoër kan mik. En wat is daardie kernbesigheid? Kinders … kinders wat kan lees, skryf en somme maak.

Dit was dus met groot opgewondenheid dat ek gelees het dat die nuwe minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, juis ook in haar heel eerste begrotingsrede hierna verwys het.

Oor ons nuwe minister kan ek regtig nog nie ʼn opinie uitspreek nie. Elke spesialis in elke sektor voel waarskynlik dieselfde, maar as ʼn juffrou (in my wese) is dit in hierdie verband tog maar ʼn geval van “sien is glo.” Tog, moet ek byvoeg, flikker die vlam van hoop skielik vir my baie meer prominent in hierdie ministerie as toe dit onder ANC-beheer was.

Die aanslag van die vorige bedeling (ek voel in hierdie konteks kan ek na die ANC-meerderheidsregering as “die vorige bedeling” verwys) op moedertaalonderrig, Afrikaans en eintlik die afwatering van gehalte-onderrig wat ʼn onderwyskrisis in ons land tot gevolg gehad het, en saam met verskeie ander swak beleidsbesluite en wetgewing in ander ministeries tot die uiters hoë jeugwerkloosheidsyfer bygedra het, is egter nog vars in die geheue.

Kortom: Elkeen met ʼn belang in die onderwys is diep bekommerd. Ons kinders kan nie (met begrip) lees nie. Die persentasie leerlinge wat Wiskunde as vak neem daal, en die aantal druipelinge of leerders wat nie universiteitstoelating kry nie, laat ons sidder. Daarmee tesaam kla tersiêre instellings en werkgewers dat skoolverlaters nie oor die basiese vaardighede beskik wat hulle veronderstel is om op skool te leer nie en gevolglik nie indiensneembaar is nie of verdere kwalifikasies as uiters uitdagend ondervind.

Ons moes fisiek ook veg: teen ʼn amptenary wat Afrikaanse skole geboelie het en ʼn tweede onderrigtaal op hulle probeer afdwing het, teen die onnodige skoonmaak van skole teen ʼn koste van miljoene rand, teen puttoilette, en ons moes baklei vir die bou van meer skole sodat elke kind plek in ʼn klaskamer kon kry …

Die nuwe minister blyk nie vir hierdie toestande te vinde te wees nie. Sy wil met die president vergader oor Bela. Sy wil beheerliggame se magte en regte behou. Sy wil ander problematiese artikels in die Wysigingswetsontwerp op Onderwyswette wysig, en wetgewing en beleide daarstel wat werklik in die beste belang van die kind en die onderwyser is. Sy wil seker maak ons kinders leer broodnodige vaardighede aan wat hulle in staat sal stel om te floreer.

Hierdie geluide wat sy nou in haar eerste paar weke in die warmstoel maak, is reeds ʼn stap in die regte rigting. Tog sal sy moet bewys dat sy wel meer doen as lugkastele bou ten spyte van die teenkanting wat sy reeds vanuit sekere oorde ervaar.

Om die onderwyskrisis in Suid-Afrika aan te pak is geen maklike taak nie, en dit is ook nie ʼn eenmensprojek nie. Dit verg ʼn doelgerigte strategie, politieke wil, ʼn minister wat daadwerklik optree en die inkoop van talle belanghebbendes. Dit verg gemeenskappe wat moue oprol en saamwerk.

Persoonlik sou ek graag saam met my aanmelding vir diens ʼn wenslys aan die minister wou oorhandig:

  • • Bou meer skole, veral in die stede waar die bevolking eksponensieel groei.
  • • Wend hulpbronne verantwoordelik en in die beste belang van die kind aan.
  • • Lei meer onderwysers op en bou dan voort op gehalte-opleiding.
  • • Maak seker die kurrikulum onderdruk nie minderhede en hulle geskiedenis en kultuur nie.
  • • Bevorder moedertaalonderrig in alle amptelike tale en moenie toelaat dat sekere tale en taalgemeenskappe in die onderwys onderdruk word nie.
  • • Bemagtig beheerliggame soos wat die bedoeling in die Suid-Afrikaanse Skolewet was, en moedig ouers en skoolgemeenskappe aan om verantwoordelikheid te aanvaar en met meer outonomie te kan funksioneer.
  • • Tree as beskermer op waar minderhede in die onderwys onderdruk word.
  • • Tree op as die derde vennoot soos in die Skolewet beskryf: ondersteun, bou en verskaf, maar moenie inmeng op die gebied waar die ouergemeenskap of skoolgemeenskap aan die stuur van sake staan nie.

Mag hierdie nuwe portefeulje vir hierdie nuwe minister een wees waarin sy ʼn verskil vanaf grondvlak tot in die parlement kan maak. Mag sy onderwys in Suid-Afrika suksesvol omkeer; onderwysers in staat stel om regtig skool te hou; kinders in staat stel om te leer; en gemeenskappe in staat stel om nie net by hulle skole betrokke te kan wees nie, maar om dit te kan bestuur in die beste belang van diegene waarvoor ons almal eintlik in die onderwys is – vir elke liewe kind.

Geluk met die aanstelling Minister Gwarube, en alle voorspoed met hierdie enorme taak. Ons hoop en ons glo en ons help en ons bou. Saam.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel