loading
Artikels
2 weke gelede
lojale-lede-van-die-solidariteit-ambagnetwerk-word-op-ambagdag-2025-vereer

Foto Krediet: OkayDeer

Lojale lede van die Solidariteit Ambagnetwerk word op Ambagdag 2025 vereer

“Ambag in my are” is nie net die leuse van die Solidariteit Ambagnetwerk nie – dit is die polsslag van Ambagdag. Op Saterdag 15 Maart 2025 vier Solidariteit en Sol-Tech Ambagdag waar lojale lede van die Solidariteit Ambagnetwerk erkenning sal ontvang vir hul bydrae tot die ambagte. Lees hier meer:


Deur Kyla-Ann du Toit

Ambagdag 2025 gaan nie net ʼn viering van vakmanskap en ambagslui wees nie, maar ook ʼn spesiale geleentheid waar lojale lede van die Solidariteit Ambagnetwerk erkenning sal ontvang vir hul bydrae tot die ambagberoep. Hierdie individue het deur hul loopbane ʼn blywende impak op hul ambagte gelaat en word as rolmodelle vir jong ambagslui beskou.

Lojale lede van die Solidariteit Ambagnetwerk is mense wat deur hul kundigheid, mentorskap en leierskap ʼn verskil maak. “Lojale Solidariteit-lede skenk al vir jare lank R10 van hul lidmaatskapfooi om ʼn wêreldklas-fasiliteit soos Sol-Tech te kan vestig. Ongeveer 5 000 studente het vir hulle ʼn loopbaan hier kom uitkerf en dit is te danke aan ons lede. Ons wil daarom baie graag hierdie lede wat die Ambagdag bywoon in die vorm van ʼn sertifikaat bedank,” sê Stef Pretorius, netwerkkoördineerder van die Solidariteit Ambagnetwerk.

Op Ambagdag sal dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, persoonlik ʼn sertifikaat aan elke lid oorhandig as blyk van waardering vir hul harde werk en bydrae tot die ambagte.

“Mentors gaan benodig word by wie die volgende generasie ambagslui die fynere kunsies van verskeie vakgebiede kan leer. Daarom is dit ook belangrik dat ervare ambagslui deel is van die Solidariteit Ambagnetwerk om groeigeleenthede vir die nuwe geslag te ontsluit,” sê Pretorius.

Benewens die erkenning van lojale lede, sal ʼn spesiale reünie van Sol-Tech-alumni ook plaasvind. Hierdie reünie bied aan oudstudente die geleentheid om met hul oudklasmaats en mentors te gesels en hul loopbane en suksesse saam te vier.

Ambagdag 2025 is ʼn dag waar trots, passie en vakmanskap byeen kom. Dit is ʼn geleentheid om nie net die harde werk van ambagslui te vier nie, maar om ook erkenning te gee aan diegene wat ʼn onmisbare rol in die bedryf speel.

“Ambag in my are” is nie net die leuse van die Solidariteit Ambagnetwerk nie – dit is die polsslag van Ambagdag, waar die ambagte en ambagslui met trots in die kollig staan. Dié spesiale geleentheid is jaarliks ʼn hoogtepunt vir ambagslui, en dit beloof om vanjaar nóg groter en beter te wees! Op Saterdag 15 Maart 2025 vier Solidariteit en Sol-Tech die derde Ambagdag – ʼn dag gevul met opwindende aktiwiteite vir almal in die bedryf.

Moenie hierdie spesiale geleentheid misloop nie! Klik hier om jou plek vir vanjaar se Ambagdag te bespreek. Hou ook Solidariteit se sosialemediablaaie dop vir meer inligting.

Is jy nog nie deel van die Solidariteit Ambagnetwerk nie? Raak vandag nog betrokke by jóú beroepsgemeenskap!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel