
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
ʼn Wêreld sonder maatskaplike werkers – wat sal gebeur as maatskaplike werkers net eendag verdwyn?
Deur Bianca Smit, Solidariteit-netwerkkoördineerder
Dit is die jaar 2030. Die strate van Pretoria is stiller as gewoonlik, maar dit is nie vreedsaam nie. Dit is die stilte ná die storm. Mense is verwyderd van mekaar – en jy kan die moegheid in die oë van die weerloses sien.
Ouma Landi sit alleen op die stoep van haar huis. Hierdie was eens die huis waar sy veilig gevoel het, maar nou voel dit soos ʼn tronk. ʼn Tronk waarin al haar swaar verdiende geld deur haar kinders gebruik word. ʼn Tronk waarin haar seun se koue woorde in haar ore lui: “As Ma weet wat goed is vir Ma, sal Ma stilbly, of Ma beland weer in die buitekamer met net droë brood en tee.”
Sy kyk in die straat af en sien hoe honger, verwaarloosde kinders in die asblikke grou. Celine se ogies is nog blou van die onderonsie met haar pa die vorige aand. Jannie se lyf is vol sigaretbrande nadat hy teen sy oom opgestaan het omdat dié weer sy sussie wou molesteer. Dit is die realiteit wat Ouma Landi tans aanskou – en daar is geen hulp meer op die horison nie.
Dit het alles vererger in 2024, toe die maatskaplike subsidies weereens nie betaal is nie. Verskeie instansies moes sluit. Die departement was meer bemoei met mooi programme as met die uitvoering van die fisiese werk. Dit is vererger deur drukgroepe en eensydige stories oor maatskaplike werkers – stories wat oor tyd die beroep laat uitsterf het. Aanvanklik was daar woede. Toe teleurstelling. Toe op ʼn dag, net stilte.
Die prentjie hierbo is dalk fiksie, maar dit kan so maklik ʼn realiteit word. Die afgelope gebeure in die nuus laat my hart huil. Subsidies is weer nie betaal nie, en drukgroepe dryf ʼn eensydige narratief om die beroep te beskadig. Ek wonder soms of hierdie mense ooit dink aan hoe die lewe sal lyk sonder maatskaplike werkers. Wat gebeur wanneer drukgroepe en die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling (DMO) se wanbestuur die stryd wen en maatskaplike werk as beroep uitsterf?
ʼn Maatskaplike werker gee alles – tyd, energie, emosies en in sommige gevalle, selfs hul eie vrede. Hulle is daar waar trauma begin, waar stukkende mense kom aanklop, en waar hoop kom asem skep. Baie keer doen hulle dit sonder salarisse, omdat subsidies nie betaal word nie.
Wat gebeur wanneer die helpers self aangeval word? Wanneer die beroep wat mense red, aangeval word deur kliënte, prokureurs, landdroste, howe en die media?
Wat gebeur wanneer die skakel tussen krisis en genesing self gekruisig word?
Maatskaplike werkers is nie perfek nie – maar hulle is onmisbaar in ons samelewing.
Ek hoor elke dag van maatskaplike werkers wat geviktimiseer word. Werklike mense wat met opregtheid probeer help, maar dan by hul werkplek, in die hof of in die media as die vyand uitgebeeld word. Nie die ouer wat die kind verwaarloos het nie. Nie die man wat sy vrou geslaan het nie. Eerder die maatskaplike werker – want haar verslag het nie iemand se saak bevoordeel nie. Die realiteit is dat sy slegs ʼn aanbeveling maak op grond van haar bevindings. Die finale besluit lê nie eens by die maatskaplike werkers nie, maar dit word só uitgebeeld.
Hierdie beroep word stadig maar seker gestroop van sy menswaardigheid deur die beeld wat geskep word en subsidies wat nie betyds betaal word nie. Maatskaplike werkers moet daagliks hierdie viktimisering trotseer soms sonder vergoeding.
As hulle verdwyn… wat dan?
Kom ons sê dit soos dit is: As maatskaplike werkers môre verdwyn, is dit nie net ʼn verlies aan werk nie – dit is ʼn maatskaplike ramp.
Wie gaan dan daardie meisiekind help wat in haar eie huis gemolesteer word? Wie gaan vir Jannie help wat met sigarette gebrand word en wie se ouers niks daaraan doen nie? Wie gaan Celine beskerm wat deur haar pa geslaan is? Wie gaan Ouma Landi help wat weggestoot is na die agterkamer, waar sy net op brood en tee moet oorleef?
Dit is maklik om van ʼn afstand af te oordeel. Dit is maklik om vinger te wys as jy nie al die feite het nie. Dit is maklik om die mooi, ingekleurde narratief te glo. Dit is maklik om die een wat ʼn teiken op die rug dra te kruisig – juis omdat hulle bereid is om by die slegte goed betrokke te raak.
Dit is viktimisering. Punt.
Dit is tyd dat ons hierdie aanval aanspreek. Hierdie beroepe gaan nie verlore omdat mense uittree nie – hulle word uitgedryf. Hulle word uitgeloop en afgebreek. Hulle word nie net onderbetaal nie – hulle word ondermyn en onderwaardeer.
Die ware vraag is: kan ons bekostig om in ʼn wêreld te leef waar maatskaplike werkers nie bestaan nie?
Ons kan eenvoudig nie dit toelaat nie. Solidariteit se Maatskaplikewerkersnetwerk sal aanhou veg vir die beroep en ʼn tuiste vir maatskaplike werkers bied. Maak seker jy, as maatskaplike werker, is deel van ons netwerk – ʼn plek waar jy vry, veilig en voorspoedig in jou beroep kan wees.
Saam is ons sterker!
Van die stappe wat ons reeds neem om die bestaande probleme aan te spreek:
- • Skrywe gestuur aan die LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling in Gauteng rakende die jaarlikse subsidiedebakel (sien aangehegde skakel)
- • ʼn Regverteenwoordiger ondersoek verdere stappe om die departement aanspreeklik te hou tot ʼn volhoubare plan.
- • Skrywe is gestuur aan die SACSSP rakende die spesialisvelde wat nie geïmplementeer word nie en wat maatskaplike werkers verhoed om hul werk effektief te verrig.
- • Ons hou ʼn Toekomsberaad om oplossings vir ʼn volhoubare toekoms in die sektor te bespreek. Die beraad sal fokus op die skade aan die beroep en op befondsing. Registreer gratis by www.toekomshoop.co.za. Bywoning kan in persoon of aanlyn plaasvind.