Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Maak jou loopbaan toekomsbestand
Deur Nico Strydom
ʼn Graad of diploma kan jou moontlik ʼn voet in die deur gee, maar dit is lankal nie meer genoeg om jou loopbaan vir die volgende 20 of 30 jaar te verseker nie.
Werkgewers wêreldwyd plaas minder klem op kwalifikasies alleen en kyk al hoe meer na die vaardighede wat mense in verskillende omgewings kan toepas. Dit sluit in probleemoplossing, kritiese denke, aanpasbaarheid, kommunikasie en die vermoë om met nuwe tegnologie soos kunsmatige intelligensie (KI) te werk.
Volgens die Wêreld- Ekonomiese Forum se Future of Jobs Report is analitiese denke, veerkragtigheid, aanpasbaarheid en lewenslange leer van die belangrikste vaardighede waarna werkgewers wêreldwyd soek.
Waar mense vroeër hul hele loopbaan in een beroep of by een werkgewer deurgebring het, is dit vandag heeltemal normaal om verskeie kere van beroep, sektor of selfs loopbaanrigting te verander.
Dit beteken dat werknemers nie net hul vakkennis moet uitbrei nie, maar ook vaardighede moet ontwikkel wat in feitlik enige beroep waarde kan toevoeg.
Hierdie sogenaamde oordraagbare vaardighede sluit in kommunikasie, leierskap, projekbestuur, probleemoplossing, organisering, onderhandeling, digitale geletterdheid en die vermoë om effektief met KI-hulpmiddels te werk.
Volgens Nolundi Matomane, talentverkrygingsbestuurder vir Pnet, is dit juis hierdie vaardighede wat werknemers help om nie net nuwe werk te kry nie, maar ook makliker by verandering aan te pas.
“Die opbou van hierdie oordraagbare vaardighede sal jou help om in jou huidige rol of beroep uit te staan en dit makliker maak om in die toekoms van loopbaan te verander. Oordraagbare vaardighede kan jou ook ʼn voorsprong gee as jy geen ondervinding het nie en op soek is na jou eerste werk.”
Matomane wys daarop dat loopbaangroei in vandag se komplekse arbeidsmark nie altyd lineêr is nie.
“Oordraagbare vaardighede wissel van aanbiedings doen, begrotings opstel en verslae skryf tot die effektiewe gebruik van tegnologie in jou werk, onderhandeling en die leiding van spanne. Hierdie vaardighede sal relevant bly in ʼn wye reeks poste, selfs in ʼn omgewing waar die vaardighede wat werkgewers benodig vinniger verander as wat akademiese programme kan byhou.”
Hierdie veranderende werkswêreld is presies waarom Solidariteit die afgelope paar jaar groter klem op voortgesette leer plaas.
Volgens Solidariteit eindig leer nie wanneer jy jou studies voltooi nie. Dit moet ʼn deurlopende proses wees waardeur mense hul kennis en vaardighede voortdurend uitbrei om relevant te bly in ʼn vinnig veranderende arbeidsmark.
Voortgesette leer beteken nie noodwendig nóg ʼn formele graad nie. Dit kan ook kortkursusse, beroepsopleiding, aanlyn kursusse, werkwinkels, professionele sertifikate of selfs selfstudie insluit.
Die doel is om voortdurend nuwe kennis op te doen en nuwe vaardighede te ontwikkel namate beroepe en tegnologie ontwikkel.