loading
Artikels
1 week gelede
maatskaplike-werker-van-die-vaaldriehoek-met-solidariteit-toekenning-bekroon

Foto Krediet: Verskaf

Maatskaplike werker van die Vaaldriehoek met Solidariteit-toekenning bekroon

Hierdie Solidariteit-toekenning gee erkenning aan maatskaplike werkers wat ʼn beduidende verskil in hul gemeenskappe maak. Lees meer hieronder.


Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk, in samewerking met Solidariteit Helpende Hand, laat jaarliks die kollig val op die hoopdraers in ons midde deur die Hoopdraer-toekenning. Elf streekswenners word elke jaar aangekondig.

Een van hierdie inspirerende streekswenners is Suanne de Bruyn van Vereeniging. Haar toewyding aan maatskaplike werk en die kinders wat sy dien, maak van haar ʼn ware ligdraer in haar veld.

Suanne was van jongs af die persoon na wie ander vir hulp gegaan het.

“Ek het van jongs af verstaan daar is ʼn verskil tussen empatie en simpatie. Ek het altyd geweet ek wil mense help, maar my ma het my aan maatskaplike werk bekendgestel. Ek het dadelik geweet dit is my roeping.

“Persoonlike uitdagings en trauma het my die dryfkrag gegee om my passie uit te leef en alles in my beroep te gee. Dit is nie altyd maklik nie, maar ek weet dit is moontlik om ʼn verskil te maak.”

Een van die mees aangrypende ervarings in Suanne se loopbaan was om ʼn jong seun deur ʼn traumatiese ervaring te help.

“Hy het ʼn verskriklike voorval deurgemaak en ek het hom deur die hele proses ondersteun – van onderhoude en forensiese ondersoeke tot terapie. Op ʼn dag het hy net in my kantoor kom lê en slaap, so moeg was sy siel.

“Toe hy my vra ‘Gaan hy terugkom?’ en ek vir hom kon sê ‘Nee, jy gaan hom nooit weer sien nie,’ het hy my omhels en met trane in sy oë dankie gesê. Dit was ʼn oomblik waarin ek geweet het my werk maak ʼn werklike verskil.”

Suanne beskou haar werk as haar lewensdoel.

“As iemand in my kantoor is, moet hulle my passie daarin kan voel. Ek bou netwerke, vorm professionele verhoudings en verseker dat kinders wat niemand het nie ʼn veilige hawe het. Ek is vir hulle dit wat hulle nodig het – ʼn mamma, ʼn onderwyser, ʼn vriend. Hulle moet weet dat ‘Tannie Su’ daar sal wees vir enigiets wat hulle hartjies benodig,” vertel sy.

Suanne de Bruyn se storie is een van passie, veerkragtigheid en onbaatsugtige liefde vir diegene wat haar die nodigste het. Haar erkenning as #Hoopdraer vir die Vaaldriehoek is ʼn bewys van haar ongelooflike werk, en sy bly ʼn baken van hoop vir die kinders en gesinne wat sy daagliks ondersteun.

Yvette Erasmus, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk, sê dit is ʼn groot voorreg om staatmakers in hierdie beroepsveld op dié manier te kan beloon.

“Die Hoopdraer-toekenning is ʼn spesiale toekenning wat die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk en Solidariteit Helpende Hand jaarliks toeken om uitmuntende werk in die maatskaplike professie te vereer.

“Dit gee erkenning aan individue wat met passie, empatie en toewyding in hul gemeenskappe werksaam is, en wat  ʼn bron van hoop en inspirasie vir diegene rondom hulle is. Die toekenning sluit streekwenners, topdriewenners en uiteindelik ʼn algehele wenner in,” sê Erasmus.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel