Fotokrediet: Okay Deer
Gekopieër
Jy is nie agter nie – jy bou nog!
Deur Karen Waldeck
Het jy jouself al in ʼn situasie bevind waar jy jou foon optel net om vinnig deur sosiale media te scroll? Binne vyf minute het jy al gesien hoe iemand verloof raak, iemand anders hul gradeplegtigheid vier, ʼn skoolvriend hul eerste huis koop en nog iemand ʼn foto plaas van hul eerste dag by hul droomwerk.
Jy is opreg bly vir hulle, maar iewers tussen al die gelukwensings begin is daar ʼn klein stemmetjie in jou kop wat vra:
“Doen ek genoeg?”
“Hoekom voel dit of almal anders presies weet waarheen hulle op pad is?”
“Is ek besig om agter te raak?”
As hierdie gedagtes al ooit deur jou kop gemaal het, is jy beslis nie alleen nie.
Geen tydlyn is die beste tydlyn
Ons is geneig om ons eie lewens te vergelyk met die enkele hoogtepunte wat iemand anders oor hulle s’n op sosiale media plaas. Sosiale media wys die gradeplegtighede, die verlowings, en al die ander groot mylpale. Dit wys nooit die ure se harde werk, die finansiële druk, die teleurstellings, die vakke wat oorgedoen moes word en die dae waarop mense self gewonder het of hulle ooit hul doelwitte gaan bereik nie.
Dis hoekom dit so gevaarlik is om te glo daar is ʼn “regte” tydlyn vir die lewe.
Jy behoort glo teen 22 af te studeer. Teen 25 moet jy jou loopbaan gevestig hê. Teen 30 moet jy finansieel onafhanklik wees. Maar inderwaarheid loop die meeste mense se lewens glad nie só nie.
Kyk byvoorbeeld na J.K. Rowling. Voordat sy die wêreld se bekendste kinderboekreeks geskryf het, was sy ʼn enkelma wat met finansiële uitdagings geworstel het. Uitgewers het haar manuskrip herhaaldelik afgekeur voordat Harry Potter uiteindelik gepubliseer is. Vandag ken miljoene mense haar naam, maar min mense onthou hoe lank haar pad na sukses werklik was.
Miskien is jy die eerste persoon in jou familie wat studeer. Of dalk probeer jy eenvoudig net hierdie semester deurkom.
Dit beteken nie jy is agter nie. Dit beteken jy is besig om te bou.
Elke toets waarvoor jy leer,opdrag wat jy indien en moeilike dag at jy oorleef is deel van iets groter. Al sien jy dit nie vandag nie, is jy stadig besig om die fondament te bou vir iets groter in die toekoms.
Jy is nie alleen nie
Dit help om mense om jou te hê wat verstaan hoe hierdie fase van die lewe voel. Dit is presies wat Solidariteit se Studentelewegroep is – ʼn gemeenskap waar studente mekaar ondersteun, raad deel, nuwe geleenthede ontdek en saam deur dieselfde uitdagings werk. Soms het jy net nodig om te besef dat jy nie die enigste een is wat hiermee sukkel nie, en dan met mense te kan kommunikeer wat presies weet hoe jy voel.
Die volgende keer wat jy deur sosiale media blaai en voel asof almal ʼn stap voor jou is, onthou: jy kyk na hulle hoogtepunte en vergelyk dit met jou hele lewe. Jy hoef nie iemand anders se tydlyn te volg nie. Elke struikelblok op jou pad, elke fout waaruit jy leer en elke klein tree vorentoe is deel van die lewe wat jy besig is om te bou.
Jy is nie agter nie. Jy bou net nog!