
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Liefdadigheid begin by Ackermans Apteek want #JyHoortHier
Deur Maryna Eksteen
Wanneer ‘n mens by Ackermans Apteek inloop, kry jy ’n gevoel van omgee, gemeenskap en barmhartigheid. Buiten die liefde vir die gemeenskap het die apteek al diep spore in baie harte getrap. Hulle sit nie bloot terug en wag op geleenthede nie; hulle staan op en sê: #OnsSalSelf.
Ons sal self die strate vee. Ons sal self na ons bejaardes omsien. Ons sal self ‘n kliniek oprig om bekostigbare mediese sorg van hoë gehalte vir die gemeenskap moontlik te maak. Ons sal self omsien na ons behoeftige mense in die gemeenskap. Ons sal self!
Ackermans Apteek is in 1948 gestig deur ‘n Joodse apteker, mnr. Louis Ackerman, op ‘n klein stukkie grond nie te ver van die huidige apteek nie. In 1974 het mnr. Ackerman uitgebrei en sy broer se meubelwinkel gekoop en dit in ‘n apteek omskep. Jan van Wyk het ongeveer in 1980 die apteek by mnr. Ackerman oorgeneem, en in 1996 het Johan van Wyk as intern by Ackermans Apteek begin werk. Hy is dus reeds meer as 25 jaar by die apteek betrokke. Vandag word die ou apteek wat eens ‘n meubelwinkel was, as ‘n mediese sentrum gebruik wat ten doel het om mediese sorg van hoë gehalte aan die gemeenskap te bied teen bekostigbare tariewe. Die apteek is vandag amper so groot soos ‘n winkelsentrum en die gemeenskap kan sommer net oor die pad stap van die mediese sentrum om hul medikasie te kry.
Ackermans Apteek het oor die jare heen met groot sukses uitgebrei en sien werklik om na die gemeenskap se behoeftes. Wanneer ‘n mens agter die skerms van die goed geoliede masjien instap, is die vriendelikheid van die personeel amper aansteeklik. Ackermans Apteek pak op ‘n weeklikse grondslag medikasie vir die ouetehuise sodat die susters of versorgers die regte doserings aan die bejaardes kan toedien. Die proses is baie arbeidsintensief en die apteek maak geen wins uit die proses nie. Buiten die apteek is Johan ook betrokke by ‘n sopkombuisprojek waar hulle broodjies en sop aan behoeftiges in die gemeenskap verskaf. Volgens Johan was dit nog altyd sy droom om by ‘n sopkombuis betrokke te wees. Johan se goeie inisiatiewe stop egter nie daar nie. Volgens Johan het hy gesien die strate is vuil en klagtes het op dowe ore geval, en daarom het hulle die straatskoonmaakprojek geloods.
‘n Baie nederige Johan dra al die apteek se suksesse op aan die Here, en hy is van mening dat die Here reeds in 1984 bestem het dat ‘n meubelwinkel ‘n mediese sentrum gaan word. Volgens Johan is die gaping tussen die staat se mediese sorg en private mediese sorg net te groot, en daarom het hulle besluit om ‘n middeweg tussen staat en privaat te vind om die behoeftige gemeenskap te kan help. Die mediese sentrum bied onder meer pediatriese sorg, sonargeleenthede vir swanger vroue, ‘n oogarts, tandarts, laboratoriums vir bloedtrekdienste, en ’n babakliniek.
Die apteek se hart klop deur en deur vir sy gemeenskap en dit vertel ‘n storie van hoop. Volgens Johan is sy deure altyd oop vir raad en glo hy dat dit belangrik is vir aptekers om met mekaar te netwerk. “Baie goed wat ek in Ackermans Apteek toegepas het, het ek by klein apteke gesien. Ons as apteek is nie te groot om te leer nie. Ons kan almal by mekaar leer.”
Alles wat Ackermans Apteek jare lank sonder ophef gedoen het, het die gemeenskap opgehef, en volgens Johan bly die gemeenskap die dryfkrag agter alles wat die apteek aanpak.
Jy kan gratis gebruik maak van Solidariteit as ʼn deelnemer deur ʼn profiel te skep. Dit is jou eerste stap om deel van ʼn helpmekaargemeenskap te word waar jy vry, veilig en voorspoedig kan wees, want #JyHoortHier.