loading
Artikels
1 jaar gelede
marike-burger-n-solidariteit-suksesverhaal

Foto Krediet: Solidariteit

Marike Burger: ʼn Solidariteit-suksesverhaal

Deur Ané Janse van Rensburg

Moet nooit ʼn klein begin onderskat nie. ʼn Klein klippie, kan ʼn reuse-rimpeleffek tot gevolg hê. ʼn Internskap is dalk net die begin van iets merkwaardig op jou loopbaanpad.

Ons gesels met Marike Burger, koördineerder van Solidariteit se Studente-aanbod en Jongwerkende-lidmaatskap, oor haar loopbaanpad vanaf ʼn Solidariteit intern, tot ʼn koördineerder van twee van Solidariteit se belangrikste netwerke.

Hoe het jou ervaring as intern by Solidariteit jou voorberei vir jou huidige rol as bestuurder?

Tydens my internskap het ek die geleentheid gehad om verskeie persone binne die organisasie te skadu. Elkeen het natuurlik hul eie manier van werk gehad, maar ek kon uit die kombinasie van daardie vaardighede die beste vaardighede aanleer en dit nou toepas in my werk. Ek het geleer om inisiatief te toon en verantwoordelikheid te vat vir die take en doelwitte wat bereik moes word. Ek kon sien hoe ander mense prosesse hanteer en daarom het ek nie nodig gehad om dit self te probeer uitwerk nie.

Wat was een van die grootste uitdagings wat jy moes oorkom op jou pad na ʼn bestuurspos, en hoe het jy dit hanteer?

Een van my grootste uitdagings was om selfvertroue op te bou en my leierskapsvaardighede te ontwikkel. Ek het hierdie uitdagings aangespreek deur aktief aan myself te werk. Ek het boeke gelees, deelgeneem aan ʼn mentorskapprogram en ek het myself aan nuwe uitdagings blootgestel. Ek het ook geleer om my foute te omhels en daaruit te groei. Ek het my suksesse gevier en dit het my vertroue in my eie vermoëns gegee.  

Kan jy ʼn voorbeeld deel van ʼn situasie waarin jy jouself uitgedaag het om buite jou gemaksone te beweeg om sukses te behaal? Hoe het jy dit hanteer?

Ek is gevra om ʼn voorlegging te doen vir ʼn groep uitvoerende bestuurders by die organisasie. Ek moes die strategie van ʼn produk waaraan ek nou al vir ʼn paar maande werk aan hulle voorlê. Ek het ʼn sterk selfbewustheid gehad oor my aanbiedingsvaardighede en om voor ʼn groep mense te praat. Ek het ook besef dat hierdie ʼn belangrike geleentheid is om myself te bewys asook waarom ek die beste kandidaat vir die pos is. Ek het alle moontlike vrae waaraan ek kon dink wat die gehoor kan hê neergeskryf as deel van my voorbereiding. Dit het natuurlik my aanbieding ook versterk. Tydens die aanbieding het ek myself aangemoedig om die situasie te aanvaar en te fokus op dit wat ek wou oordra eerder as om te veel te bekommer oor my eie ongemak. Hierdie ervaring het my verseker laat groei en ek het selfvertroue in my eie vermoëns ontwikkel.  

Wat is jou persoonlike filosofie oor leierskap, en hoe probeer jy dit in jou dag-tot-dag interaksies met jou span implementeer?

Ek glo dat jy ʼn positiewe invloed op mense en situasies moet uitoefen met die doel om die organisasie en die span na ʼn gemeenskaplike doel te lei. Dit behels diensbaarheid, empatie, integriteit en die vermoë om ʼn inspirerende visie te kommunikeer om mense te motiveer. Daarom glo ek aan ʼn deursigtige benadering tot alle kommunikasie binne my span. My span weet ook dat daar altyd ruimte is vir groei en dat daar nie iets is soos ʼn dom vraag nie. Hulle het die ruimte om foute te maak en te leer uit daardie foute. Elkeen van ons het ʼn rol wat ons in die span speel en elkeen bring hulle eie sterkpunte na die span toe.

Hoe sien jy die toekoms van dié netwerke onder jou leierskap, en watter inisiatiewe is jy van plan om te neem om groei en sukses te bevorder?

Ek glo dat wanneer ek oor vyf jaar gaan terugkyk na wat ek ontwikkel het i.t.v. die aanbod sowel as hoe die mark lyk, sal dit ʼn mooi suksesstorie wees. Ek is nie iemand wat sommer net opgee nadat ek “nee” vir ‘n antwoord gekry het nie. Ek glo dat daardie “nee” jou in ʼn ongemaklike plek plaas waar jy meer kreatief oor die situasie kan dink. Ek wil graag die regte vrae op die regte tye vra om sodoende by te kan dra tot die sukses van my afdeling. Ek wil my span motiveer om die beste weergawe van hulself te wees, om vir hulle die ruimte te gee om kreatief te wees sodat hulle met innoverende idees vorendag kan kom en ek weet dít gaan veroorsaak dat al ons doelwitte bereik word. Ek wil graag sien dat ons organisasie ʼn huishoudelike naam word en dat almal weet wie ons is, wat ons bied en waarvoor ons staan. In terme van inisiatiewe wat ons wil neem, is al wat ek wil sê: Hou hierdie spasie dop!

Wat was een van die grootste lesse wat jy geleer het in jou vroeë jare in die organisasie, en hoe het dit jou gehelp om te groei in jou huidige rol as bestuurder?

Een van die grootste lesse wat ek geleer het is die belangrikheid van veerkragtigheid. Dit het my gehelp om ʼn sterk geestelike uithouvermoë te ontwikkel en ʼn optimistiese ingesteldheid te handhaaf, selfs in moeilike tye. Hierdie vaardighede het my gehelp om deur verskeie uitdagings te navigeer en om ʼn effektiewe en veerkragtige bestuurder te word wat kan aanpas en floreer in ʼn dinamiese sake-omgewing. In enige sake-omgewing is dit belangrik om aanpasbaar te kan wees.

Wat is jou advies vir jong mense wat strewe na ʼn leierskapsposisie in die sakewêreld? Hoe kan hulle hulself voorberei en groei in hulle loopbaan?

My advies sal wees om te streef na uitnemendheid in alles wat jy doen en bereid te wees om te leer en te groei deur elke ervaring. Groeipyne is sleg, maar omhels dit vir wat dit is en onthou dat dit net ongemak veroorsaak. Wanneer jy weer in so situasie kom sal jy verbaas wees om te sien met hoeveel selfvertroue jy dit kan aanpak omdat jy gegroei het. Ontwikkel goeie kommunikasievaardighede en leer hoe om ʼn goeie luisteraar te wees. Neem deel aan ʼn mentorskapprogram en wees bereid om van ander te leer. Wees veerkragtig in die gesig van uitdagings en aanvaar foute as deel van die leerproses. Wees eerlik en standvastig in jou waardes, en bo alles, wees ʼn diensbare leier wat mense inspireer en motiveer om die beste weergawe van hulself te wees.

ʼn Internskap kan baie deure vir jou oopmaak. Registreer vandag nog jou gratis profiel by Solidariteit, en ontsluit ʼn wêreld van beroepsgeleenthede.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel