loading
Artikels
1 week gelede
maatskaplike-werkers-beskerm-jou-innerlike-vlam-te-midde-van-eksterne-druk

Foto Krediet: OkayDeer

Maatskaplike werkers, beskerm jou innerlike vlam te midde van eksterne druk

Deur Kyla-Ann du Toit

In ʼn land waar armoede, werkloosheid en swak dienslewering die norm is, staan maatskaplike werkers dikwels op die voorpunt van hoop. Maar wié dra hierdie draers van hoop?

Die ekonomiese en maatskaplike druk op gemeenskappe is besig om ʼn kettingreaksie te veroorsaak wat by die maatskaplike werker self eindig. Wanneer stelsels in duie stort en gemeenskappe in nood is, verhoog dit die werklading, emosionele tol en morele verantwoordelikheid van maatskaplike werkers – en dit sonder voldoende ondersteuning of hulpbronne.

Vroeë waarskuwingstekens: Wanneer jy nie meer jý is nie

Volgens dr. Shanie Boshoff, ervare maatskaplike werker en navorser, toon sekondêre trauma simptome oor die hele spektrum van ʼn maatskaplike werker se lewe. Dit raak hoe hulle dink (rigiede denke, swak konsentrasie), voel (hartseer, skuld, emosionele afstomping) en optree (onttrekking, swak selfbestuur, slaapprobleme). In uiterste gevalle manifesteer dit ook fisiek: spierpyne, kortasem en selfs eetversteurings.

“My ervaring is dat, net soos die maatskaplike werkers ʼn holistiese benadering in dienslewering toepas, word die gehalte van hulle professionele sowel as persoonlike lewe direk deur sekondêre trauma negatief geraak. Die tekens daarvan word oor ʼn wye spektrum van hulle lewensareas gesien. Dit wys hoe hulle dink, voel en optree – hulle sukkel om doeltreffend selfbestuur toe te pas en voel dikwels moeg, oorweldig en nie in beheer nie,” sê Boshoff.

Dit is nie meer net “werkstres” nie – dit is ʼn toestand van emosionele oorlaaiing waarin die grense tussen eie pyn en dié van ander begin vervaag.

Sekondêre trauma: die onsigbare wond

Maatskaplike werkers ervaar daagliks die trauma van ander – mishandeling, verlies, verwaarlosing, ensovoorts – sonder om self altyd ruimte of ondersteuning te hê om dit te verwerk. Hierdie voortdurende blootstelling aan trauma sonder hersteltyd veroorsaak wat bekend staan as “sekondêre trauma”. Dit is nie minder werklik as primêre trauma nie. Dit steel energie, kreatiwiteit en uiteindelik identiteit by ʼn maatskaplike werker.

“Baie maatskaplike werkers voel hulle is nie meer in beheer van hulle werk of lewe nie,” sê Boshoff. “Hulle voel ook dikwels emosioneel afgestomp. Hulle onttrek van sosiale en professionele aktiwiteite, hulle slaappatrone word geraak, hulle is angstig, hulle ervaar pyn in hulle spiere en lyf, en hul eetlus kan verander.” Die gevaar is dat hierdie trauma nie net by die werk bly nie. Dit volg jou huis toe, beïnvloed verhoudings, ondermyn selfbeeld en verhoed ware rus.

Waarom dit so moeilik is om grense te stel

Een van die grootste uitdagings vir maatskaplike werkers is om grense te stel. Nie omdat hulle nie weet hoe nie, maar omdat hul innerlike kompas van empatie en verantwoordelikheid hulle keer. “Vir maatskaplike werkers voel dit dikwels asof grense in stryd is met hul waardes van sorg en diens,” verduidelik Boshoff. Selfversorging word dikwels as selfsugtig beleef, eerder as noodsaaklik.

“Maatskaplike werkers kan die geneigdheid hê om eie belange en behoeftes ondergeskik te stel aan dié van die kwesbare teikengroep. Hulle hoë sin van verantwoordelikheid om ondersteuning aan hulle kliënte te lewer, laat hulle méér doen en aanhou as wat hulle in werklikheid kan hanteer,” sê sy.

Die rol van bestuur en spanondersteuning

Uitbranding is nie net ʼn individuele probleem nie. Die kultuur van ʼn organisasie speel ʼn reuserol daarin of werknemers floreer of uitbrand. Dr. Boshoff wys daarop dat bestuurders en spanleiers ʼn kernverantwoordelikheid het om welstand onder werknemers te bevorder deur gesonde praktyke te modelleer, oop en eerlike kommunikasie aan te moedig en werknemerondersteuningsprogramme beskikbaar te stel.

“Doeltreffende terugvoer oor maatskaplike werkers se groei en deur uitdagings die hoof te bied, help om maatskaplike werkers in die werkplek weerbaar te maak. Praktiese hulp, wenke en verantwoordbaarheid teenoor die stel van grense is van groot belang,” meen dr. Boshoff.

Praktiese raad: Bou jou herstelplan

Vir diegene wat reeds voel hulle is op breekpunt: Daar is hoop! Hier is ʼn paar stappe wat dr. Boshoff aanraai jy vandag kan neem om gesonde welstand te verseker:

  1. 1. Herken die tekens: Vra jouself eerlik af: Is ek net gespanne of is ek uitgeput op ʼn manier wat alles beïnvloed?
  2. 2. Skep ʼn selfversorgingsplan: Begin klein – loop ʼn bietjie buite in die son, drink water en praat met iemand wat jy vertrou.
  3. 3. Kry ondersteuning: Betrek ʼn lewensafrigter of sluit aan by ʼn ondersteuningsgroep. Jy hoef nie alleen te herstel nie. Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk is juis daar om jou in jou beroep te ondersteun – in die moeilike én maklike tye!
  4. 4. Wees sag met jouself: Jy faal nie omdat jy moeg is nie. Jy is moeg omdat jy gee. Dít verdien ook sorg.

Die pad vorentoe: Hoop én gereedskap

Maatskaplike werkers kan nie bekostig om hulself te verloor in die proses om ander te red nie. Daarom is selfbewustheid, ondersteunende spanleiers en volhoubare selfversorging noodsaaklik. Wanneer ons dié dinge normaliseer, bou ons nie net sterker individue nie, maar ook ʼn sterker beroep.

Jy het die reg én die verantwoordelikheid om jóú vlam aan die brand te hou. Want as jy uitgebrand is, wie bring dan die lig? Sluit vandag nog by die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk aan en word deel van jou beroepsgemeenskap!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel