loading
Artikels
7 maande gelede
maatskaplike-werkers-is-die-draers-van-hoop-in-n-land-van-groot-nood

Foto Krediet: OkayDeer

Maatskaplike werkers is die draers van hoop in ‘n land van groot nood

Maatskaplike werkers is die hartklop van gemeenskapsontwikkeling in Suid-Afrika. Alhoewel die uitdagings in hierdie beroep duidelik is, bly maatskaplike werkers toegewyd daaraan om ʼn verskil te maak in ʼn land wat hul kundigheid broodnodig het.

Solidariteit se Maatskaplikewerkersnetwerk gee erkenning aan die feit dat maatskaplike werkers passievol oor hulle beroep is – hulle wíl ʼn verskil in mense se lewens maak en daarom speel Solidariteit ʼn sleutelrol in die ondersteuning van hierdie belangrike beroepsgroep.

Volgens Alna de Waal, ʼn maatskaplike werker by Helpende Hand se Suid-Kaap-tak, verkeer die beroep in ʼn krisis. Sy sê: “Die maatskaplike beroep verkeer in ʼn krisis! Maatskaplike werkers verlaat die beroep weens uitbranding, finansiële uitdagings, uitdagings met organisasies se bedryfsuitgawes, hulpbronne wat uitgeput raak en organisasies wat bloot sluit. In kort – ons beroep bloei.”

Die realiteit is onvermydelik. Maatskaplike werkers word gekonfronteer met baie struikelblokke. Uitbranding en beperkte hulpbronne is daaglikse hindernisse. Tog kies hulle steeds om in Suid-Afrika te bly.

Maatskaplike werkers soos Alna bly omdat hulle verbind is tot die verbetering van lewens ten spyte van die uitdagings. “Ek het ʼn passie vir die beroep, want mense en gemeenskappe se nood raak my hart. Die kleinste oorwinning in iemand se lewe waaraan ek ʼn positiewe aandeel kan hê, verskaf aan my die grootste vreugde,” sê Alna. Vir haar gaan dit nie net oor die werk self nie, maar oor die diep bevrediging wat sy ervaar wanneer sy ʼn positiewe verskil maak in mense se lewens.

Suid-Afrika staar baie sosiale kwessies in die gesig soos middelmisbruik, misdaad, armoede, werkloosheid, en probleme wat met ouerskap verband hou, om maar net enkele voorbeelde te noem. Maatskaplike werkers is die helde in die stryd teen hierdie probleme. Alna beskryf maatskaplike werkers as mense met die vermoë om individue, gesinne en gemeenskappe te bemagtig om selfstandig te funksioneer. Hulle het die unieke vaardighede om verhoudinge te bou, empatie te betoon, en voorkomings- en intervensieprogramme te ontwikkel.

Volgens Alna beskik maatskaplike werkers oor die kundigheid om al hierdie rolle te vertolk, én om individue/gesinne/gemeenskappe in staat te stel om selfstandig te funksioneer deur hul eie potensiaal, gawes en talente te ontsluit.

Alhoewel dit soms oorweldigend kan wees om in die beroep te staan, bring die resultate wat maatskaplike werkers behaal hoop. Maatskaplike werkers in Suid-Afrika bly sterk, want hulle weet hulle vervul ʼn onontbeerlike rol. Hulle voel die impak van mense se pyn en uitdagings, maar gebruik dit as die dryfkrag om ʼn verskil te maak. Dit is om hierdie rede dat Solidariteit skaamteloos vir maatskaplike werkers sê #JyHoortHier!

“Maatskaplike werkers is emosioneel sterk, alhoewel die pyn van individue, gesinne en gemeenskappe hulle steeds raak en beweeg om positief op te tree,” sê Alna. Hierdie emosionele veerkrag is wat hulle aanspoor om voort te gaan, selfs in moeilike omstandighede.

Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk bied ʼn veilige hawe vir hierdie professionele mense deur ondersteuning, samewerking en hulpbronne tot hulle beskikking te stel.

Solidariteit verstaan die uitdagings wat hierdie beroep in die gesig staar, en wil maatskaplike werkers aanmoedig om op Solidariteit se aanlyn werkgemeenskap by mekaar te kom om mekaar te ondersteun om sáám sterker te kan staan.

In ʼn land waar die nood groot is, is maatskaplike werkers die stille helde wat dag in en dag uit werk om lewens te verander en hoop te bring aan diegene wat dit die nodigste het. Indien jy nog nie deel is van hierdie netwerk nie, klik hier of koppel jou lidmaatskap hier aan jou gratis Solidariteit-profiel. Saam sal ons vry, veilig en voorspoedig wees.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel