
Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Media24 moet aanbod vir Beeld, Rapport en ander éérs oorweeg – Solidariteit
Solidariteit doen ’n ernstige beroep op Media24 om die proses om koerante soos Rapport, Beeld, Daily Sun en City Press te sluit, éérs te staak.
Volgens ’n woordvoerder van Solidariteit is die vakbond bewus van die aanbod wat die mededingende Caxton-groep gemaak het om die genoemde titels te koop.
Caxton het reeds die Mededingingskommissie genader om die sluiting van titels en die verkoop van die On the Dot-medialogistieke-onderneming teen te staan. Solidariteit vra ook dat hierdie litigasieproses eers ten volle afgehandel moet word vóór ’n proses oor die sluiting verder gevoer word, en Solidariteit sal dit ook oorweeg om self tot dié proses toe te tree.
Volgens Johan Roos, organiseerder van Solidariteit se Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk, is daar veel meer faktore as net Media24 se potensiële wins om hier in ag te neem.
“Die besluit om hierdie koerante te sluit, gaan verreikende gevolge vir die ganse medialandskap in Suid-Afrika inhou en beslis ’n groot leemte laat. Daarom sê ons die aanbod wat op die tafel is, verdien ten minste ernstige oorweging.
“Hiér is dalk ’n uitweg om Beeld, Rapport en ander van ondergang te red en dit sou billik wees om ten minste na die aanbod te luister.
“Is dit dalk ’n reddingsboei vir hierdie ikoniese publikasies? Kan dit dalk die loopbane van ’n groot getal lojale werknemers red? As die antwoord daarop moontlik ‘ja’ is, waarom sê Media24 nog verder ‘nee’?” vra Roos.
Solidariteit glo dit sal regverdig teenoor alle partye wees om eers remme aan te slaan met die proses sodat die aanbod op meriete deur alle betrokkenes beoordeel kan word as ’n alternatief om afleggings te verhoed.
Die beduidende rol wat hierdie koerante in die Suid-Afrikaanse medialandskap speel, word ook deur Solidariteit erken en daarom is sy regspan opdrag gegee om stappe te doen indien Media24 nie in die beste belang van sy werknemers én die koeranttitels sou optree nie.