loading
avatar
Artikels
1 week gelede
leermyleierskap-help-jou-leerders-om-leiers-te-word-met-of-sonder-n-balkie

Fotokrediet: OkayDeer

#LeerMyLeierskap: Help jou leerders om leiers te word – met of sonder ʼn balkie

Deur Leré Nel

Dit is leierverkiesingstyd by skole. Onder leerders is daar gewoonlik groot afwagting – wie gaan volgende jaar ʼn balkie dra? Maar vir onderwysers bied hierdie tyd ook ʼn belangrike geleentheid om leerders iets te leer: ware leierskap verg nie ʼn titel nie.

Onderwysers speel elke dag ʼn vormende rol in die soort volwassenes wat leerders eendag gaan word. Daarom is leierskapsontwikkeling nie net iets wat tydens ʼn leierskamp of leerlingraadverkiesing hoef te gebeur nie. Dit begin reeds wanneer ʼn onderwyser ʼn leerder vertrou om verantwoordelikheid te neem, hom of haar aanmoedig om ʼn uitdaging aan te pak of ʼn geleentheid skep om ander te dien.

Dit is juis dié boodskap wat Solidariteit se #LeerMyLeierskap-reeks aan graad 7- tot 11-leerders oordra. Die gratis aanlyn reeks bied onderwysers ʼn praktiese hulpmiddel om leerders gedurende leierverkiesingstyd, maar ook daarna, te help verstaan wat dit werklik beteken om ʼn leier te wees.

Leierskap verg nie ʼn balkie nie

Volgens Mari Ferreira, organiseerder van Solidariteit se Skoliere-aanbod, begin die ontwikkeling van jong leiers lank voordat ʼn leerder formeel as leier verkies word.

“Leierskap begin lank voordat ʼn leerder ʼn balkie ontvang,” sê sy. “Onderwysers speel ʼn belangrike rol deur leerders raak te sien, te vertrou en geleenthede te gee om verantwoordelikheid te neem. Of dit nou in die klaskamer, op die sportveld of tydens ʼn kultuuraktiwiteit is, elke dag bied geleenthede om leierskappotensiaal raak te sien, aan te moedig en te ontwikkel.”

Die tyd waarin leiers verkies word, is vir onderwysers ʼn gulde geleentheid om met ʼn hele klas of graad oor die betekenis van leierskap te praat.

“Die leierverkiesingstyd plaas leierskap in die kollig en skep ʼn natuurlike geleentheid om die gesprek verder te voer as wie verkies gaan word. Dit is ʼn geleentheid om leerders te laat besef dat leierskap nie net vir ʼn uitgesoekte groep beskore is nie. Elke leerder het die vermoë om ʼn positiewe invloed op ander te hê,” sê Ferreira.

Gewildheid behoort nie die maatstaf te wees nie

Leierverkiesings kan maklik in ʼn gewildheidskompetisie ontaard. Daarom is dit in die tyd voor ʼn verkiesing besonder belangrik om leerders te laat nadink oor watter eienskappe hulle eintlik in ʼn leier behoort te soek.

Ferreira verduidelik dat temas soos selfkennis, identiteit, invloed, verantwoordelikheid en kommunikasie juis daarom deel van die #LeerMyLeierskap-reeks vorm.

“#LeerMyLeierskap help leerders om dieper te dink: Nie net ‘Wie moet ek kies?’ nie, maar ‘Watter eienskappe maak iemand ʼn leier wat ek kan vertrou en volg?’”

Die reeks bestaan uit ses praktiese lesse wat onder meer fokus op watter soort leier ʼn leerder is, die kern van leierskap, die hantering van verskille en konflik, moeilike besluite, diensbaarheid en die benutting van geleenthede.

Vir ʼn onderwyser beteken dit dat daar reeds ʼn gestruktureerde hulpmiddel beskikbaar is waarmee belangrike gesprekke oor leierskap aangevul kan word. Die inhoud kan leerders help om nie net ander leiers beter te kies nie, maar ook hul eie gedrag, waardes en invloed te ondersoek.

ʼn Praktiese hulpmiddel vir onderwysers

Onderwysers hoef nie self ʼn volledige leierskapprogram van nuuts af saam te stel om hierdie ontwikkeling te ondersteun nie.

“#LeerMyLeierskap bied aan skole ʼn gestruktureerde manier om leerders toe te rus met praktiese vaardighede, soos kommunikasie, verantwoordelikheid en besluitneming. Die doel is nie net om leiers vir vandag se leerlingraad voor te berei nie, maar om jong mense toe te rus om verantwoordelikheid te neem, ander te dien en ʼn positiewe verskil te maak – met of sonder ʼn titel,” verduidelik Ferreira.

Onderwys gaan nie net oor wat ʼn leerder weet nie, maar ook oor wie daardie leerder eendag gaan wees. Daarom is onderwysers se rol in die ontwikkeling van leiers besonder belangrik. Solidariteit se #LeerMyLeierskap-reeks bied onderwysers ʼn maklike en praktiese manier om leerders met hierdie belangrike vaardighede toe te rus.

Moedig jou leerders aan om vandag nog met #LeerMyLeierskapte begin en gebruik die kode “Leierskap26” vir gratis toegang tot die reeks.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel