loading
Artikels
1 week gelede
laat-die-vonke-spat-ons-vier-die-jongyster-vir-2025

Foto Krediet: Solidariteit

Laat die vonke spat – ons vier die #JongYster vir 2025!

Solidariteit se #JongYster-kompetisie bewys hoe talent, harde werk en passie die toekoms van die ambagswêreld vorm. Dit plaas jong ambagslui se unieke vaardighede en toewyding in die kollig. Lees hier meer om uit te vind wie as vanjaar se wenner aangekondig is en hoekom #JongYster soveel meer as net ʼn titel is.


Deur Kyla-Ann du Toit

Die toekoms van die ambagsbedryf is blink! Vanjaar se #JongYster-kompetisie het dit weereens bewys. Ná weke se ywerige voorbereiding, uitdagende toetse en streng onderhoude is Lohan Möller as die wenner van Solidariteit se #JongYster vir 2025 aangekondig. Hierdie toekenning beklemtoon nie net tegniese uitnemendheid nie, maar vier ook passie, vernuf en deursettingsvermoë.

Die topvyf-finaliste in die #JongYster-kompetisie

Wat beteken dit om ʼn #JongYster te wees?

Solidariteit se jaarlikse #JongYster-kompetisie het ten doel om ʼn ambagstudent te vereer wat nie bang is vir harde werk nie, én wat toewyding en leierskap toon. Finaliste word gekies op grond van nominasies deur medestudente en dosente, waarna hulle aan verskeie uitdagings onderwerp word – van ʼn praktiese vaardigheidstoetse tot onderhoudsprosesse wat hul karakter en visie toets.

Möller het in elke afdeling uitgeblink en ʼn indruk gemaak wat nie net op papier meetbaar is nie, maar ook in die harte van dié wat saam met hom gekompeteer het. “Die wenner van die kompetisie moes volhard, kreatiwiteit ten toon stel en met ʼn goeie gees deelneem. Die #JongYster vir 2025 het dit beslis verdien om te wen,” sê Chereé Meyer, netwerkorganiseerder van Solidariteit se Studente-aanbod.

Die topvyf-finaliste van #JongYster 2025 saam met Willie Venter, adjunkhoofsekretaris van metaal en ingenieurswese by Solidariteit, en Chereé Meyer netwerkorganiseerder van Solidariteit se Studente-aanbod

“Dit beteken vir my baie om vanjaar se #JongYster te wees! Vir ʼn ou wat nege jaar ná skool besluit het om by Sol-Tech te kom studeer en só ʼn impak te kan maak, nie net in studente se lewe nie, maar ook in die veld waarin ek is, is regtig ʼn groot eer,” sê Möller.

Afgesien van die eer wat met die #JongYster-titel gepaardgaan, ontvang Lohan ook ʼn besonderse pryspakket. Dit sluit in die geleentheid om ʼn gevorderde bestuurskursus by Volkswagen te voltooi, sowel as ʼn gevorderde N-kursus wat deur Technicol SA geborg en deur die Solidariteit Ambagnetwerk gefasiliteer word. Hy word ook genooi om ʼn naweek in Orania saam met die Solidariteit-span deur te bring, waar hy die eer sal hê om die #JongReus-toekenning persoonlik aan die wenner daarvan te oorhandig.

#JongYster 2025: Studente en personeel sing Sol-Tech se roepstem tydens die opening.

Dié pryse het ten doel om die wenner se loopbaan ʼn hupstoot te gee en verdere groei vir hom moontlik te maak. “Die jaarlikse #JongYster-kompetisie bied aan studente die geleentheid om met hul vaardighede as ambagsmanne en -vroue te spog. Dit gee vir hulle selfvertroue en is ʼn pret kompetisie wat hulle uit hul gemaksone neem,” sê Meyer.

Die res van die topkandidate

Die tweede plek is vanjaar aan Gerhard Lotz toegeken.  “Ek het die kompetisie baie geniet. Daar was baie kompeterende studente wat daaraan deelgeneem het, maar dit was uit en uit ʼn lekker ervaring. Ek is baie dankbaar vir die boor wat ek gewen het – dit is awesome,” sê Lotz. Hy stap weg met ʼn 18V-batteryboor van DeWalt.

Daniel Niemand, wat in die derde plek in die #JongYster-kompetisie geëindig het en ʼn volledige gereedskapstel en -kis gewen het, sê die kompetisie was vir hom ontsaglik lekker. “Ek het geleer om rustig onder druk te bly, en ek was ook lekker fisiek en psigies uitgedaag,” sê hy.

Die drie wenners van die #JongYster-kompetisie vir 2025. Van links: Gerhard Lotz (tweede plek), Lohan Möller (wenner) en Daniel Niemand (derde plek).

Die #JongYster-kompetisie is nie net ʼn viering van vaardighede nie, maar ook ʼn platform waar jong mense geleer word om in hulself te glo, hard te werk en trots te wees op die loopbaanpad wat hulle gekies het.

Word deel van jóú beroepstuiste

Die #JongYster-kompetisie is ʼn herinnering daaraan dat die ambagte van kardinale belang is en dat gehalte-opleiding nodig is vir ʼn suksesvolle toekoms vir ambagslui.

Solidariteit se Studente-aanbod bied vir studente die geleentheid om hulself met kennis te bemagtig, geleenthede om te netwerk en die nodige hulpmiddel om hul tersiêre studie met mag en mening aan te pak.

Solidariteit berei jou voor vir ʼn blink en voorspoedige toekoms! Skep dus vandag nog jou gratis profiel op Solidariteit en sluit by die Studentelewe-groep aan – jóú aanlyn tuiste!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel