loading
Artikels
1 week gelede
maatskaplike-werker-vereer-met-solidariteit-se-hoopdraer-toekenning-vir-2024

Foto Krediet: Solidariteit

Maatskaplike werker vereer met Solidariteit se #Hoopdraer-toekenning vir 2024

Solidariteit het weereens hul waardering vir die uitnemendheid van maatskaplike werkers beklemtoon deur die #Hoopdraer-toekenning vir 2024 aan Claudia-Lee Hunter te oorhandig. Hierdie toekenning, wat in samewerking met Solidariteit Helpende Hand aangebied word, is ʼn inisiatief om die onvermoeide pogings van maatskaplike werkers te erken en te vier.

Yvette Erasmus, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk, verduidelik dat hierdie toekenning ʼn unieke geleentheid bied om diegene te vereer wat werklik uitsonderlik in hul beroep is. “Maatskaplike werkers is nie net werknemers nie; hulle is geroep om hoop en herstel in hul gemeenskappe te bring,” sê sy. Volgens Erasmus maak hierdie toewyding hulle die “stil bouers van hoop” in ons samelewing.

Hunter is deur die publiek genomineer op grond van haar passie en toewyding om maatskaplike funksionering in gemeenskappe te verbeter. Hierdie proses bevestig die belangrikheid van gemeenskapsdeelname en erkenning aan dié wat ʼn verskil maak.

Hunter se werk is ʼn voorbeeld van hoe ʼn maatskaplike werker nie net probleme ondersoek nie, maar ook aktief help om oplossings vir Suid-Afrika se maatskaplike krisis te vind. Haar rol in die gemeenskap spreek van onbaatsugtigheid en ʼn voortdurende strewe om verandering teweeg te bring. “Hierdie toekenning beteken vir my baie, en ek is trots om deel van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk te wees,” sê Hunter.

Hunter vertel die netwerke het ‘n belangrike rol in haar beroepsveld begin vorm. “Die netwerk skep vir my geleentheid om bemagtig te word en om te groei nie net deur kennis nie maar ook deur ander maatskaplike werkers wat soos ek voel, dink, leef en werk te leer ken,” vertel sy.

Erasmus sê die uitdagings wat maatskaplike werkers in die gesig staar, soos onder meer swaar werkslading en emosionele uitbranding, is vir hulle moeilik. “Hulle moet nie net die regte wetgewing ken nie, maar ook emosioneel sterk bly terwyl hulle ander help om moeilike omstandighede te oorkom,” verduidelik sy. Dit is hierdie balans tussen professionaliteit en empatie wat die beroep so uniek maak. Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk werk voortdurend daaraan om hierdie uitdagings die hoof te bied en die status van die beroep te verbeter.

Deur die #Hoopdraer-toekenning wil Solidariteit ook bewusmaking skep oor die belangrike rol wat maatskaplike werkers speel en die publieke persepsies rondom die beroep positief verander.

Danksy lede soos Hunter en die ondersteuning van netwerke soos die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk, is daar hoop vir ʼn sterker, meer empatiese samelewing. Die #Hoopdraer-toekenning is nie net ʼn bewys van waardering nie, maar ook ʼn inspirasie vir ander in die beroep om aan ʼn beter toekoms te bou.

Solidariteit se toewyding aan die bevordering van maatskaplike werk en die ondersteuning van sy lede bevestig die belangrikheid van hierdie beroep in ʼn wêreld wat daagliks voor groot uitdagings te staan kom.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel