Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
18 uur gelede
media24-afleggings-dalk-veel-groter-solidariteit-vra-vir-groter-blootlegging

Foto Krediet: Pexels

Media24-afleggings dalk veel groter; Solidariteit vra vir groter blootlegging

Vrae bestaan nou oor die volle omvang van Media24 se herstruktureringsplanne ná uiteenlopende artikel 189A-kennisgewings vandeesweek aan geaffekteerde personeel gestuur is.

Gevolglik versoek Solidariteit Media24 om met die volledige prentjie en syfers vorendag te kom om duidelikheid oor die situasie te verskaf sodat die ware impak vasgestel kan word.

Aanvanklike afleggingskennisgewings aan geaffekteerde personeel het melding gemaak van nagenoeg 126 poste wat geraak kan word en verwys veral na werknemers op sport- en leefstylredaksies.

Volgens Johan Roos, arbeidsverhoudinge-organiseerder by Solidariteit, bestaan die vermoede nou dat die getal geaffekteerde werknemers veel groter kan wees as wat oorspronklik deur Media24 vermeld is.

“Kennisgewings wat na verskillende afdelings gestuur is verskil en skep verwarring en dit is vir ons duidelik dat hierdie veel wyer strek as wat aanvanklik aangedui is.

“Ons wil kan sien watter personeel in watter afdelings geraak word, van sport- en leefstylredaksies tot die sakenuusredaksies, asook verkoopspersoneel en enige ander werknemers. Pleks van vae aanduidings benodig ons die volledige en deursigtige prentjie van die afleggings wat vir die organisasie beplan word,” sê Roos.

Solidariteit is die grootste vakbond by Media24 en is bekommerd oor nóg ʼn afleggingsproses wat gewone werknemers raak eerder as topbestuur, wie se onverantwoordelike bestuur en redaksionele besluite die maatskappy al verder in die moeilikheid dompel.

Solidariteit het gevolglik ook ʼn beroep op Media24 gedoen om sy volledige strategiese en finansiële beplanning, sowel as die salarisse van senior personeel en redakteurs bloot te lê. Dit is omdat
Solidariteit nie glo dat nóg afleggings die antwoord is vir voortslepende bestuursprobleme nie.

Intussen gaan Solidariteit ook lede bystaan wat geraak word deur die artikel 189A-proses by Novus Media en die grootskaalse afleggings wat eMedia by sy eNCA-redaksie beplan, waar tot 171 poste in die slag kan bly.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel