loading
Artikels
1 jaar gelede
lenings-jou-regte-en-verantwoordelikhede

Foto Krediet: Towfiqu barbhuiya - Unsplash

Lenings, jou regte en verantwoordelikhede

Deur Nico Strydom

Skuld is soms amper onvermydelik. Maar dit is belangrik om te verstaan hoe die verskillende finansiële produkte werk en wat jou regte en verantwoordelikhede in dié verband is.

ʼn Persoonlike lening is geld wat jy by ʼn geregistreerde finansiëlediensteverskaffer leen en wat jy oor ʼn ooreengekome tydperk moet terugbetaal. Hierdie lenings verskil van ʼn mikrolening, wat die Nasionale Kredietwet as ʼn “korttermynkrediettransaksie” definieer, sê Nozizwe Fakude van DirectAxis. Mikrolenings is vir bedrae van minder as R8 000 en word oor ʼn tydperk van nie langer nie as ses maande terugbetaal.

Daar is twee soorte persoonlike lenings, gesekureerd of ongesekureerd. “ʼn Gesekureerde lening is waar jy iets van dieselfde waarde as die lening aanbied, soos ʼn huis of motor as waarborg dat jy die geld sal terugbetaal. As jy nie die lening oor die ooreengekome tydperk terugbetaal nie, kan dit wat jy ook al vir sekuriteit aangebied het, verkoop word om die geld terug te kry wat verskuldig is.”

ʼn Ongesekureerde lening word nie met ʼn  bate verseker nie. “In plaas daarvan bepaal jou kredietrekord of jou aansoek goedgekeur sal word en watter rente jy sal betaal. Jou inkomste, kredietgradering en of jy die lening kan bekostig, is van die inligting wat gebruik word om dit te besluit.”

Die Nasionale Kredietwet stel baie streng voorwaardes waaraan leningsverskaffers moet voldoen voordat geld geleen kan word. Hierdie vereistes is daar om verbruikers te beskerm en die verantwoordelikheid op die kredietverskaffers te plaas om noukeurig seker te maak dat die persoon, gebaseer op die inligting wat verskaf is, die lening kan bekostig.

“Jy sal gevra word om bewys van identiteit, verblyf en inkomste te verskaf. Die kredietverskaffer moet dan ʼn reeks stappe volg voordat geld geleen kan word. Dit sluit in, maar is nie beperk nie tot, die bevestiging van jou krediettelling, inkomste, enige geld wat jy skuld, asook hoeveel skuld jy het in vergelyking met wat jy verdien.”

Nozizwe sê as die kredietverskaffer enige bykomende inligting versoek of jy ander inkomste of uitgawes het, is dit belangrik om eerlik daaroor te wees.

“Selfs al het jy die geld regtig nodig, is dit ʼn slegte idee om meer te leen as wat jy kan bekostig. Nie net sal dit uiteindelik bydra tot finansiële druk op jou nie, maar dit kan ook jou vermoë om in die toekoms te leen beïnvloed.”

Die termyn van die lening is die tyd wat jy het om dit terug te betaal. Dit hang af van die kredietverskaffer, die bedrag wat jy leen, jou finansiële posisie asook jou voorkeur ten opsigte van die terugbetalingstermyn. Solidariteit Finansiële Dienste (SFD) bied onafhanklike en onkreukbare finansiële dienste aan lede en nie-lede deur waardegedrewe advies in Afrikaans te lewer.

Moenie toelaat dat jou skuld jou beheer nie. Indien jy nog nie ʼn Solidariteit-lid is nie, klik hier om onder ʼn minuut ʼn lid te word. ʼn Mens weet nooit wanneer jy van die voordele van lidmaatskap gaan benodig nie.  

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel