
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Leiers met empatie is meer suksesvol
Deur Anja van den Berg
Verandering is voortdurend in ons moderne wêreld; selfs stille waters bly nie vir te lank kalm nie. Met só baie skommelinge het ondernemings goeie leiers nodig om die skip bo water te hou in beide goeie en uitdagende tye.
Die nuwe wêreld van werk vereis dat organisasies wegbeweeg van tradisionele strategieë vir leierskapsontwikkeling en eerder die vaardighede kweek wat die belangrikste is vir sukses. Empatie is seker een van dié belangrikste leierseienskappe vir bestuurders in die 21ste eeu.
Empatie is die vermoë om die persepsies, emosies of ervarings van ander te verstaan en met deernis daarop te reageer. Empatie in die konteks van die leierskap in die werkplek beteken bloot dat mense bemagtig word om outentieke, empatiese verbindings met mekaar te vorm wat verhoudinge verbeter. Dit is egter belangrik om die verskil tussen simpatie en empatie te onthou, aangesien hulle dikwels met mekaar verwar word.
Wat is die verskil tussen simpatie en empatie?
Simpatie word tipies gedefinieer as die gevoelens van bejammering vir ʼn ander persoon, sonder om regtig te verstaan hoe dit is om in hul situasie te wees. Empatie, aan die ander kant, is produktief en ondersteunend. Dit verwys na die vermoë of kapasiteit om jouself in die situasie van ʼn ander persoon voor te stel en hul emosies, idees of opinies te ervaar.
Ongelukkig beskou baie leiers steeds empatie as ʼn sogenaamde “sagte vaardigheid” wat liefs nie as ʼn prestasiemaatstaf ingespan moet word nie. Navorsing deur die Center for Creative Leadership het egter die teenoorgestelde bewys. Dié sentrum het ʼn internasionale voetspoor met die doel om begrip, praktyk en ontwikkeling van suksesvolle leierskap wêreldwyd te bevorder tot voordeel van ʼn beter internasionale samelewing.
Met baie diepgaande studies op hul kerfstok, sê die Center for Creative Leadership dat vandag se deurslaggewende leiers mens-gefokus is en insig het in verskillende spanne, departemente, lande, kulture en agtergronde. Leiers se empatie is ook ʼn weerspieëling van hul werkprestasies en ander se persepsie van hul sukses.
Om te bepaal of empatie ʼn leier se werksprestasie beïnvloed, het die Center for Creative Leadership data van byna 7 000 middelvlakbestuurders in 38 lande ontleed. Die leiers in hul studie is beoordeel op hul vlak van empatie, soos gemeet deur die sentrum se Benchmarks® 360-grade-terugvoeraanwyser.
Die bevindinge was duidelik: Bestuurders wat met empatie lei, word deur beide hul hoofde én dié wat deur hulle bestuur word as beter presteerders beskou. Die resultate was konsekwent oor die hele steekproef. Waar mense berig het dat hul bestuurder empatie getoon het, het hoofde van daardie bestuurders hulle ook as hoëpresteerders bestempel.
Vandag se leiers het die vermoë nodig om komplekse uitdagings op nuwe en innoverende maniere aan te pak, terwyl hulle opreg empatie en deernis toon. Solidariteit se aanlyn kursus wat oor emosionele intelligensie handel sal jou mensevaardighede opskerp en jou as leier ophef. Dié webinaar duur vir ʼn uur en beloop R500, maar is gratis vir Solidariteit-lede. Waarvoor wag jy? Skryf vandag nog vir hierdie kursus in en maak jouself onmisbaar danksy Solidariteit!