Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Meer As 60 Jaar Lid Van Solidariteit: Boksburg Se ‘Familieman Van Staal’, Frans Swarts, Ontvang Eerbewys
Pieter Jordaan
Standvastigheid.
Wanneer Frans Swarts (78) van Boksburg Solidariteit só beskryf, maak dit verál saak.
Dit is juis omdat hierdie eertydse Yskor-staalwerker as’t ware die mylpaal-man is dat sy woorde gewig dra. Solidariteit het pas ʼn erepenning aan Frans oorhandig om sy meer as 60 jaar se Solidariteit-lidmaatskap te vier.
Sestig jaar!
Frans verwys sélf na hierdie “standvastigheid” wanneer hy terugblik op dekades van getroue arbeid en diens in die een bedryf wat hy gekén het. Vyf-en-dertig jaar van sy lewe is aan harde werk in die staalbedryf gewy.
Hy praat met trots oor hoe sy jare as blouboordjiewerker vier groot bestuursveranderinge omvat het; oor kollegas wat gekom en gegaan het, maar wat dikwels ook soos familie geword het; en oor volharding, selfs in die aangesig van soms ongemaklike aanpassings en veranderings wat in ʼn witboordjie-raadsaal aangekondig is, dikwels met die swaai van ‘n pen.

Van jongs af het sy lidmaatskap by die Mynwerkersunie (MWU) – water later Solidariteit sou word – dié gebore Boksburger geborgenheid gegee, eers as jong werker, lank voor Yskor die destydse Dunswart Staalmeule aan die Oos-Rand oorgeneem het.
Frans het toe nog fiets gery werk toe en was as walser (rougher) verantwoordelik vir die rol van staalplate by die mediumstaalmeule.
“Ek was maar 17 jaar oud. My eerste werksdag was ʼn nagskof óp my verjaarsdag – 1 September 1965,” vertel hy vanuit sy woonkamer, met feitelike presisie en beskryf daardie vuurdoop op ʼn werkperseel skaars sewe kilometer weg van waar hy en sy vrou, Miemmie , steeds woon.

“Ons is vanjaar 57 jaar getroud,” vul Frans die belangrikste besonderhede in en vat-vat besorgd na sy vrou se hand, waar sy langs hom in ʼn leunstoel sit.
Frans se herinneringsvlug word onderbreek deur nog ʼn vliegtuig wat laag oor die dakke dreun, gevolg deur ʼn motorfiets wat ongeskik hard in die straat af deur die ou woonbuurt brul. Die huis staan in ʼn deel van Boksburg wat oor dekades heen self aansienlike veranderinge ondergaan het.
Hierdie egpaar was getuies van hoe etlike huise in die omgewing gesloop is om plek te maak vir die bou van, onder meer, Boksburg se besige Rondebultweg. Die Swartsse se huis staan egter steeds vas – saam met soveel goeie herinneringe van vroeëre, stiller dae.
“In daardie jare het almal álmal hier rond geken. Bure was maar net altyd beskikbaar en soms het ons die straat toegemaak en sommer ʼn straatbraai vir almal in die blok gehou,” onthou hulle Boksburg se strate van die sestiger- en sewentigerjare.

Dit was ʼn stoomafblaas-tuiskoms ná ʼn veeleisende dag in die wêreld van staal: hoogoonde, putoonde, uitgloeiing en aftapping, met geharde vakmanne soos smelters, gieters en walsers soos Frans in beheer.
Voor én ná die Yskor-oorname van 1984 was Frans altyd daar – naderhand as ʼn oondman by die smeltoonde van die kleinmeule.
Hy dink vir ʼn oomblik na oor die oonde en gryp dan terug na ʼn ou en gunstelingsêding in hul huis:
“Hulle het my na die warm plek toe gestuur!” en dan lag ons saam.
By die werk was hy wel vir die meeste mense nie “Frans Swarts” nie, maar “Fox”.
“Van die ouens het my sommer ‘Foxy’ genoem,” vertel hy terwyl hy trots na sy agteroorgekamde blonde hare wys, vasgevang in ʼn foto in ʼn vaktydskrif van 1973.
“Dis ek daai,” sê hy oor die swart-en-wit-foto waarin hy die smeltoond se werking aan ʼn Duitse ingenieur verduidelik.
“Ja, dit was baie harde werk. Vir 13 jaar lank het ek byvoorbeeld net 12 uur lange skofte gewerk. En boetie, as die ou wat jou aflos nie inkom nie, moet jy maar vir sý 12 uur óók instaan, en dan is dit wéér tyd vir jou eie skof. Dis 36 uur aaneen!
“Jy sal dit nou dalk nie glo nie, maar dit hét gebeur. Tog onthou ek dit as gelukkige tye toe almal by die werk soos ʼn familie was.
“Dit was vaardige mense wat hul werk góéd geken het. Ons almal was ook lede van die unie – wat nou Solidariteit is – ook toe ek later as hooflaaimeester by die pakhuis begin werk het.
“Ek was later ook vir omtrent 10 jaar lank ʼn shop steward vir Solidariteit. Ek onthou nog hoe ek soms Pretoria toe gegaan het om daar oor salarisse te onderhandel,” vertel Frans.
Aftrede het wel vir “Fox” té vroeg gekom. Op 55 is hy skielik as ʼn pensioenaris beskou. Dit terwyl staalwerk en sy roeping hom oor 35 jaar juis daardie standvastigheid gegee het wat hy so koester.

Só was hy meteens, ná die ouderdom van 55, weer ʼn werksoeker. Dit is in sy aard om maniere te soek om sy vaardighede te gebruik om tot die gemeenskap by te dra.
Stilsit was nie ʼn opsie nie, en toe ʼn sakeman “op die dorp” vir hom ʼn pos aanbied, het hierdie “pensioenaris” sonder om te huiwer ja gesê om die land vol te ry om inspeksies van uitvoerprodukte te doen.
Hy spog graag dat sy Opel Astra uiteindelik 650 000 kilometer op die klok gehad het.
“Regdeur hierdie tye, en toe ek later ophou werk het, het ek ʼn lid van Solidariteit gebly. Want Solidariteit beteken (vir ons) nou ook baie, maar op ʼn ander manier.
“Dit staan vir Afrikaners. Dit staan vir vooruitgang,” sê Frans. Hy is immers die trotse pa van vier, oupa van sewe en oupagrootjie van twee – klein Mason en klein Liria.
Miemmie gryp die geleentheid aan en staan op om die foto’s uit die vertoonkas in die voorportaal te gaan haal. “Liria woon nou saam met haar ouers in Nederland,” sê sy en wys na ʼn groot familie op ʼn gelamineerde collage van foto’s wat vier generasies verteenwoordig.
Dis wie húlle is.
Dis vir hulle wat Pa Frans deur winter en somer sy alles gegee het, sonder dat hy dit self in soveel woorde sal sê. Sy vrou brei nietemin graag oor sy toewyding uit en voeg dan by: “Lojaliteit by die werk lyk deesdae soms so … opsioneel.”
Hierdie is mense wat nog glo in die waarde van standvastigheid. Hulle koester dit in die uitvoering van dagtake, in pligte by die huis, in verantwoordelikhede teenoor geliefdes en die gemeenskap. En hulle koester dit, deur al die seisoene en stories deur, in Solidariteit-lidmaatskap wat oor 60 jaar strek.
Dit is deel van hulle – onwrikbaar en lojaal, byna soos soliede staal.
