loading
Artikels
2 dae gelede
langverwagte-amsa-sluitings-n-volslae-nuwejaarsramp-vir-duisende

Foto Krediet: OkayDeer

Langverwagte Amsa-sluitings ʼn volslae nuwejaarsramp vir duisende

Solidariteit gaan die komende arbeidskonsultasie oor afleggings by ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) gebruik om antwoorde te eis oor die pad vorentoe vir die land se beleërde staalvervaardiger.

Daar gaan ook onomwonde vrae gevra word oor die klaarblyklike mislukking van Amsa se gesprekke met die regering oor ʼn moontlike reddingsboei wat gedurende 2024 gevoer is.

Amsa het die afleggings van nagenoeg 3 500 werknemers as ʼn gevolg van die sluiting van sy langstaal-aanlegte by Newcastle en Vereeniging gister (6 Januarie 2025) aangekondig. Volgens die aankondiging sal die afleggingsproses van die werknemers, wat talle Solidariteit-lede insluit, al aan die einde van vandeesmaand begin.

Hierdie aankondigings was wel nie onverwags nie met die eerste voornemens in dié verband wat reeds in 2023 laat blyk is. Sedertdien het Amsa die hoop laat opvlam toe hy die langstaalsluitings heroorweeg het en toe hy op aandrang van vakbonde gesprekke met die regering oor moontlike reddingsplanne gevoer het.

In Oktober 2024 het Amsa ʼn desperate beroep op die regering gedoen om in te gryp teen Eskom en Transnet se onnodig hoë tariewe wat hom knou, en het ook die regering versoek om in te gryp wat die afskaffing van uitvoerbelasting op skrootmetaal betref.

Vanweë die sensitiewe aard van die gesprekke het Amsa die inhoud daarvan met groot geheimhouding hanteer.

Willie Venter, adjunkhoofsekretaris vir die metaal- en ingenieursbedryf by Solidariteit, sê dit lyk egter of daar dadels van hierdie gesprekke gekom het.

“Ons het nog op ʼn positiewe uitkoms vir die gesprekke tussen Amsa en die regering gehoop, maar moes dit laat vaar. Dit is baie sleg dat die regering klaarblyklik net die skouers optrek en nie ingryp om so ʼn grootskaalse aflegging te keer nie.

“Natuurlik kom dié aankondiging weereens op ʼn besonder slegte tyd van die jaar. In die geval van Amsa is dit altyd net voor Kersfees of net ná Nuwejaar. Vir die werknemers is dit eenvoudig ʼn wrede manier om die jaar te begin,” sê Venter.

Solidariteit gaan die beste moontlike uitkoms vir sy lede in die komende afleggingskonsultasieproses beding wat sowel skeidingspakkette as plasings elders in die maatskappy betref.

Hy gaan Amsa as werkgewer ook tot verantwoording roep oor die voortslepende gesukkel, en meer besonderhede eis oor die mislukkings van die kritieke regeringsgesprekke ná afloop van die Amsa-noodkreet.

Volgens Venter sou dit bloot regverdig wees om ʼn aanduiding aan vakbonde en die algemene publiek te gee van wat in die gesprekke skeefgeloop het sodat diegene wat daardeur geraak word hulle situasie beter kan begryp.

Verder is Amsa ʼn duidelike antwoord aan Solidariteit en Suid-Afrika verskuldig oor die pad vorentoe, selfs al bestaan daar wye begrip vir die druk waaronder die staalbedryf tans verkeer en die gebrek aan die vraag na produkte wat hulle sake lamlê.

“Ons kan egter nie jaar na jaar met herstrukturerings en potensiële afleggings gekonfronteer word soos wat tans die geval is nie. Dit is nou al vyf jaar lank die geval.

“Met die komende konsultasie gaan ons wil weet wat hulle driejaar- of vyfjaarsakeplan is, en hoe hulle ʼn einde aan hierdie alewige afleggingsprosesse gaan maak. Ons dring nou aan op duidelikheid,” sê Venter.

Solidariteit sal verder ook met sy lede konsulteer en sal Amsa met die mandaat wat hy in die proses ontvang het tegemoetgaan om só die beste uitkoms vir sy lede te beding.

Voorts begryp Solidariteit dat langstaalproduksie nie sonder daadwerklike ingryping van die regering, Eskom en Transnet gered sal kan word nie. Dit is die rede waarom gesprekke tussen Amsa en die regering vir beter oplossings moes gesorg het.

“Ons wil weet hoekom die gesprekke dan gefaal het. Dit hou ernstige gevolge in, wat ook ons eie lede raak. Maar, die gevolge strek verder – selfs verder as net die Newcastle-omgewing, waar die impak inderdaad baie groot en werksgeleenthede uiters skaars is.

“Dit is ook sleg vir die maatskappye wat afhanklik is van die staal wat Amsa vervaardig én vir ysterertsmyne in ander dele van die land wat ystererts aan Amsa verskaf. Dit is nie net 3 500 werknemers en hulle gesinne vir wie 2025 op hierdie hartseer noot begin nie,” sê Venter.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel