loading
avatar
Artikels
1 jaar gelede
leer-by-miekeraai-n-jong-entrepreneur-wat-haar-stempel-afdruk

Foto Krediet: Pexels

Leer by Miekeraai: ʼn jong entrepreneur wat haar stempel afdruk

Deur Ané Janse van Rensburg

Mia Botha is die eienaar van Miekeraai, ʼn suksesvolle aanlyn winkel waar sy vroue om haar pinkie draai met haar aanbod van die nuutste modes en giere. Met ʼn oog vir detail en ʼn sin vir styl, het sy nie net produkte geskep nie, maar ook ʼn platform waar haar visie lewe kry.

Solidariteit gesels met Mia oor hoe Miekeraai ontstaan het, en sy deel wenke met jong voornemende entrepreneurs wat self die sprong na hul eie besigheid oorweeg. Of jy nou aan die beginfase van jou besigheidsreis is, of reeds die eerste tree gegee het, bied Mia se insigte en ervarings praktiese raad en inspirasie om jou op die regte pad te hou.

Wat was die grootste uitdaging wat jy teëgekom het toe jy jou aanlyn klerewinkel begin het, en hoe het jy dit oorkom?

Een van die grootste uitdagings was dat ʼn mens nie onmiddellik fondse of kapitaal het om alles aan te koop wat mense graag sou wou hê nie, en dat jou besigheid net groei deur jou eie kapitaal te gebruik, en nie dié van die mense wat in jou besigheid belê nie. Miekeraai het begin toe ek R300 gebruik het om voorraad, kraletjies en allerhande goedjies te koop om oorbelle te maak en die besigheid mee te begin. Daardie oorbelle het ek verkoop en met die R600 weer gekoop en verkoop. So het ʼn mens se geld maar verdubbel tot jy ʼn volwaardige besigheid het wat groei deur die kapitaal wat jy inkry.

Al hoe jy hierdie uitdaging oorkom is om die kapitaal wat jy maak weer in jou besigheid te belê.

Watter vyf dinge wens jy jy het geweet toe jy as entrepreneur begin het?

Ek wens ek het geweet dat mense jou altyd gaan na-aap as hulle sien iets werk. Tweedens is kompetisie ʼn groot ding, maar jy moet dit op ʼn positiewe manier kan benut. Derdens neem dit tyd om jou besigheid te laat groei. Dit gebeur nie net oornag nie. Dis baie belangrik om jou besigheid konstant te laat groei, maar dit vat tyd. Die vierde ding is ʼn mens se span gaan altyd verander. Jy dink jy belê in jou mense, maar hulle wil ook groei en as jy nie vir hulle hierdie groei kan bied nie, gaan hulle groener weivelde soek. Laastens, dit wat jy insit, is dit wat jy gaan uitkry. Dis belangrik om te belê in jou besigheid, nie net jou geld nie, maar ook jou tyd.

Hoe het jy jou unieke handelsmerk en styl in ʼn baie mededingende mark ontwikkel?

In ʼn baie mededingende mark is dit baie belangrik om uniek en eie aan jou handelsmerk te bly. Eerstens het ek ʼn naam gekies wat uniek is en nie iets is wat enige iemand anders kan gebruik nie. Ek het wel ook ʼn Afrikaanse naam gekies omdat ek soveel ondersteuning van die Afrikaanse gemeenskap en organisasies soos Solidariteit en Akademia en AfriForum gekry het. Ek het daarom gekies om trots Afrikaans te wees. Miekeraai was my bynaam toe ek klein was. Dit was dus iets persoonlik wat ek kon gebruik. Die handelsmerk en logo moes mense se aandag trek. Die “Miekeraai” woord is treffend, terwyl “modemal” sag is. Ons slagspreuk, “modemal” is ook lekker Afrikaans – ons is letterlik modemal, so alles wat in die mode is, wil ons aanhou.

Wat het jou geïnspireer om ʼn aanlyn juwele- en bykomstighedewinkel te begin, en hoe het jy jou nismark geïdentifiseer?

Miekeraai was nie ʼn bewustelike besluit nie, dit het eintlik maar net gebeur. Ek en ʼn vriendin het op universiteit begin om juwele te maak en ons het gesien daar is ʼn groot aanvraag na bekostigbare modebykomstighede onder damestudente. So het ons besef dat daar wel ʼn gaping is. Ek het verder besluit om voorraad aan te koop en so met die besigheid aan te gaan.

Ek dink ʼn mens se mark groei saam met jou. My mark het saam met my begin toe ek ʼn student was, en dit het saam met my gegroei. My mark was definitief die student omdat my produk ʼn baie bekostigbare produk was.

Watter advies het jy vir ander jong entrepreneurs wat hul eie aanlyn besigheid wil begin?

My advies is definitief om te begin met dit wat jy het. Moenie wag tot jy genoeg kapitaal of tyd het nie. Begin jou besigheid in jou spaartyd. Dit sal wel groei en kapitaal begin maak sodat jy groot kan gaan daarmee!

Solidariteit se Jongwerkende-lidmaatskap wil saam met jou daardie eerste tree neem om vlerke aan jou toekomsdrome te gee. Skep vandag jou Solidariteit-profiel en wees deel van ʼn aanlyn gemeenskap waar jy kan leer, netwerk en opwindende geleenthede kan aangryp! Moenie op jou laat wag nie!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel