

Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Maak mislukkings jou boustene vir sukses
Deur Lize-Mari Verster
Vir jong werkendes kan werkverwante mislukkings ontmoedigend en selfs skadelik vir selfvertroue voel. Wat as ons egter mislukkings as waardevolle leergeleenthede beskou? Kom ons kyk na hoe ʼn mens mislukkings kan gebruik om jouself te verbeter en sukses te behaal, en hoe ʼn gesonde ingesteldheid teenoor mislukking jou kan help om ʼn sterker, vaardiger werker te word.
1. Verander jou perspektief op mislukking
Mislukking is dikwels ʼn gevoel wat ons probeer vermy, maar die realiteit is dat dit ʼn natuurlike deel van groei is. Baie suksesvolle mense het misluk voordat hulle sukses behaal het. Die sleutel is om jou perspektief te verander – sien mislukking as ʼn stap in die leerproses eerder as ʼn teken van tekortkoming.
Sien elke fout of mislukking as ʼn geleentheid om iets waardevols te leer. Skep die gewoonte om vrae te vra soos: “Wat kan ek hieruit leer?” en “Hoe kan ek hierdie fout in die toekoms vermy?”
2. Aanvaar verantwoordelikheid en leer uit terugvoer
Een van die belangrikste stappe wanneer jy misluk, is om verantwoordelikheid te aanvaar. As jy ʼn fout gemaak het, erken dit, en wees oop vir die terugvoer wat jy ontvang. Terugvoer gee jou insig in areas waar jy kan verbeter en wys ook dat jy ʼn gesonde ingesteldheid teenoor groei het. Moet ook nie terugvoer as kritiek sien nie, maar as ʼn padkaart na verbetering.
3. Ontleed wat verkeerd geloop het
Om die volle waarde van ʼn mislukking te benut, moet jy ʼn tree terug gee en ontleed wat presies verkeerd gegaan het. Dink aan die volgende vrae: Was dit ʼn gebrek aan voorbereiding? Het ek nie die regte hulpbronne gebruik nie? Het ek ʼn spesifieke vaardigheid nodig gehad wat ek nog nie ontwikkel het nie?
4. Maak ‘n plan om te verbeter
Nadat jy ontleed het wat verkeerd gegaan het, is dit tyd om ʼn konkrete plan op te stel om te voorkom dat dieselfde fout herhaal word. Dit kan beteken om nuwe vaardighede aan te leer, jou tyd beter te bestuur, of hulpbronne vroeër te raadpleeg. Maak jou plan prakties en uitvoerbaar.
Stel spesifieke doelwitte op wat jou help om in die areas te groei waar jy gestruikel het. As jy byvoorbeeld ʼn tegniese fout gemaak het, kan jy ʼn kursus volg om jou kennis op daardie gebied te verbeter. Solidariteit bied talle verskillende kursusse, e-leer-aanbiedinge en ook webinare wat Solidariteit-lede kan benut om hul kennis te verbeter. Klik hier om te loer na die beskikbare kursusse.
5. Bou veerkragtigheid en hou aan probeer
Mislukking kan jou selfvertroue soms ʼn knou gee, maar dit is belangrik om nie moed te verloor nie. Veerkragtigheid is een van die kragtigste vaardighede wat jy in jou loopbaan kan ontwikkel. Wees daarop voorbereid om mislukking in die gesig te staar en om met hernude energie en planne terug te bons.
Soos Henry Ford gesê het: “Failure is simply the opportunity to begin again, this time more intelligently.”
6. Deel jou lesse met ander
Een van die beste maniere om ʼn mislukking in ʼn positiewe ervaring om te skakel, is om die lesse wat jy geleer het, met ander te deel. Dit wys nie net jou bereidwilligheid om te leer nie, maar skep ook ʼn kultuur waar ander in die werkplek gemaklik voel om oor hul mislukkings te praat en saam te groei.
Wees oop en eerlik oor jou ervarings in spanvergaderings of met mentors. Deur jou storie te vertel, inspireer jy ander om ook ʼn leer-mentaliteit te ontwikkel.
7. Kweek ʼn groei-ingesteldheid
Carol Dweck, ʼn bekende sielkundige, het die konsep van ʼn “groei-ingesteldheid” bekendgestel. Dit verwys na die idee dat mense met ʼn groei-ingesteldheid glo dat hulle hul intelligensie en vermoëns deur harde werk en leer kan ontwikkel. As jy ʼn groei-ingesteldheid kweek, sien jy mislukkings as ʼn kans om te groei en beter te word, eerder as ʼn persoonlike tekortkoming.
Begin elke dag met die ingesteldheid dat jy iets nuuts kan leer, ongeag wat jy die vorige dag verkeerd gedoen het. Herinner jouself daaraan dat leer ʼn lewenslange proses is.
Onthou altyd dat elke fout ʼn kans is om slimmer, sterker en meer voorbereid te word vir die volgende uitdaging. Soos Thomas Edison gesê het: “I have not failed. I’ve just found 10 000 ways that won’t work.”
Solidariteit is jou netwerk van werk waar jy bemagtig word om te groei en te leer. Skep jou gratis profiel hier. Solidariteit se lidmaatskap vir jong werkendes bemagtig jou verder om te verseker dat jy jou loopbaandoelwitte verwesenlik en dat jy vir jouself ʼn toekoms kan bou waarin jy vry, veilig en voorspoedig kan werk. Lees meer hier.