
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
LLB-simposium maak regstudente praktykgereed
Deur Ané Janse van Rensburg
Akademia se Regsfakulteit het op Saterdag 24 Februarie 2024 ʼn LLB-simposium by Akademia se Leriba Kampus aangebied. Die Solidariteit Regsnetwerk het van hierdie geleentheid gebruik gemaak om studente ʼn beter idee van die Solidariteit Regsnetwerk en van Solidariteit Jongwerkende te gee, en ná afloop van die simposium was daar ook netwerkgeleenthede vir die studente.
Emil Glas, organiseerder van die Solidariteit Regsnetwerk, sê dat sprekers tydens die LLB-simposium praktiese wenke aan die studente oorgedra het wat ʼn nuwe generasie regslui aan die begin van hulle loopbaan sal inspireer. “Dit is ʼn voorreg vir die Solidariteit Regsnetwerk om betrokke te wees by die opleiding van jong, voornemende kandidaatprokureurs en om dit in samewerking met ʼn instelling wat bekend is vir sy gehalte-onderrig soos Akademia se Regsfakulteit te doen,” sê Glas.
Die LLB-studente van Akademia het geleentheid gekry om skouers te skuur met kenners in die regsberoep. Met gesprekke wat gefokus het op ʼn internasionale beroep vir regspraktisyns met ʼn Suid-Afrikaanse LLB-graad, die prosesse wat gevolg moet word om toelating as ʼn regspraktisyn te kry en twee werkswinkels wat aangebied is, kon studente nie anders as om bemagtig te voel nie.
Die twee werkswinkels het onderskeidelik gefokus op navorsings- en skryfvaardighede, wat deur prof. Coetzee en me. Venter aangebied is, en litigasietegnieke, wat deur drs. Gravett en Politis aangebied is.
Helène Leonard, ʼn LLB-student aan Akademia, wat die simposium bygewoon het, sê: “Die geleenthede wat ʼn Akademia-student ontvang en wat ook deur netwerke soos die Solidariteit Regsnetwerk vir hulle beskikbaar is, bewys dat die twee organisasies na die belange van jong werkendes omsien. Hulle gaan uit hulle pad om jou te bemagtig. Of dit nou is deur ʼn slypskool of net deur raad te gee, die Solidariteit Regsnetwerk en Akademia wil jou praktykgereed kry.”
Andries Stander, ʼn prokureur wat by die simposium betrokke was, meen dat die studente met entoesiasme daaraan deelgeneem het en dat hy beïndruk was met hulle kommentare en vrae. “Die simposium het vir studente ʼn kykie gebied op wat in die praktyk gebeur en dit was ʼn geleentheid om met regslui wat in die praktyk staan skouers te skuur. Dit is ʼn veilige plek om vrae te vra en inligting te bekom voordat jy eendag jou klerkskap begin. By hierdie simposium het studente veral nuttige wenke gekry wat later gedurende hulle klerkskap van groot waarde kan wees. Natuurlik brei studente op die manier ook hul eie netwerke uit en in dié professie is verhoudinge en netwerke van kardinale belang.”
Glas sê: “Die Regsnetwerk sien daarna uit om hierdie fakkel saam met Akademia se Regsfakulteit te dra en ons hoop dat die regsgemeenskap ons sal help om die fakkel altyd omhoog te hou.”
Indien jy nog nie deel is van die Solidariteit Regsnetwerk nie, klik hier en skep vandag jou gratis profiel. Kom geniet ʼn reeks voordele, soos die bywoning van die LLB-simposium, saam met Solidariteit!