loading
Artikels
4 dae gelede
slyp-so-jou-kind-se-entrepreneursvaardighede

Foto Krediet: OkayDeer

Slyp só jou kind se entrepreneursvaardighede

Deur Anja van den Berg

Is jou kind toekomsgereed? Jou kind gaan waarskynlik nie net een werk hê nie – dalk selfs nie eens net een loopbaan nie. Wat wel konstant gaan wees, is die behoefte aan vaardighede wat buigsaamheid, selfstandigheid en kreatiwiteit aanmoedig. Dis waar entrepreneurskap ʼn sleutelrol speel. En dis nie net relevant vir tieners wat eendag hul eie ondernemings wil begin nie. Dis noodsaaklike vaardighede vir enigiets van vryskutwerk tot projekbestuur.

As ʼn ouer speel jy ʼn deurslaggewende rol in jou kind se entrepreneursvaardighede. Jou reaksie op hul idees – en jou ondersteuning – kan werklik hul potensiaal maak of breek. So waar begin jy?

Begin by hierdie vyf vrae om praktiese stappe te identifiseer en saam ʼn plan te bou wat vir julle gesin werk.

1. Hoeveel ekstra tyd gaan julle nodig hê?

Die lewe van ʼn hoërskoolkind is reeds propvol: skoolure, huiswerk, sport, kultuur … en dan wil hulle ook nog ʼn entrepreneur wees? Dis moontlik, maar dit vereis beplanning. Kyk saam na hulle skedule en identifiseer tydgleuwe wanneer hulle realisties op hul idee, diens of produkte kan fokus. Moedig entoesiasme aan, maar help hulle ook om uitbranding en teleurstelling te vermy deur verwagtinge hanteerbaar te hou.

2. Hoeveel kapitaal gaan hulle benodig?

Dis maklik om te sê ʼn mens wil ʼn onderneming begin, maar wat van die koste vir materiale, drukwerk, verpakking of versending? Hierdie is ʼn waardevolle geleentheid om jou kind te leer wat ʼn voorlegging of begroting behels – asof hulle vir ʼn lening aansoek doen. Jy kan selfs die “beleggingsbank” wees (bonuspunte as jy rente vra)! Dit gee hulle ʼn realistiese blik op ʼn onderneming se finansiële bestuur en lê die grondslag vir groter drome later in hul lewe.

3. Watter ondersteuning sal jy as ouer moet bied?

Hier raak dit prakties. Gaan jy ʼn mentor wees? Sal jy moet help rondry, bestellings aflewer of inkopies doen? Sal jy gemaklik daarmee wees as produkontwikkeling in jou kombuis of garage plaasvind? Sal jou kind se vriende ook betrokke wees? Wees eerlik oor jou eie tyd, kapasiteit en energie. Moenie skroom om grense te stel nie; selfs entrepreneurs moet leer om binne werklike grense te werk.

4. Gaan jou kind nuwe vaardighede moet aanleer?

Dalk moet jou kind leer hoe om ʼn logo te ontwerp of om met kliënte oor WhatsApp te kommunikeer. Dalk sal ʼn kort kursus in Excel help met die opstel van kosteberekeninge. Gebruik dit as ʼn gulde geleentheid om saam met jou kind iets nuuts te leer – dalk selfs iets waarin jy self nooit opgelei is nie. Ja, daar mag dalk kostes aan verbonde wees, maar hou die langtermynwaarde in gedagte: jy help hulle om aan hul selfvertroue én hul CV te bou.

5. Hoe raak dit die res van die huisgesin?

Onderbreek jonger boeties of sussies mekaar dalk dikwels gedurende “werksure”? Gaan jy jou aandag tussen verskillende kinders se behoeftes moet verdeel? Is die eetkamer nou ook ʼn kantoor? Dis belangrik om realisties te wees oor tyd, aandag en ruimte vir elkeen in die gesin. Gesels openlik oor frustrasies en maak saam planne om dit uit te stryk.

6. Ouerskap én entrepreneurskap begin by gesprekke

Jou kind se sukses as entrepreneur begin nie met ʼn sakeplan nie; dit begin met jóú wat luister en ondersteun. Droom saam met jou tiener en wys dat jy in hulle glo. Uiteindelik gaan dit nie net oor ʼn klein onderneming nie, maar oor hoe jy ʼn sterk verhouding met jou kind bou en hoe hul selfvertroue daaruit groei.

Wil jy jou kind se entrepreneursvaardighede slyp? Kyk gerus ons kort, gratis video, My kind as ʼn entrepreneur, vir ouerleiding en praktiese advies. Wie weet, dis dalk selfs die inspirasie wat jý nodig het om daai droomprojek saam aan te pak! Skep jou gratis profiel op Solidariteit om toegang tot hierdie video en talle ander waardevolle hulpbronne te kry.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel