Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Liewe onderwyser, byt vas!
Deur Anlia Archer
Hierdie jaar was vir my ʼn uitdagende jaar. By tye het dit vir my gevoel of golf op golf oor my spoel en of ek skaars kon opkom vir asem. Toe ek sien dit is tyd dat ek ʼn blog moet skryf om die jaar op te som, was ek glad nie gereed daarvoor dat die jaar al einde se kant toe te staan nie. Dit was eers toe ek begin terugkyk op alles wat die Onderwysernetwerk in 2024 trotseer en behaal het, dat ek besef het dit was ʼn rowwe jaar vir die onderwys óók!
Die Bela-wetgewing is onderteken en ons onderhandel en baklei met alles wat ons het vir Afrikaanse onderrig en onderwysers. Eintlik veg ons kliphard vir die behoud van moedertaal-onderrig in die geheel. Dit kán eenvoudig nie opsy geskuif word nie. Die diversiteit van ons land is uniek en pragtig! Dit moet gevier word, elke stukkie daarvan! Daarom moet en kan Afrikaanse onderrig, wat maar ʼn fraksie van die totale onderwysstelsel uitmaak, bestaan en seëvier.
Ons Afrikaanse skole is sonder twyfel in die spervuur. Verskeie skole oor die land heen het enorme verliese aan leerders en personeel beleef – verliese wat verskeie gemeenskappe tot stilstand geruk het. Ons het met afgryse verneem dat bykans 2 400 onderwysers in die WKOD oortollig verklaar gaan word. Dit is (minstens) 2 400 onderwysers, gewone mense, soos ek en jy, wat nie weet waar en hoe volgende jaar se werkvooruitsigte vir hulle daar uitsien nie. Die jaar 2024 was werklik ʼn uitdagende jaar vir die onderwys!
By die Solidariteit Onderwysernetwerk was ons druk besig. Ons het verskeie onderwysers en skoolbesture geadviseer, verteenwoordig en ons baklei waar ons kán en móét om ons onderwysers te ondersteun. Waar nodig, moet ons kan nadink oor en verbeter op die foute wat gemaak is. Ons moet mense oplei om nie in dieselfde strikke te trap nie en moet hulle leer hoe om hierdie uitdagings kundig en met omsigtigheid te systap. Ons praat mense moed in. Vee trane by tye af. Sê gereeld en baie keer baie dankie vir jou harde werk – en dit is elke keer met opregtheid.
Soms, veral as dit rof gaan, moet jy maar die genade gaan opsoek. As jy eers begin soek, kom jy agter dat jy eintlik nie ver hoef te soek nie …
Bela is boos, maar Afrikaners is verstommend! Meer as 10 000 mense ruk op na die Voortrekkermonument om protes aan te teken teen die Bela-wetgewing. Sjoe, dit was mooi! Dit was lekker en daar was eenheid! Jou stem, jou kind, jou taal en jou kultuur maak saak! Dit was die boodskap wat ek aan die einde van die dag weggeneem het. Ons doen dit almal vir ons kinders, en vir solank as wat die Liewe Vader ons in dié land wil hê, sal ons hier bly, ons kinders hier grootmaak en seker maak hulle floreer – in Afrikaans!
Die rasseherries wat deur die jaar by skole uitgebreek het, het belangrike gesprekke aangewakker. Dit het die geleentheid geskep om diegene wat politieke agendas dryf en skole misbruik om daardie agendas te dryf, te ontmasker. Dit het gewys hoe skole bankvas agter hulle ware leiers staan. Gemeenskappe het saamgestaan en dit het daartoe gelei dat sosiale samehorigheid bevorder is. Dit het ʼn gevoel van “ten spyte van” en nie “as gevolg van” ons verskille nie onder mense geskep. Hierdie stories word nog geskryf en ek glo dat ons vir seker die mooi hieruit sal kan haal as ons in die toekoms daarop terugkyk.
Afrikaanse skole mag dalk in die spervuur wees, maar ons ouers en gemeenskappe vorm ʼn laer om hierdie skole, die onderwysers, hulle leiers en die leerders. Ons dra hierdeur ʼn baie belangrike en sterk boodskap aan ons kinders oor: Almal maak foute! En as jy ʼn fout maak, is daar mense wat sal inspring en help om te verseker dat die fout nie ʼn fatale fout is nie. Want saam is ons sterker.
Ons het ook die voorreg gehad om weer duisende nominasies te ontvang van top-onderwysers wat die titel #Wonderwyser, waardig is. Enigiemand wat wil moed verloor oor die land en sy toekoms is welkom om eendag in my skoene te kom staan en hierdie besonderse mense in aksie te sien.
As ek mooi terugkyk op die jaar sien ek dat die golwe ook golwe van genade was wat alles wat vuil en sleg is, weggespoel het. Daarom is my wens vir jou wat hier lees, maar veral vir elke onderwyser, net so voordat ons die Feesseisoen ingaan, die volgende: Mag jy, wie jy ook al is, ʼn tydjie kry om te rus en deur hierdie jaar se gebeure te werk. Mag jy, hoe lank of kort jou verlof ook al mag wees, jou batterye genoeg laai om jou die hele jaar deur 2025 te hou. Mag jy in die nuwe jaar uitgerus terugkeer en die bul by die horings pak. Mag jy in 2025 genoeg hê van alles wat jy benodig. Mag 2025 ʼn jaar wees waarin jy nie die genade hoef te gaan soek nie, want dit wag vir jou om elke hoek en draai! In 2025 kom ons sterker, harder en beter terug! Want op die ou einde doen ons dit vir ons kinders en vir die behoud van ons pragtige taal, kultuur, land en sy besonderse mense.