loading
Artikels
4 dae gelede
leer-jou-kind-hoe-om-navorsing-vir-hul-take-te-doen

Foto Krediet: OkayDeer

Leer jou kind hoe om navorsing vir hul take te doen

Deur Anja van den Berg

Kan rekenaartegnologie jou kind help om take en navorsing baas te raak? Beslis! Navorsing is vinniger, makliker en selfs lekkerder as ooit. Dit is egter belangrik dat jou tiener leer hoe om slim, verantwoordelik en selfstandig te werk.

Solidariteit het ʼn praktiese video saamgestel wat hoërskoolleerders presies wys hoe om navorsing stap vir stap aan te pak. As ouer speel jy ʼn sleutelrol: Moedig jou kind aan om die video te kyk en help hulle om die basiese navorsingsvaardighede vas te lê. Só bou jy nie net vir die volgende taak nie, maar ook vir die toekoms.

Navorsing met ʼn plan: vyf eenvoudige stappe

Goeie navorsing begin altyd met ʼn plan. Hier’s vyf slim stappe en wenke om jou kind te help:

1. Ontwikkel die onderwerp

Die grootste fout wat leerders maak, is om die net te wyd te gooi.

  • Help jou kind om die opdrag noukeurig te lees en om vrae te vra soos: “Wat presies word van my verwag? Wat moet ek verduidelik, ontdek of argumenteer?”
  • Moedig hulle aan om self vrae te stel. Gebruik die basiese struktuur van wie, wat, waar, wanneer, waarom en hoe.
  • Hoe meer spesifiek die onderwerp, hoe makliker is die taak. Byvoorbeeld: “Suid-Afrikaanse vlieëniers se rol in die Tweede Wêreldoorlog” is baie meer gefokus as bloot “die Tweede Wêreldoorlog”.

2. Maak inligting bymekaar

Nou begin die soektog. Ja, die internet is vol inligting, maar nie alles is ewe betroubaar nie.

  • Moenie sommer na die eerste beste webblad gryp nie! Die eerste soekresultaat gee nie noodwendig die korrekte (of volledige) inligting nie. Moedig jou kind aan om deur ʼn verskeidenheid bronne te werk.
  • Help jou kind om slim te soek. Soek betroubare bronne soos opvoedkundige webtuistes, erkende vaktydskrifte en navorsing wat deur gevestigde universiteite gepubliseer word.
  • Dink verder as die internet. Skoolhandboeke, boeke en selfs onderhoude met kenners dra by tot goeie navorsing.

3. Evalueer en ontleed die inligting

Hier word die kaf van die koring geskei. Elke webblad of video is nie ewe waardevol nie. Help jou kind om altyd ʼn paar kritiese vrae te vra vóór hulle ʼn bron gebruik:

  • Kan ek hierdie bron vertrou? Fopnuus is oral! Leer jou kind om betroubare bronne uit te ken. Het die skrywer die nodige kennis of ervaring om die onderwerp te bespreek?
  • Is die data bygewerk en relevant? Inligting raak gou verouderd, veral in sekere vakgebiede. Kontroleer altyd of daar nie dalk nuwe navorsing of data beskikbaar is wat die ouer bron kan vervang nie.
  • Is die inligting bevooroordeeld? Sommige bronne laat soms sekere feite doelbewus weg om net een kant van die storie te wys. Moedig jou kind aan om krities te dink oor of die bron die volle prentjie gee, of dalk doelbewus iets uitsluit.

4. Skryf, organiseer en kommunikeer die inligting

Help jou kind om hul notas te orden en die inligting self te verwerk voordat hulle begin skryf.

  • Beplan hoe die eindproduk gaan lyk. Besluit saam hoe die taak uiteindelik moet lyk, met ʼn duidelike inleiding, liggaam en slot.
  • Lys die belangrikste punte. Laat hulle kortliks die kernfeite of idees neerskryf sodat niks verlore raak as hulle uiteindelik begin skryf nie.
  • Skryf opsommings in hul eie woorde. Moedig jou kind aan om die inligting self te verduidelik, nie net af te skryf nie. Dit help hulle om te verstaan wat hulle geleer het.

5. Haal bronne aan

Hierdie stap is ononderhandelbaar. Dit is nie net ʼn reël nie – dit wys respek vir iemand anders se werk.

  • Stel ʼn bronnelys van die begin af saam. Leer jou kind om altyd die oorspronklike bron van die inligting wat hulle gebruik het te erken.
  • Waarsku teen “copy and paste”. Dit kan as plagiaat gesien word, wat ʼn ernstige saak is.
  • Dui bronne korrek aan. Voetnotas, direkte aanhalings en/of ʼn bronnelys is aanvaarbare maniere om bronne aan te haal. Jou kind se onderwyser sal die formaat wat die skool verkies, aandui.

By Solidariteit glo ons dat kinders wat weet hoe om doeltreffende navorsing te doen, beter voorbereid is vir die toekoms – nie net in die klaskamer nie, maar ook later in die werkplek. Met jou leiding, en Solidariteit se hulpmiddels, kan jou kind elke skooltaak baasraak! Ontgin Solidariteit se hulpbron, My Hoërskoolpad, en gee jou kind se drome vlerke.

Skep jou gratis profiel vandag nog.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel