loading
Artikels
4 weke gelede
maak-die-jeug-finansieel-slim

Foto Krediet: OkayDeer

Maak jou kind geldslim

Deur Emsie Martin

In vandag se finansiële woelinge hoor ʼn mens dikwels dat ouers sê hul kinders sukkel om met geld te werk. Soms is dit ouers se eie skuld omdat hulle te veel wil help.

Carla Oberholzer, ‘n destydse skuldadviseur by DebtSafe, sê: “Indien daar één spesifieke versoek is wat ek sou geuiter het toe ek nog jonger was, sou dit gewees het: ‘Help ons om ʼn geldvaardige jeug te kweek, Suid-Afrika’. Die konsep van geld is ʼn fundamentele vaardigheid wat enige volwassene, ouer, voog, familielid of onderwyser vir ons jongmense kan help aanleer. Dit bied nie net ʼn wensituasie vir die jeug en hulle toekomstige finansiële besluitneming nie, maar dit is ook ʼn oorwinning vir Suid-Afrika se ekonomie en welvaart.”

Oberholzer moedig volwassenes aan om ʼn generasie geldvaardige jongmense te help kweek, en die sleutel is om hulle van kleins af te betrek, te leer en te help om die nodige kennis, praktiese vaardighede en selfvertroue te bekom om ingeligte finansiële besluite te neem. Grootmense moet met kinders oor geld begin praat, die geldkonsep tasbaar maak en die jeug help om finansieel geletterd te word.

Dit is nooit te vroeg of te laat nie! Solidariteit se Skoliere-aanbod bied ʼn reeks video’s as deel van #MyHoërskoolpad, waar ons onder meer skoliere leer van geldsake. Klik hier om die gratis video te kyk. Verder bied Solidariteit kursusse vir studente en jong werkendes waar hulle meer kan leer oor die opstel van ʼn begroting. Klik hier om met hierdie kursus te begin. Solidariteit-lede kan alle kursusse gratis voltooi.

Jong, werkende volwassenes kan met min en klein begin wanneer hulle krediet of skuld wil aangaan – dit is nie nodig om ʼn luukse huis en ʼn motor alles op een slag te koop nie.

Finansiële noodbeplanning en mediese of gesondheidsbeleggings is uiters noodsaaklik – professionele persone of instansies kan help met verskeie produkte (soos byvoorbeeld ʼn tipe noodfonds of aftreeplan).

Jong individue moet gereeld hulle skuld dophou en ʼn uitgewerkte plan beskikbaar hê om te sorg dat korttermyn- of langtermyndoelwitte en -besparings by hulle begroting ingesluit word.

Geld speel ʼn belangrike rol in elke individu se lewe en daarom verdien dit ook van ʼn jong ouderdom af baie aandag. Om te leer hoe om te spaar, te begroot en aanspreeklikheid vir hulle skuld te neem, is iets wat jou kind al vroeg deel van hulle lewe moet maak en aanleer. Geldkennis en -vaardighede sal jongmense in staat stel om die gawe van finansiële vryheid te kan ervaar.

Raak vandag betrokke by Solidariteit en skep ʼn gratis profiel vir jou en jou kind. Só bemagtig jy jou kind om hulle geldsake én hul toekoms baas te raak!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel