
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Leer jou toekoms oop met Solidariteit
Deur Maryna Eksteen
Om te studeer is nie net belangrik vir opvoedkundige ontwikkeling nie, maar bou ook persoonlike vaardighede op. Om goeie studievaardighede te hê kan jou selfvertroue, bekwaamheid en selfbeeld verbeter.
Solidariteit is verantwoordelik vir voortgesette leer en opnames toon dat voortgesette opleiding een van Solidariteit-lede se grootste behoeftes is. Die vraag is immers hoe kan ons lewenslange leer deel van ons beroepsnetwerke maak sonder dat dit afgedwing word? Lede moet self verantwoordelikheid neem vir hulle meesterskap. Onthou, jou toekoms is in jou hande. Die samestelling van die voortgesette leer word dus só ontwikkel dat elke gebruiker self beheer oor sy of haar loopbaanpad kan uitoefen.
Met die ontwikkeling van beroepspesifieke leermodules word daar seker gemaak dat daar aan sekere aspekte voldoen word wat direk aan e-leer gekoppel kan word. Ons maak seker dat die ontwikkeling mensgebaseer en interaktief van aard is. Deelnemers gaan dus die hele tyd aktief besig wees wanneer hulle leer. Die gebruik van tegnologie en nuwe metodes van ontwikkeling is deel van die beplanning wat oor die volgende twee jaar geloods sal word.
Beoogde voortgesette leerprogramme om die netwerke te versterk, gaan by die volgende areas ontwikkel word:
- Jeug (loopbaankeusepad)
- Jongwerkende (gereedskapskis vir jong werkendes)
- Onderwys (sluit slypskool en SACE-geakkrediteerde opleiding in)
- Ambagte (kredietdraende opleiding in samewerking met Sol-Tech)
- Finansiële Beroepe (sluit slypskool en VPO-punte in)
- Dokters (sluit VPO-punte in)
- Maatskaplike werkers (sluit VPO-punte in)
- Regslui (sluit slypskool en die jongste ontwikkelings in die regswese in)
Behalwe beroepspesifieke opleiding is daar ook ander opleiding wat op die aanleer van ʼn spesifieke vaardigheid of lewensvaardigheid fokus en wat ook algemeen beskikbaar is. Klik hier om meer te lees oor voortgesette leer.
Leer jou toekoms saam met Solidariteit oop sodat jy vry, veilig en voorspoedig kan wees. Loer hier vir meer inligting.