
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Maatskaplike werkers se regte en verantwoordelikhede gedurende hofverrigtinge
Deur Heléne Leonard
Maatskaplike werkers speel ʼn kritieke rol in die samelewing deur mense te help om persoonlike en maatskaplike uitdagings te oorkom. Hierdie beroepsmense het ʼn etiese plig om die belange van hul kliënte te beskerm, en dit sluit in om hul eie regte te handhaaf, selfs in die hof. In hierdie artikel ondersoek ons ʼn maatskaplike werker se regte gedurende hofverrigtinge en waarom dit belangrik is om hierdie regte te beskerm.
Die Grondwet en die regte van ʼn maatskaplike werker
Suid-Afrika se Grondwet, wat in 1996 aanvaar is, beskerm die regte van alle burgers van die land, insluitend maatskaplike werkers. Artikel 7 van die Grondwet bepaal dat die staat die plig het om die waardigheid van alle mense te respekteer en te beskerm. Dit beteken dat maatskaplike werkers as professionele individue ook aanspraak op hierdie grondwetlike reg kan maak om hul waardigheid te handhaaf.
Kruisondervraging in die hof
Maatskaplike werkers kan in die uitvoering van hul pligte in een of ander stadium by ʼn hofsaak, of selfs ʼn strafsaak betrokke raak. Dit is belangrik om te verstaan dat hulle nie kruisondervraging gespaar kan word nie, aangesien dit ʼn noodsaaklike deel van die regsproses is. Kruisondervraging is ʼn metode waardeur die teenpartye en hul regsverteenwoordigers die ander party se getuienis (en dit sluit ook ʼn maatskaplike werker in) kan bevraagteken rakende getuienis wat gedurende die saak gelewer is.
Die regte en verantwoordelikhede van ʼn maatskaplike werker gedurende hofverrigtinge
Die regte van ʼn maatskaplike werker gedurende hofverrigtinge is van groot belang om die eerbaarheid en geloofwaardigheid van die beroep te beskerm. Hier volg ʼn paar sleutelaspekte:
- In ʼn geval wat die maatskaplike werker gedurende kruisondervraging geboelie word deur die ander party se regsverteenwoordiger kan die maatskaplike werker se regsverteenwoordiger beswaar teen die tipe ondervraging maak.
- Die regsverteenwoordiger wat ʼn maatskaplike werker roep as getuie sal gedurende kruisondervraging beswaar kan maak teen enige onbillike of irrelevante vrae wat deur die teenparty se regsverteenwoordiger aan ʼn maatskaplike werker gemaak word.
- Maatskaplike werkers moet altyd die etiese kodes van hul professie handhaaf, selfs gedurende hofverrigtinge. Hulle mag nie toelaat dat druk of intimidasie hul oordeelsvermoë of etiese besluite beïnvloed nie.
- ʼn Maatskaplike werker het, soos ander getuies, die reg om ʼn onderbreking gedurende ondervraging te versoek indien hulle dit nodig ag om hulself te hergroepeer of om hul regsverteenwoordiger te raadpleeg.
- Die regsverteenwoordiger wat ʼn maatskaplike werker roep as getuie sal gedurende kruisondervraging beswaar kan maak teen enige hoorsê-getuienis wat deur die teenparty se regsverteenwoordiger aan ʼn maatskaplike werker gestel word.
Die beskerming van maatskaplike werkers se regte gedurende hofverrigtinge is van kardinale belang om die integriteit van die beroep en die regte van kliënte te handhaaf. Dit is noodsaaklik dat maatskaplike werkers bewus is van hierdie regte en verantwoordelikhede, en dit sal handhaaf wanneer dit nodig is.
Die samelewing vertrou op maatskaplike werkers om ʼn verskil in mense se lewens te maak, en die beskerming van hul regte in die hof verseker dat hulle hul belangrike rol kan vervul om hul kliënte se belange te dien.