loading
Artikels
4 dae gelede
leer-jou-hoerskoolkind-vaardighede-wat-hulle-vir-altyd-gaan-nodig-he

Foto Krediet: OkayDeer

Leer jou hoërskoolkind vaardighede wat hulle vir altyd gaan nodig hê

Anja van den Berg

As ʼn ouer wil jy jou tiener voorberei vir die grootmenswêreld, maar sonder om elke tree van die pad vir hulle voor te skryf. Dis ʼn fyn balans. Jy moet leiding, gee maar net genoeg terughou sodat jou kind leer om self te dink, self te doen en self die gevolge van hul besluite te dra. Dít is waar die ware leerskool lê.

Kom ons kyk na ʼn paar vaardighede wat jy jou hoërskoolkind kan help ontwikkel. Hierdie vaardighede is nie net relevant vir die skooljare nie, maar is ook noodsaaklik vir die res van hul lewe.

1. Lewenslange leer

Die wêreld verander vinniger as wat ons kan byhou. Vandag se kennis kan môre verouderd wees. Leer jou kind dat leer nie by die klaskamer eindig nie; dis ʼn lewenslange ingesteldheid. Moedig nuuskierigheid aan: vra saam vrae, lees breër as net die voorgeskrewe boeke en wys hoe jy self nuwe uitdagings aanpak.

Maak dit prakties: Laat jou tiener YouTube-video’s kyk oor ʼn stokperdjie, of kies ʼn artikel, boek of e-leerkursus wat niks met skoolwerk te doen het nie. Maak dit ʼn lekker besprekingspunt tydens aandete.

2. Verhoudingbou

Vriende op sosiale media is een ding, maar verhoudings in die regte wêreld is ʼn perd van ʼn heel ander kleur. Help jou tiener om te verstaan dat vertroue en respek die grondslag van sterk persoonlike en professionele bande is. Dit begin by klein dingetjies: om jou woord te hou, regtig te luister en empatie te toon. Hierdie interpersoonlike vaardighede maak deure oop – op universiteit, in die werkplek en selfs in vriendskappe.

Doen dit só: Moedig jou tiener aan om ʼn geselsie met nuwe klasmaats aan te knoop, of vra dat hulle iemand help wat sukkel. Dit bou selfvertroue én bande.

3. Beplanning

Skoolprojekte, sportbyeenkomste, eksamens, sosiale planne … ʼn tiener se kalender is dikwels voller as hul ouers s’n! Help jou kind om die gewoonte aan te leer om vooruit te dink: Watter take lê voor? Hoe word dit in hanteerbare stappe opgebreek? Watter hulpmiddels (soos ʼn dagboek of ʼn toep) kan help?

ʼn Lekker wenk: Sit Sondagaand saam en kyk na die week se verpligtinge. Skryf dit neer en merk watter take eerste aandag moet kry.

4. Tydbestuur

Tyd is een van die skaarsste hulpbronne en tieners oorskat dikwels hoeveel hulle daarvan het! Leer hulle die kuns van prioritisering. Dit gaan nie net daaroor om te besluit wat om eerste te doen nie, maar ook wat om nié te doen nie.

Hier’s ʼn idee: Help jou tiener om die drie belangrikste take vir die dag te lys en moedig hulle aan om hierdie take eerste af te handel.

5. Sperdatums

Sperdatums leer jou kind verantwoordelikheid en aanspreeklikheid. Laat hulle self besluit hoe om ʼn taak af te handel, maar wees ferm oor die einddatum. Dit sal hulle help om te leer dat uitstel duur gevolge kan hê en dat betroubaarheid ʼn deurslaggewende eienskap is.

ʼn Goeie wenk: As ʼn projek oor twee weke ingegee moet word, breek dit op in teikendatums, byvoorbeeld navorsing voltooi teen Vrydag, skryfwerk teen Maandag.

6. Werk-lewe-balans

Selfs tieners kan uitbrand as hulle net jaag van die een aktiwiteit na die volgende. Harde werk is belangrik, maar rus en ontspan is ewe noodsaaklik. Wys jou kind hoe belangrik dit is om ʼn gesonde balans te vind. Dit is ʼn les wat baie volwassenes dikwels te laat leer, maar wat baie stres en pyn kan verhoed as dit reeds vroeg vasgelê word.

Dink vooruit: Maak ʼn reël dat daar weekliks tyd opsy gesit word waar geen skerms, geen werk en geen druk is nie. Gebruik dié tyd om saam te ontspan, te lees of saam te gaan stap.

Die pad vorentoe

Ons kinders moet reeds op hoërskool belangrike loopbaankeuses maak. As ouers kan ons hulle toerus met vaardighede en selfvertroue, maar hulle het ook die regte inligting en ondersteuning nodig om goeie besluite te neem.

Gee vir jou kind die voorsprong wat hulle verdien. Die keuses wat hulle nóú maak bepaal die res van hul lewe. Sluit aan by Solidariteit se gratis Skoliere-aanbod en help jou kind om met selfvertroue vorentoe te beweeg. Klik hier!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel