loading
Artikels
9 maande gelede
loopbaanvoorligters-die-geheim-tot-jou-kind-se-sukses

Foto Krediet: OkayDeer

Loopbaanvoorligters: die geheim tot jou kind se sukses!

Deur Ané Janse van Rensburg

Jou kind se toekomstige beroep en drome is iets wat alreeds in hul skooljare begin vorm aanneem. Dit is presies om hierdie rede dat dit nou al van kardinale belang is dat jy en jou kind slim keuses maak ter voordeel van hul toekoms. Loopbaanvoorligters speel ʼn deurslaggewende rol wanneer jou kind skoolvakke moet kies om ʼn sekere beroep eendag te kan volg.

Solidariteit maak loopbaanvoorligtingshulpbronne aan jou kind beskikbaar om hulle te help met hierdie keuses. Die eerste van hierdie hulpbronne is die Belangstellingsbepaler. Hierdie hulpbron is ʼn vinnige aanlyn toets wat jou kind kan voltooi om te bepaal waarvan hy of sy hou.

Na aflegging van Solidariteit se Belangstellingsbepalertoets, is die volgende stap om psigometriese toetse by een van ons voorgestelde loopbaanvoorligters af te lê. Solidariteit se netwerk van loopbaanvoorligters bestaan uit kundige sielkundiges en psigometriste wat almal by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) geregistreer is.

Loopbaanvoorligters bied professionele leiding deur gebruik te maak van wetenskaplik-gegronde toetse en persoonlike konsultasies. Hierdie voorligters kan help om die persoonlikheid, vaardighede en aanlegte van jou kind te ontleed. Deur hierdie ontledings kan hulle bepaal watter beroepe en vakke die beste by jou kind se unieke profiel sal pas. Lees hier meer oor loopbaanvoorligters.

 “Om ʼn loopbaanvoorligter te besoek gee jou die geleentheid om jouself beter te leer ken en om ʼn ingeligte loopbaankeuse te maak,” sê Chanri Theron, student-psigometris.

Een van die sleutelhulpmiddels wat loopbaanvoorligters gebruik, is psigometriese toetse. Hierdie toetse meet ’n verskeidenheid van faktore soos kognitiewe vermoëns, persoonlikheidseienskappe en beroepsbelangstellings. Byvoorbeeld, ’n kind wat ʼn ekstrovert is en daarvan hou om met mense te werk, sal waarskynlik nie gelukkig wees in ’n navorsingsgeoriënteerde beroep waar hulle meeste van hul tyd alleen spandeer nie.

Na die voltooiing van die toetse, sal die loopbaanvoorligter ʼn gedetailleerde verslag opstel en ’n terugvoersessie hou om die uitslae te bespreek. Hierdie sessie is uiters waardevol aangesien dit die kind en ouers help om die resultate beter te verstaan en hoe dit toegepas kan word in die keuse van vakke en toekomstige beroepe. Die doel is om te verseker dat jou kind se vakkeuse en beroepspad belyn is met hul natuurlike vermoëns en belangstellings.

Theron meen dat die keuse van die regte vakke en beroep nie net belangrik is vir akademiese sukses nie, maar ook vir toekomstige beroepsbevrediging. Deur te belê in professionele loopbaanvoorligting, help ouers hul kinders om ingeligte besluite te neem wat lei tot groter bevrediging en sukses in hul gekose veld. As ʼn kind vakke en beroepe kies wat goed pas by hul persoonlikheid en vermoëns, is hulle geneig om beter te presteer en hul studie te geniet. Dit verminder ook die kans op rigtingverandering wat tyd en geld kan kos.

“Boonop moet ouers onthou dat die uitslae van hierdie toetse nie as die finale woord beskou moet word nie, maar eerder as ʼn riglyn,” sê Theron. Dit is belangrik om verder navorsing te doen en moontlik skaduwerk te doen in verskillende beroepe om seker te maak die kind verstaan wat elke beroep werklik behels. Dit sal hulle help om ʼn realistiese beeld van hul toekomstige beroep te kry en sodoende beter besluite te neem.

Loopbaanvoorligters bied ʼn diens van onskatbare waarde deur kinders te help om hul unieke sterkpunte en belangstellings te ontdek. Deur middel van professionele psigometriese toetse en persoonlike konsultasies, kan hulle waardevolle insigte bied wat help met die maak van ingeligte vak- en beroepskeuses. Vir ouers is dit ʼn waardevolle belegging in hul kind se toekoms wat nie net akademiese sukses verseker nie, maar ook loopbaantevredenheid en sukses in die lang termyn.

Solidariteit wil saam met jou en jou kind die pad stap, van hul klaskamer tot hul kantoor! Skep vandag jou gratis Solidariteit-profiel en benut ʼn ryk en diverse reeks hulpbronne wat jou kind in hul lewensreis bystaan!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel