Fotokrediet: Okay Deer
Gekopieër
Niemand leer jou hoe om te leer nie
Deur Karen Waldeck
As iemand my ses jaar gelede gevra het wat die beste leermetode is, sou ek waarskynlik gesê het: “Lees net jou werk oor en maak opsommings.” Vandag weet ek dit werk nie vir almal nie.
Ná ses jaar van studeer op die moeilike manier, het ek eers onlangs besef dat die probleem nooit was dat ek nie hard genoeg gewerk het nie. Die probleem was dat ek probeer leer het op ʼn manier wat eenvoudig nie vir my brein gewerk het nie.
Ons word op skool geleer wat om te leer, maar amper nooit hóé om te leer nie. Wanneer jy in graad 12 is of selfs jou eerste jaar op universiteit begin, dink jy maklik dat almal anders weet wat hulle doen. Jy sien hoe iemand ná een keer se deurlees onderskeidings kry, terwyl jy ure voor jou boeke sit en voel asof niks wil vassteek nie.
Die waarheid is dat elke mens anders leer. En totdat jy uitvind hoe jóú brein die beste werk, gaan studeer altyd moeiliker voel as wat dit hoef te wees.
Begin deur jouself ʼn paar vrae te vra
Voordat jy nóg ʼn nuwe studiemetode probeer, vra eerder vir jouself:
- • Onthou ek iets beter wanneer ek dit sien, hoor of self doen?
- • Word ek vinnig verveeld wanneer ek net lees?
- • Help dit my om die werk vir iemand anders te verduidelik?
- • Kan ek ure lank stilsit, of moet ek kort pouses neem?
- • Onthou ek beter wanneer ek kleure, diagramme of prente gebruik?
Daar is geen regte of verkeerde antwoorde nie. Hierdie vrae help jou net om patrone raak te sien.
Probeer verskillende metodes
Moenie aanvaar die eerste metode wat jy probeer, is die enigste een nie. Eksperimenteer:
- • As jy ʼn visuele leerder is, gebruik kleure, breinkaarte en diagramme.
- • As jy beter leer deur te luister, neem stemnotas op of verduidelik die werk hardop vir jouself.
- • As jy prakties leer, probeer oefenvrae doen eerder as om net die teorie oor en oor te lees.
- • En as jy steeds nie seker is nie, kombineer verskillende metodes totdat iets begin “klik”.
Moenie studeer met leer verwar nie
Een van die grootste foute wat ek gemaak het, was om te dink dat ure voor my boeke beteken ek leer. Om ʼn hoofstuk vyf keer te lees, beteken nie noodwendig jy gaan dit in die eksamen onthou nie.
Navorsing toon dat aktiewe leer baie meer effektief is. Dit beteken om jouself gereeld te toets, ou vraestelle te doen, neer te skryf wat jy onthou en konsepte in jou eie woorde te verduidelik.
Wanneer jy moet dink om die antwoord te onthou, oefen jy eintlik jou geheue.
Gee jouself ruimte om verkeerd te wees
Dit voel ongemaklik wanneer jy jouself toets en jy besef hoeveel jy vergeet het. Maar dis juis daardie ongemak wat jou help om beter te leer.
Moenie moed verloor as ʼn metode nie dadelik werk nie. Partykeer vat dit ʼn paar weke voordat jy agterkom wat die beste vir jou werk.
Gebruik die hulpmiddels wat reeds vir jou beskikbaar is
Jy hoef ook nie alles alleen uit te pluis nie. Solidariteit se Studente-aanbod bied toegang tot hulpmiddels wat jou studielewe baie makliker kan maak. Op Solidariteit-aanlyn kry jy onder meer praktiese studiewenke, hulpbronne soos gratis oefenvraestelle vir graad 12-eksamens en selfs ʼn gratis aflaaibare eksamenbeplanner wat jou help om beter voor te berei.
As ek eerlik is, wens ek iemand het vir my in my eerste studiejaar gesê dat sukses nie net afhang van hoe hard jy werk nie, maar ook van hóé jy werk. Dit sou my baie ure se frustrasie gespaar het.
Miskien is dit ook iets wat jy vandag moet hoor: As ʼn studiemetode nie vir jou werk nie, beteken dit nie jy is swak nie. Dit beteken net jy het nog nie die regte manier gevind nie. En wanneer jy dit wel vind, verander alles.